Lukas 10:1-12

Lukas 10:1-12 CAB23

Ná hierdie dinge het die Here ook ander sewentig aangestel en hulle twee-twee voor sy aangesig gestuur na elke stad en plek waarheen Hy self sou kom. Daarom sê Hy vir hulle: Die oes is wel groot, maar die arbeiders is min; bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes sal uitstuur. Gaan voort: kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe. Dra geen beurs of sak of skoene nie, en groet niemand op die pad nie. En in watter huis julle ook al ingaan, sê eers: Vrede vir hierdie huis! En as die seun van vrede daar is, sal julle vrede daarop rus; so nie, sal dit weer tot julle terugkeer. En bly in dieselfde huis en eet en drink wat hulle gee, want die arbeider is sy loon werd. Gaan nie van huis tot huis nie. En in watter stad julle ook al ingaan en hulle julle ontvang, eet die dinge wat julle voorgehou word. En genees die siekes wat daarin is, en sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom. Maar in watter stad julle ook al ingaan, en hulle ontvang julle nie, gaan uit op die strate daarvan en sê: Selfs die stof van julle stad wat aan ons kleef, vee ons teen julle af; maar julle moet daarvan seker wees dat die koninkryk van God naby julle gekom het. Maar Ek sê vir julle dat dit vir Sodom in dié dag verdraagliker sal wees as vir daardie stad.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 10:1-12