LUKAS 10:1-12

LUKAS 10:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het nog 72 ander dissipels gekies. Hy het hulle twee-twee voor Hom gestuur na al die stede en plekke waarnatoe Hy self later wou gaan. Jesus sê toe vir die 72 dissipels: “Daar is baie ryp koring om af te sny, maar daar is baie min werkers wat kan help om dit te doen. Die ryp koring is die mense wat aan die Here behoort. Julle moet bid tot Hom, en julle moet vra dat Hy werkers sal stuur om sy ryp koring af te sny. Gaan nou, maar onthou, Ek stuur julle na die mense in die wêreld, en julle sal wees soos skape wat tussen gevaarlike wolwe is. Moenie beursies saamneem nie. Julle moet ook nie rugsakke en sandale saamneem nie. En julle moenie tyd mors en vir almal op die pad vra hoe dit gaan nie. Wanneer julle in 'n huis kom, dan moet julle eers sê: ‘God gee vir hierdie huis vrede.’ “As daar iemand in die huis woon wat vrede wil hê, dan sal die vrede by hom bly. Maar as daar niemand in die huis is wat die vrede wil hê nie, dan sal God nie vir daardie huis vrede gee nie. Julle moet bly by die mense wat God se vrede wil hê, en julle moet eet en drink wat hulle vir julle gee. Julle moet onthou: “ Wanneer iemand werk, dan moet jy hom beloon. “Moenie skuldig voel wanneer die mense goed is vir julle nie, want onthou, julle werk vir die Here. Julle moenie elke maal in 'n ander huis gaan bly nie. As julle in 'n stad kom en die mense sê julle is welkom, dan moet julle eet wat die mense vir julle gee. Julle moet die siek mense in daardie stad gesond maak. Julle moet vir hulle sê: ‘Die tyd is naby wanneer julle sal weet God is Koning.’ Maar as julle in 'n stad kom en die mense sê julle mag nie daar bly nie, dan moet julle in die strate uitgaan en sê: ‘Ons gaan nou weg en ons vee nou ook julle stad se stof van ons voete af. Dit is vir julle die teken dat God ook nou weggaan van julle. Maar julle moet weet: Die tyd is naby wanneer julle sal weet God is Koning.’ Ek sê vir julle, wanneer God die mense sal oordeel, dan sal dit beter gaan met die stad Sodom as met daardie stad.

LUKAS 10:1-12 Die Boodskap (DB)

Kort daarna het die Here 72 van sy volgelinge aangewys om twee-twee voor Hom uit te gaan na al die plekke toe waar Hy sou aandoen op pad Jerusalem toe. Hy sê toe vir hulle: “Die lande staan ryp met ’n groot oes, maar daar is so min mense om die oes te gaan insamel. Vra die Here, aan wie hierdie oes behoort, om nog ekstra arbeiders te stuur. “Gaan nou na die plekke toe waarheen Ek nog op pad is. Maar wees gewaarsku: daar wag groot gevare op julle. Ek stuur julle soos ’n klompie skape deur ’n bos wat wemel van gevaarlike diere. “Julle moet só te werk gaan: Moenie ’n klomp geld saamvat nie. Dit is ook nie nodig om groot tasse met baie klere te pak nie. Moenie langs die pad met ander mense gesels nie. “As julle in ’n huis inkom, sê dan: ‘God sal baie goed wees vir hierdie huis.’ As die eienaar julle net so vriendelik teruggroet, is alles in orde. Dan sal God se vrede by hom bly. Maar as hy julle nie goed ontvang nie, sal God se vrede nie by hom bly nie. Bly oor in die huise waar die mense julle goed ontvang. Eet en drink alles wat hulle vir julle gee. Immers, iemand wat werk, word tog daarvoor betaal. Moenie na ’n ander huis gaan soek as julle te min kos kry nie. In al die dorpe waarheen Ek julle stuur, moet julle by mense gaan bly wat julle goed ontvang. En wees tevrede met julle kos en slaapplek. “Maak al die siek mense gesond wat julle raakloop. Sê ook vir hulle: ‘God se nuwe wêreld het tot hier by julle gekom.’ “Wanneer die mense van ’n dorp julle die rug toekeer, gee dan dadelik daar pad. Maar skud eers voor almal die stof van daardie plek uit julle klere uit. Sê ook vir almal in die dorp dat hulle die kans van ’n leeftyd om deel van God se nuwe wêreld te word deur hulle vingers laat glip het. Hulle gaan nog baie spyt wees daaroor. Dit gaan vir hulle baie erger wees wanneer hulle eendag voor God moet gaan staan as wat dit sal wees vir Sodom en Gomorra, daardie twee stede wat so berug was vir al hulle sondes.”

LUKAS 10:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Here het nou 72 ander dissipels gekies en hulle in pare vooruit gestuur na al die dorpe en plekkies wat Hy wou besoek. Dít was sy instruksies aan hulle: “Die oes is só groot, maar die werkers is so min. Bid tot die Here wat in beheer is van die oes, en vra dat Hy meer werkers in die veld sal stuur. Gaan nou, en onthou dat Ek julle soos lammers tussen wolwe instuur. Moenie enige geld saamvat nie, of ’n reissak of selfs ’n ekstra paar sandale nie. En moenie enigiemand langs die pad groet nie. “Elke keer wanneer julle ’n huis binnegaan, spreek die vredesgroet daaroor uit. As dié wat daar bly, dit waardig is, sal die seën bly; as hulle dit nie is nie, sal die seën na julle toe terugkom. Wanneer julle in ’n dorp aankom, moenie van huis tot huis gaan nie. Bly op een plek, eet en drink wat hulle aan julle voorsit. Moenie huiwer om gasvryheid te aanvaar nie, want dié wat werk, verdien hulle loon. “As ’n dorp julle verwelkom, eet wat ook al aan julle voorgesit word. Genees die siekes wat daar woon, en sê vir hulle: ‘Die koningsheerskappy van God is nou naby julle.’ Maar as ’n dorp weier om julle te ontvang, gaan uit in die strate en sê: ‘Ons vee die stof van julle dorp van ons voete af as ’n openbare aankondiging van julle oordeel. Maar dit moet julle weet: die koningsheerskappy van God is naby!’ Ek verseker julle, selfs die bose Sodom sal in die oordeelsdag beter daaraan toe wees as só ’n dorp.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid