LUKAS 1:5-38

LUKAS 1:5-38 Die Boodskap (DB)

My verhaal begin by Sagaria. Hy was ’n priester en ’n lid van die priesterlike diensgroep van Abia. Dit was in die tyd toe Herodes die koning van Judea was. Sagaria se vrou was Elisabet. Sy kom uit Aäron se nageslag. Hulle was twee goeie mense wat God se voorskrifte gehoorsaam het. Hulle het nooit ’n voet verkeerd gesit nie. Sagaria en Elisabet was kinderloos, want Elisabet kon nie kinders hê nie. Hulle albei was ook al baie oud. Op ’n dag, toe dit Sagaria se beurt was om as priester in God se tempel in Jerusalem diens te doen, het die lot op hom geval om wierook op die altaar te gaan brand. Terwyl Sagaria in die tempel daarmee besig was, het ’n groot skare buitekant gebid. Skielik het ’n engel aan hom verskyn, daar aan die regterkant van die wierookaltaar. Sagaria het hom boeglam geskrik. Maar die engel het hom gerusgestel: “Moenie bang wees nie, Sagaria. God het jou gebede verhoor. Jou vrou Elisabet gaan binnekort ’n seun hê. Noem hom Johannes. Hy gaan nog groot vreugde in jou lewe bring, ook in baie ander mense se lewe. God het hom uitgekies vir ’n baie belangrike taak. “Johannes mag nooit wyn of sterk drank drink nie. Die Heilige Gees sal reeds van voor sy geboorte af by hom wees. Johannes sal baie Israeliete wat in sonde leef na die Here hulle God toe terugbring. Sy belangrikste werk sal wees om te sê dat die Here na sy volk toe op pad is. Hy sal dit doen met dieselfde krag en oortuiging as die profeet Elia van ouds. Johannes sal maak dat pa’s en seuns weer in vrede met mekaar leef. En hy sal mense wie se harte so hard soos klip is, terugkry op die regte pad. So sal hy die Israeliete voorberei vir die Here se koms.” Sagaria was heeltemal uit die veld geslaan oor die engel se woorde. “Dit klink te goed om waar te wees. Hoe weet ek u praat die waarheid? Ek is dan al stokoud. My vrou ook. Sy kan mos nie meer kinders hê nie.” Toe sê die engel vir hom: “Besef jy nie met wie jy te doen het nie? Kyk, ek is Gabriël. Ek staan voltyds in God se diens. Hy het my spesiaal na jou toe gestuur met hierdie goeie nuus. Maar omdat jy my nie wou glo nie, sal jy stom wees tot op die dag dat jou seun gebore word. Tot dan sal jy nie ’n woord uitkry nie. Alles wat ek vir jou gesê het, sal binnekort waar word; presies op die tyd wat God bepaal het.” Intussen het die skare wat buite gewag het dat Sagaria hulle moet kom seën, ongeduldig geraak. “Hoekom kom hy dan nie uit nie?” het hulle onder mekaar gevra. Toe Sagaria uiteindelik buitetoe kom, kon hy glad nie praat nie. Die skare het agtergekom dat hy ’n visioen gesien het, want hy het aanhoudend met sy hande vir hulle beduie wat gebeur het sonder om ’n woord uit te kry. Toe Sagaria se verpligtings daar in die tempel klaar was, het hy teruggegaan na sy huis toe. Nie lank daarna nie het Elisabet begin verwag. Sy was so bly daaroor dat sy vir vyf maande lank eenkant gaan bly het, weg van almal af. “Die Here het ’n wonderwerk aan my gedoen,” het sy gesê. “Hy het gesorg dat mense nou nie meer agteraf met my sal spot omdat ek nie kinders kan hê nie.” In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël na Nasaret toe gestuur, ’n dorp in Galilea. Hy moes ’n belangrike boodskap na ’n meisie toe neem wat daar gebly het. Haar naam was Maria. Sy het nog nie seksuele gemeenskap met ’n man gehad nie. Sy was verloof aan Josef, ’n man uit die nageslag van koning Dawid. Toe Gabriël by Maria aankom, het hy haar gegroet en gesê: “Goeiedag. Ek het baie goeie nuus vir jou. Die Here het groot genade aan jou bewys. Hy is by jou!” Maria was baie verbaas oor sy woorde. “Wat is aan die gang?” het sy haar afgevra. Die engel het haar egter gou gerusgestel: “Moenie bang wees nie. God het ’n wonderlike verrassing vir jou. Hy het jou uitgekies vir ’n spesiale taak: jy sal binnekort begin verwag. Een van die dae sal jy ’n Seun in die wêreld bring. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal baie belangrik wees; so belangrik dat Hy die Seun van die allerhoogste God genoem sal word. Die Here God sal Hom aanstel om te heers oor die koninkryk van sy voorvader Dawid. Jesus sal vir altyd oor Israel regeer. Sy koningskap sal nooit ophou nie; nooit nie.” Maria vra toe benoud vir Gabriël: “Maar hoe is so iets moontlik? Ek het nog nooit eens by ’n man geslaap nie.” Daarop antwoord hy: “Moenie jou bekommer nie. Die Heilige Gees sal hiervoor sorg. Die Allerhoogste se krag sal ’n Kind in jou verwek. Hierdie Kind wat van God af kom, sal die Heilige genoem word, die Seun van God. “Ek het nog goeie nuus vir jou: Elisabet, ’n familielid van jou, verwag ook. Soos jy weet, is sy al baie oud. Tog sal sy een van die dae ’n seun hê. Sy is al ses maande swanger. Jy sien, niks is vir God onmoontlik nie.” Toe sê Maria: “Ek is in die Here se hand. Sy wil moet in my lewe geskied. Laat alles met my gebeur presies soos u gesê het.” Daarna het Gabriël vertrek.

