LUKAS 12:1-21

LUKAS 12:1-21 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus met die Fariseërs en die skrifgeleerdes gepraat het, het daar ander mense ook gekom. Daar was so baie mense dat hulle mekaar raakgetrap het. Jesus praat toe eers met sy dissipels. Hy het gesê: “Julle moet oppas vir die Fariseërs, hulle is vals. Hulle is soos suurdeeg, 'n mens sien nie dat dit werk nie. Mense kan probeer om dit weg te steek dat hulle vals is, maar God sal dit vir almal wys. Mense doen nou dinge in die geheim, maar God sal vir almal sê wat dit is. Dieselfde sal gebeur wanneer julle die goeie boodskap oor My vir die mense bring. Alles wat julle nou oor My in die donker sê omdat julle bang is, sal God vir almal laat weet wanneer dit lig is. En alles wat julle nou oor My vir iemand in 'n huis saggies fluister in sy oor, sal God vir almal laat weet. Mense sal dan op die huise se dakke staan en skree en dit vir almal sê.” “Julle is my vriende. Daarom sê Ek vir julle dat julle nie bang moet wees vir mense nie. Hulle kan net julle liggame doodmaak. Maar daarna kan hulle niks meer aan julle doen nie. Ek sal vir julle wys vir wie julle bang moet wees. Julle moet net vir God bang wees, want wanneer julle dood is, dan kan Hy julle in die hel laat brand. Ja, Ek sê vir julle, julle moet vir Gód bang wees. 'n Mens kan vyf mossies vir net twee sent verkoop. Hulle is baie goedkoop, maar God vergeet nie een van daardie klein voëltjies nie. Julle is vir God baie belangriker as baie mossies. God weet presies hoeveel hare op elke mens se kop is. Daarom moet julle nie bang wees vir mense nie.” Jesus het ook gesê: “Ek sê vir julle, as iemand nie bang is om vir mense te sê hy behoort aan My nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, ook vir God se engele sê daardie persoon behoort aan My. Maar as iemand bang is om vir mense te sê hy behoort aan My, dan sal Ek ook vir God se engele sê daardie persoon behoort nie aan My nie. As iemand iets sê teen My, die Seun van die mens, dan sal God dit vergewe. Maar as iemand iets sleg sê teen die Heilige Gees, dan sal God dit nie vergewe nie. En wanneer die mense julle na die Joodse regters in die sinagoges vat of wanneer hulle julle hof toe vat, na heidense regters toe, dan moet julle nie bekommerd wees oor wat julle moet antwoord of wat julle moet sê nie. Die Heilige Gees sal vir julle leer wat julle dan moet sê.” Daar was baie mense, en een van hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, my broer erf baie goed. Sê vir hom hy moet vir my ook daarvan gee.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Man, Ek het nie gekom om regter oor julle te wees of om te besluit wat elkeen moet erf nie.” Toe sê Jesus vir die mense: “Julle moet oppas, julle moenie meer en meer goed wil hê nie, want dit maak nie saak hoeveel goed 'n mens het nie, dit is nie belangrik vir jou lewe nie.” Toe vertel Jesus vir hulle 'n gelykenis. Hy het gesê: “Daar was 'n ryk man wat baie koring afgesny het. Toe hulle die koring begin afsny, het hy met homself gepraat en gesê: ‘Wat sal ek doen? Ek het nie genoeg plek waar ek al die koring kan bêre nie.’ Toe sê hy: ‘Ek weet wat ek sal doen: Ek sal my stoorkamers afbreek en nuwe stoorkamers bou wat groter is. Dan sal ek al my koring en ander goed daarin bêre. En dan sal ek vir myself sê ek het nou baie goed wat ek gebêre het vir baie jare wat kom, nou kan ek lekker gaan rus, ek kan eet en drink en die lewe geniet.’ Maar toe het God vir die man gesê: ‘Jy is 'n dwaas, jy sal vannag sterf. En al daardie goed van jou wat jy so veilig weggebêre het, wat sal nou daarvan word?’ So gaan dit met 'n mens wat vir homself geld en mooi goed bymekaarmaak op die aarde, maar nie ryk is by God nie.”

LUKAS 12:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE duisende van die skare ondertussen saamkom, sodat hulle mekaar vertrap het, begin Hy aan sy dissipels te sê: Pas veral op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is geveinsdheid. En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word; en wat julle in die oor gepraat het in die binnekamers, sal op die dakke verkondig word. EN Ek sê vir julle, my vriende: Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie; maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom! Word vyf mossies nie vir twee stuiwers verkoop nie? En nie een van hulle is voor God vergeet nie. Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies. En Ek sê vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook bely voor die engele van God. Maar hy wat My verloën voor die mense, sal verloën word voor die engele van God. En elkeen wat 'n woord teen die Seun van die mens sal spreek, dit sal hom vergewe word; maar vir hom wat gelaster het teen die Heilige Gees, sal dit nie vergewe word nie. En wanneer hulle jul sal bring voor die sinagoges en die owerhede en die gesaghebbers, moet julle jul nie kwel oor hoe of waarmee julle jul sal verdedig, of wat julle sal sê nie; want die Heilige Gees sal julle in dieselfde uur leer wat julle moet sê. EN een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel. Maar Hy antwoord hom: Mens, wie het My as 'n regter of deler oor julle aangestel? En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie. Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: 'n Ryk man se grond het goed gedra. En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s'n sal dit wees? So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.

LUKAS 12:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die mense het intussen by die duisende saamgedrom en mekaar vertrap. Toe het Jesus begin praat en Hom in die eerste plek tot sy dissipels gerig: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is hulle huigelary. Daar is niks bedek wat nie onthul sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word.” “Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees. “Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” “Ek sê vir julle: Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook openlik uitspreek voor die engele van God. Maar hy wat My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word. “Elkeen wat teen die Seun van die mens iets sê, kan vergewe word; maar hy wat teen die Heilige Gees laster, kan nie vergewe word nie. “Wanneer hulle julle voor sinagoges en owerhede en gesagvoerders bring, moet julle julle nie bekommer oor hoe of waarmee julle julle gaan verdedig of wat julle gaan sê nie, want die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat gesê moet word.” Iemand uit die menigte sê toe vir Jesus: “Meneer, sê vir my broer hy moet die erfenis met my deel.” Maar Hy antwoord hom: “Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?” Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: “'n Ryk man se grond het goed gedra. Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”

LUKAS 12:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Terwyl die skare in hulle duisende saamdrom, sodat hulle mekaar byna vertrap, begin Jesus toe eers met sy dissipels praat: “Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs, dit is, hulle skynheiligheid. Daar is niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. Daarom sal alles wat julle in die donker sê, in die lig gehoor word; en wat julle vir mekaar in julle slaapkamers in die oor fluister, sal van die dakstoepe af verkondig word.” “My vriende, Ek sê vir julle: Moenie hulle vrees wat die liggaam doodmaak, en daarna niks verder kan doen nie. Maar Ek sal vir julle aantoon wie julle moet vrees: Vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, die mag het om iemand in Gehenna te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees. Word vyf mossies nie vir twee assarius verkoop nie? En nie een van hulle is vergete voor God nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies. ” “Ek sê vir julle, elkeen wat My voor die mense bely, hom sal die •Seun van die Mens ook bely voor die engele van God. Maar wie My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word. Elkeen wat iets teen die Seun van die Mens sê, dit sal hom vergewe word; maar wie teen die Heilige Gees laster, sal nie vergewe word nie. En wanneer hulle julle voor die •sinagoges en die owerhede en die maghebbers bring, moet julle nie bekommerd wees oor wat julle ter verdediging moet sê nie, want die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat julle moet sê.” Iemand uit die skare het vir Hom gesê: “Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.” Maar Hy antwoord hom: “Mens, wie het My as regter of bemiddelaar oor julle aangestel? ” Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.” Daarna het Hy vir hulle die volgende gelykenis vertel: “'n Sekere ryk man se plaas het 'n goeie oes opgelewer. Hy het homself toe afgevra, ‘Wat moet ek doen? Want ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie.’ Toe sê hy, ‘Dit is wat ek sal doen. Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Daarin sal ek al my graan en my goedere opgaar. Dan sal ek vir myself sê, Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.’ Maar God het vir hom gesê, ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jou lewe opgeëis word. En wat jy bymekaargemaak het, aan wie sal dit dan behoort?’ So gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaarmaak, en nie in God ryk is nie.”

LUKAS 12:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Intussen, toe daar 'n ontelbare menigte mense bymekaar was, sodat hulle op mekaar getrap het, het Hy eerstens vir sy dissipels begin sê: Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is skynheiligheid. Want daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie; ook nie weggesteek nie, wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die duisternis gespreek het, sal in die lig gehoor word; en wat julle in die oor in die binnekamer gespreek het, sal op die dakke verkondig word. En ek sê vir julle, my vriende: Wees nie bevrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer het wat hulle kan doen nie. Maar Ek sal julle vooraf waarsku vir wie julle moet vrees: Vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, mag het om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle: Vrees hom. Word vyf mossies nie vir twee rande verkoop en nie een van hulle is voor God vergeet nie? Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies. Ek sê ook vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook bely voor die engele van God. Maar hy wat My verloën voor die mense, sal verloën word voor die engele van God. En elkeen wat 'n woord teen die Seun van die mens spreek, hom sal dit vergewe word; maar vir hom wat teen die Heilige Gees laster, sal dit nie vergewe word nie. En wanneer hulle julle na die sinagoges en na die magistrate en magte bring, moet julle nie dink hoe of wat julle sal antwoord of wat julle sal sê nie. Want die Heilige Gees sal julle in dieselfde uur leer wat julle behoort te sê. En een van die skare sê vir hom: Meester, spreek met my broer dat hy die erfdeel met my moet deel. En hy sê vir hom: Man, wie het my 'n regter of 'n skeidsregter oor jou aangestel? En Hy sê vir hulle: Pas op en pas op vir hebsug, want 'n mens se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie. En Hy het 'n gelykenis aan hulle vertel en gesê: Die grond van 'n sekere ryk man het oorvloedig voortgebring. En hy het by homself gedink en gesê: Wat moet ek doen, omdat ek geen plek het om my vrugte te gee nie? En hy sê: Dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou; en daar sal ek al my vrugte en my goed gee. En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat vir baie jare weggelê is; neem gerus jou, eet, drink en wees vrolik. Maar God sê vir hom: Jou dwaas, in hierdie nag sal jou siel van jou geëis word; So is hy wat vir homself skatte bymekaarmaak en nie ryk is by God nie.

LUKAS 12:1-21 Die Boodskap (DB)

Intussen het duisende mense na Jesus toe gestroom. Tussen die gedrang deur sê Hy vir sy dissipels: “Julle moet lig loop vir die Fariseërs. Met hulle skewe leerstellings maak hulle almal heeltemal deurmekaar. Hulle is ’n klomp skynheiliges. “Gelukkig kan mense se leuens nooit die waarheid in ’n bottel toeskroef nie. Die een of ander tyd sal die waarheid uitkom. Onthou: wat julle ook al in die geheim sê, sal wel bekend word. Kort voor lank word julle diepste geheime sommer nog van die dakke af uitbasuin. Wees daarom baie versigtig wat julle sê.” “Sê My, vir wie dink julle moet ’n mens die bangste wees, vir mense of vir God? Kyk ’n bietjie: Mense kan miskien jou liggaam doodmaak, maar dis al. God kan baie meer as dit doen: Hy kan jou in die doderyk gooi. En dit is regtig iets om voor bang te wees! “Wat dink julle sal iemand vir vyf mossies betaal? Hoogstens ’n paar sent. Hulle is nie veel werd nie. Maar tog gee God vir hulle om. Weet julle, God gee nog baie meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik. Ja, Hy gee so baie vir julle om dat Hy elke haar op julle elkeen se kop getel het. Moet daarom nie bang wees nie. Julle is kosbaar vir God. “Hou aan om oor My te praat in die wêreld. Dan sal Ek julle ’n baie groot eer aandoen. Dan sal Ek, die Seun van die mens, ook oor julle praat daar in die hemel waar God se engele is. Maar aan die ander kant, as julle tussen ander mense maak of julle My nie ken nie, sal Ek presies dieselfde met julle doen. Dan sal Ek ook daar voor die engele maak of Ek julle nie ken nie. “Weet julle, daar is niks wat mense aan My kan doen of oor My kan sê wat so sleg is dat God hulle dit nie kan vergewe nie. Maar daar is wel een ding wat God glad nie kan verdra nie. Dit is as mense die rug draai vir die Heilige Gees se werk. Wanneer die Gees aan die werk is en mense sê dis die duiwel wat aan die werk is, is hulle in baie groot moeilikheid by God. Hy sal hulle dit nooit vergewe nie. “Wanneer die mense julle baie sleg behandel omdat julle my volgelinge is, moet julle nie moed opgee nie. As hulle julle voor die hof sleep of voor allerhande hooggeplaastes, hoef julle julle nie te bekommer hoe julle julle gaan verdedig nie. Los maar die advokate en die prokureurs uit. Die Heilige Gees sal persoonlik daar by julle wees om julle te verdedig. Wanneer julle beurt kom om iets te sê, sal die Gees vir julle al die regte woorde gee wat julle moet sê.” Iemand uit die skare sê toe vir Jesus: “Goeie Leermeester, help my asseblief met my groot probleem. My pa is onlangs dood en nou wil my broer nie ons erfgeld met my deel nie. Hy hou alles net vir homself.” “Hoor hier, dit is nie my werk om as regter in julle familietwiste op te tree of julle geldsake op te los nie,” het Jesus vinnig geantwoord. Toe sê Jesus vir die mense: “Hoekom hardloop julle die hele tyd net agter geld aan? Die lewe gaan tog nie daaroor nie. ’n Mens se geluk hang mos nie af van hoeveel geld jy op jou naam het nie. Kom Ek verduidelik wat Ek bedoel: Eendag was daar ’n baie ryk man. Hy was ’n groot boer wat die een goeie oes na die ander op sy lande gehad het. Op ’n dag dink hy toe by homself: ‘Ek het ’n probleem. My skure is nie meer groot genoeg om al my oeste in te bêre nie.’ “Na ’n rukkie sê hy vir homself: ‘Nou weet ek. Ek gaan al my skure afbreek. Dan bou ek baie groter skure in hulle plek - groot genoeg om al my oeste in te bêre. En dan kan ek sommer al my kosbare besittings waarvoor ek nie meer plek in my huis het nie daar toesluit. Daarna kan ek agteroor sit en die lewe geniet. Ek kan myself op die skouer klop en sê: Mooi so! Jy het nou so baie geld en besittings dat jy dit nooit kan uitleef nie. Gaan geniet nou jou lewe. Hou partytjie. Gee jou oor aan drank en plesier. Doen net wat jy wil. Jy verdien dit mos.’ “Maar hierdie ryk man het ’n verskriklike groot fout gemaak. Hy het God buite rekening gelaat. Op daardie selfde dag nog het God vir hom gesê: ‘Jou arme dwaas! Vannag nog sal jy doodgaan. En wat word dan van al jou baie besittings? Jy kan dit tog nie saam met jou na die doderyk toe vat nie.’ “Weet julle, so gaan dit met almal wat die verkeerde skatte bymekaarmaak. Die doderyk is die enigste beloning vir al hulle harde werk. Gee julle lewens eerder aan God. Maak vir julle skatte by Hom bymekaar. Dan wag daar ’n splinternuwe lewe op julle.”

LUKAS 12:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Intussen het die skares aangegroei tot duisende wat rondgemaal en mekaar vertrap het. Jesus het Hom eerstens tot sy dissipels gerig en hulle gewaarsku: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, naamlik hulle skynheiligheid. Die tyd kom dat alles openbaar sal word; alles wat geheim gehou word, sal onthul word. Wat julle ook al in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word, en wat julle agter geslote deure gefluister het, sal van die dakke af geskree word vir almal om te hoor!” “Ek sê vir julle, my vriende, moenie bang wees vir dié wat julle wil doodmaak nie. Hulle kan net die liggaam doodmaak; hulle kan niks meer aan julle doen nie. Maar Ek sal julle sê wie om te vrees: Julle moet ontsag hê vir God wat die mag het om mense dood te maak en hulle daarna in die hel te gooi. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees. “Wat kos vyf mossies? ’n Paar sent? Tog vergeet God nie één van hulle nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie bang wees nie; julle is vir Hom meer werd as ’n hele swerm mossies.” “En Ek verseker julle hiervan: As enigiemand My openlik hier op aarde erken, sal Ek, die Seun van die Mens, daardie persoon openlik voor God se engele erken. Maar as enigiemand My hier op aarde verloën, sal Ek dié persoon voor God se engele verloën. Nietemin sal dié wat iets teen My, die Seun van die Mens, sê, vergewe word, maar enigeen wat teen die Heilige Gees laster, sal nooit vergewe word nie. “En wanneer julle in die sinagoges en voor heersers en owerhede verhoor word, moenie julle bekommer oor wat julle ter verdediging sal sê nie, want die Heilige Gees sal julle leer wat nodig is om te sê terwyl julle daar staan.” Toe het iemand uit die skare geroep: “Leermeester, sê asseblief vir my broer om ons pa se boedel met my te deel.” Jesus het geantwoord: “Vriend, wie het My as regter oor julle aangestel om oor sulke dinge te besluit?” Toe het Hy gesê: “Pas op! Moenie gierig wees nie. Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie.” Toe vertel Hy ’n gelykenis: “’n Ryk man het ’n vrugbare plaas besit wat goeie oeste opgelewer het. Hy het toe by homself gewonder: ‘Wat moet ek doen? Ek het nie meer stoorplek vir die oes oor nie.’ Hy het toe gesê: ‘Ek weet! Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Dan sal ek genoeg plek hê om alles te berg. En ek sal terugsit en vir myself sê: Jou gelukkige kêrel! Jy het genoeg gebêre vir die jare wat voorlê. Ontspan nou! Eet, drink en wees vrolik!’ “Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jy sterf. En alles wat jy bymekaargemaak het, wie sal dit kry?’ “Ja, ’n mens is ’n dwaas as jy net aardse rykdom versamel, maar nie ’n ryk verhouding met God het nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid