Lukas 12:1-21

Lukas 12:1-21 AFR20

Terwyl die skare in hulle duisende saamdrom, sodat hulle mekaar byna vertrap, begin Jesus toe eers met sy dissipels praat: “Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs, dit is, hulle skynheiligheid. Daar is niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. Daarom sal alles wat julle in die donker sê, in die lig gehoor word; en wat julle vir mekaar in julle slaapkamers in die oor fluister, sal van die dakstoepe af verkondig word.” “My vriende, Ek sê vir julle: Moenie hulle vrees wat die liggaam doodmaak, en daarna niks verder kan doen nie. Maar Ek sal vir julle aantoon wie julle moet vrees: Vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, die mag het om iemand in Gehenna te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees. Word vyf mossies nie vir twee assarius verkoop nie? En nie een van hulle is vergete voor God nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies. ” “Ek sê vir julle, elkeen wat My voor die mense bely, hom sal die •Seun van die Mens ook bely voor die engele van God. Maar wie My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word. Elkeen wat iets teen die Seun van die Mens sê, dit sal hom vergewe word; maar wie teen die Heilige Gees laster, sal nie vergewe word nie. En wanneer hulle julle voor die •sinagoges en die owerhede en die maghebbers bring, moet julle nie bekommerd wees oor wat julle ter verdediging moet sê nie, want die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat julle moet sê.” Iemand uit die skare het vir Hom gesê: “Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.” Maar Hy antwoord hom: “Mens, wie het My as regter of bemiddelaar oor julle aangestel? ” Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.” Daarna het Hy vir hulle die volgende gelykenis vertel: “'n Sekere ryk man se plaas het 'n goeie oes opgelewer. Hy het homself toe afgevra, ‘Wat moet ek doen? Want ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie.’ Toe sê hy, ‘Dit is wat ek sal doen. Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Daarin sal ek al my graan en my goedere opgaar. Dan sal ek vir myself sê, Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.’ Maar God het vir hom gesê, ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jou lewe opgeëis word. En wat jy bymekaargemaak het, aan wie sal dit dan behoort?’ So gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaarmaak, en nie in God ryk is nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid