Lukas 10:1-12

Lukas 10:1-12 ABA

Jesus het nog 72 ander dissipels gekies. Hy het hulle twee-twee voor Hom gestuur na al die stede en plekke waarnatoe Hy self later wou gaan. Jesus sê toe vir die 72 dissipels: “Daar is baie ryp koring om af te sny, maar daar is baie min werkers wat kan help om dit te doen. Die ryp koring is die mense wat aan die Here behoort. Julle moet bid tot Hom, en julle moet vra dat Hy werkers sal stuur om sy ryp koring af te sny. Gaan nou, maar onthou, Ek stuur julle na die mense in die wêreld, en julle sal wees soos skape wat tussen gevaarlike wolwe is. Moenie beursies saamneem nie. Julle moet ook nie rugsakke en sandale saamneem nie. En julle moenie tyd mors en vir almal op die pad vra hoe dit gaan nie. Wanneer julle in 'n huis kom, dan moet julle eers sê: ‘God gee vir hierdie huis vrede.’ “As daar iemand in die huis woon wat vrede wil hê, dan sal die vrede by hom bly. Maar as daar niemand in die huis is wat die vrede wil hê nie, dan sal God nie vir daardie huis vrede gee nie. Julle moet bly by die mense wat God se vrede wil hê, en julle moet eet en drink wat hulle vir julle gee. Julle moet onthou: “ Wanneer iemand werk, dan moet jy hom beloon. “Moenie skuldig voel wanneer die mense goed is vir julle nie, want onthou, julle werk vir die Here. Julle moenie elke maal in 'n ander huis gaan bly nie. As julle in 'n stad kom en die mense sê julle is welkom, dan moet julle eet wat die mense vir julle gee. Julle moet die siek mense in daardie stad gesond maak. Julle moet vir hulle sê: ‘Die tyd is naby wanneer julle sal weet God is Koning.’ Maar as julle in 'n stad kom en die mense sê julle mag nie daar bly nie, dan moet julle in die strate uitgaan en sê: ‘Ons gaan nou weg en ons vee nou ook julle stad se stof van ons voete af. Dit is vir julle die teken dat God ook nou weggaan van julle. Maar julle moet weet: Die tyd is naby wanneer julle sal weet God is Koning.’ Ek sê vir julle, wanneer God die mense sal oordeel, dan sal dit beter gaan met die stad Sodom as met daardie stad.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 10:1-12