LUKAS 1:5-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit het alles begin by ’n Joodse priester, Sagaria, gedurende die tyd toe Herodes koning van Judea was. Hy was lid van die diensgroep van Abia. Sy vrou, Elisabet, het ook uit die priesterlyn van Aäron afgestam. Sagaria en Elisabet het reg gelewe voor God: hulle het al die Here se bevele en voorskrifte nagekom. Hulle het nie kinders gehad nie omdat Elisabet onvrugbaar was en hulle albei al oud was. Eendag was Sagaria besig om God in die tempel te dien, want sy diensgroep was dié week aan diens. Volgens die gewoonte van priesters is hy deur die lot aangewys om die heiligdom in te gaan en wierook op die altaar te brand. Terwyl die wierook gebrand het, het ’n groot skare buite gestaan en bid. Terwyl Sagaria in die heiligdom was, verskyn ’n engel van die Here aan hom, regs van die wierookaltaar. Sagaria het hom lam geskrik toe hy die engel sien. Maar die engel sê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want God het jou gebed gehoor en jou vrou, Elisabet, sal vir jou ’n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. Julle sal vreugde en jubelende blydskap hê en baie mense sal saam met julle bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy moet nooit aan wyn of sterk drank raak nie en hy sal nog voor sy geboorte met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie Israeliete oortuig om om te draai na die Here hulle God toe. Hy sal die gees en krag hê van Elia, die profeet van ouds, om voor die Here uit te gaan, om pa’s met hulle kinders te versoen, om ongehoorsames op die regte pad te bring en om só vir die koms van die Here ’n volk gereed te maak.” Sagaria sê toe vir die engel: “Hoe sal ek weet dat dié dinge gaan gebeur? Ek is al ’n ou man en my vrou is ook al op gevorderde leeftyd.” Toe sê die engel: “Ek is Gabriël. Ek staan in God se eie teenwoordigheid. Hy het my gestuur om die goeie nuus aan jou te bring! En omdat jy nie geglo het wat ek sê nie, sal jy nie kan praat nie, totdat die kind gebore is. Want my woorde sal op die bestemde tyd beslis waar word.” Intussen het die mense vir Sagaria gewag om uit te kom, en hulle het begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly. Toe hy uiteindelik uit die tempel kom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle het afgelei dat hy ’n gesig in die tempel gesien het. Hy het aanmekaar vir hulle beduie en stom gebly. Hy het by die tempel gebly totdat sy diensbeurt om was, en toe is hy huis toe. Kort daarna het sy vrou, Elisabet, swanger geword en sy het vir vyf maande in afsondering gegaan. “Hoe goed is die Here!” het sy uitgeroep. “Hy het die skande van my kinderloosheid van my af weggevat!” Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël na Nasaret, ’n dorp in Galilea, gestuur na ’n jong meisie met die naam Maria. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef, ’n afstammeling van koning Dawid. Gabriël het aan haar verskyn en gesê: “Ek groet jou, geseënde vrou! Die Here is met jou!” Verward en ontsteld het Maria gewonder wat die engel se begroeting kon beteken. “Moenie bang wees nie, Maria,” het die engel gesê, “want God het besluit om jou te seën! Jy sal swanger word en ’n seun hê en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal vir ewig oor Israel regeer; en sy koningsheerskappy sal nooit eindig nie!” Maria het vir die engel gevra: “Maar hoe kan ek ’n kind hê? Ek was nog nooit by ’n man nie.” Die engel het geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou toevou. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig en die Seun van God genoem word. Meer nog, jou familielid Elisabet het in haar gevorderde ouderdom swanger geword! Mense het altyd gesê sy is onvrugbaar, maar sy is al in haar sesde maand, want niks is onmoontlik vir God nie.” Maria het geantwoord: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.” Toe het die engel weggegaan.

LUKAS 1:5-38 Bybel vir almal (ABA)

Herodes was die koning van Judea. In daardie tyd was daar 'n priester, Sagaria. Hy was een van die priesters van Abia se groep. Hulle het by die tempel gewerk wanneer dit hulle beurt was. Sagaria was getroud met Elisabet. Sy was van die nageslag van Aäron. Sagaria en Elisabet het gelewe soos God wou hê, en hulle was gehoorsaam aan al die wette van die Here. Maar hulle het nie kinders gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Hulle altwee was ook al baie oud. Dit was eendag die beurt van Abia se groep priesters om die werk in die tempel te doen. Die priesters het altyd lootjies getrek om te sien wie moes ingaan om die wierook-offer te bring. Dit was toe Sagaria wat moes ingaan in die gewyde kamer van die tempel van die Here. Toe Sagaria ingaan om die wierook-offer te bring, het al die mense buite gebly en gebid. 'n Engel van die Here het gekom en hy het aan Sagaria verskyn. Die engel het regs van die wierook-altaar gestaan. Sagaria het groot geskrik toe hy die engel sien en hy het baie bang geword. Maar die engel het vir hom gesê: “Sagaria, jy moenie bang wees nie, God het geluister na jou gebed. Jou vrou Elisabet sal 'n seun kry, en jy moet hom Johannes noem. Jy sal baie bly wees en baie ander mense sal bly wees wanneer hy gebore word, want hy sal belangrik wees vir die Here. Hy mag nie wyn of bier drink nie. Die Heilige Gees sal in hom wees vandat sy ma swanger geword het. Hy sal baie Israeliete laat terugkom na die Here hulle God. Johannes sal 'n profeet van God wees. Hy sal dapper en sterk wees, soos Elia. Hy sal vrede maak tussen pa's en hulle kinders. Hy sal ongehoorsame mense laat doen wat God wil hê. Dan sal hulle 'n volk wees wat reg is om God te dien.” Sagaria het vir die engel gesê: “Hoe sal ek weet dat dit sal gebeur? Ek is 'n ou man en my vrou is ook baie oud.” Die engel het vir hom gesê: “Ek is die engel Gabriël, ek werk vir God. God het my gestuur om met jou te praat en vir jou hierdie goeie boodskap te bring. Die boodskap wat ek vir jou gebring het, is waar. Dit sal gebeur. Maar jy het my nie geglo nie, en daarom sal jy stom wees en jy sal nie kan praat nie, tot die dag wanneer hierdie dinge sal gebeur.” Die mense het buite gewag vir Sagaria en hulle het gewonder hoekom hy so lank in die tempel bly. Toe Sagaria uitkom, kon hy nie met die mense praat nie, en hulle het besef God het iets met hom laat gebeur in die tempel. Hy het vir hulle met sy hande gewys dat iets met hom gebeur het, en hy het stom gebly. Toe die priesters van Abia se groep klaar gewerk het by die tempel, het Sagaria teruggegaan na sy huis. Kort daarna het sy vrou Elisabet swanger geword, en sy het vyf maande lank nie uit die huis gegaan nie. Sy het gesê: “Die Here het my gehelp, Hy het gesien ek is hartseer. Hy het geweet die mense spot my omdat ek nie kinders het nie. Nou het Hy dit verander, niemand sal my nou meer spot nie.” Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël gestuur na die stad Nasaret in Galilea. God het hom gestuur na 'n meisie wat verloof was aan Josef. Josef was 'n man van die nageslag van koning Dawid. Die meisie se naam was Maria, en sy was 'n maagd. Die engel het na Maria toe gegaan en gesê: “Ek groet jou. God is goed vir jou. Ja, die Here is by jou.” Maria het baie groot geskrik toe sy hoor wat die engel vir haar sê en sy het gewonder wat dit beteken. Die engel het vir haar gesê: “Maria, jy moenie bang wees nie, want God is goed vir jou. Jy sal swanger word en jy sal 'n seun kry. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal baie belangrik wees, die Hoogste God sal Hom sy Seun noem. Die Here God sal Hom laat regeer soos sy voorvader Dawid. Jesus sal altyd regeer oor die nageslag van Jakob. Hy sal nooit ophou om Koning te wees nie.” Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan ek 'n kind kry? Ek het nog nooit by 'n man geslaap nie.” Die engel het vir haar gesê: “Die Heilige Gees sal op jou kom en die krag van die Hoogste God sal soos 'n skaduwee oor jou wees. Daarom sal God sê die Kind wat gebore word, is heilig, Hy is die Seun van God. Maria, daar is 'n vrou, Elisabet, in jou familie, sy is oud en sy kon nooit kinders kry nie, maar sy sal ook 'n seun kry. Sy is nou ses maande swanger. God kan alles doen, daar is niks wat Hy nie kan doen nie.” Maria het gesê: “Ek sal doen wat die Here wil hê. Die Here kan met my doen wat jy gesê het.” Toe het die engel weggegaan van haar.

LUKAS 1:5-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAAR was in die dae van Herodes, koning van Judéa, 'n sekere priester met die naam van Sagaría, uit die afdeling van Abía; en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet. En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel. En hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei op ver gevorderde leeftyd. En terwyl hy besig was om die priesteramp voor God te bedien in die beurt van sy afdeling, het die lot volgens priesterlike gewoonte op hom geval om in te gaan in die tempel van die Here en reukwerk te brand. En die hele menigte van die volk was buite, besig om te bid op die uur van die reukoffer. Toe verskyn daar aan hom 'n engel van die Here, wat aan die regterkant van die reukofferaltaar staan. En toe Sagaría hom sien, was hy ontsteld, en vrees het hom oorval. Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Johannes noem. En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees; want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af. En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God. En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei. Toe sê Sagaría vir die engel: Waaraan sal ek dit weet? Want ek is 'n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd. En die engel antwoord en sê vir hom: Ek is Gabriël wat voor God staan, en ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring. En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie. En die volk het op Sagaría bly wag en was verwonderd dat hy so lank in die tempel vertoef. Maar toe hy uitkom, kon hy met hulle nie praat nie; hulle bemerk toe dat hy 'n gesig in die tempel gesien het. En hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. En toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan. En ná hierdie dae het Elisabet, sy vrou, ontvang en haar vyf maande lank verberg en gesê: So het die Here met my gedoen in die dae toe Hy my aangesien het om my smaad onder die mense weg te neem. EN in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na 'n stad in Galiléa met die naam van Násaret, na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken. En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word. En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook 'n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is. Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie. En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord. En die engel het van haar weggegaan.

LUKAS 1:5-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die tyd van koning Herodes van Judea was daar 'n priester met die naam Sagaria, uit die diensgroep van Abia. Ook sy vrou het van Aäron afgestam, en haar naam was Elisabet. Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou. Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd. Op 'n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand. Terwyl die wierookoffer gebring is, was die hele volksmenigte buite besig om te bid. Toe verskyn daar aan die regterkant van die wierookaltaar 'n engel van die Here aan hom. Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou 'n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. Hy sal 'n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oë van die Here. Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here 'n volk voor te berei.” Toe sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is 'n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.” Die engel antwoord hom: “Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring. Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.” Intussen het die volk vir Sagaria gestaan en wag en begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly. Toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle kom toe agter dat hy in die tempel 'n gesig gesien het. Hy het net aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. Toe die tyd van sy tempeldiens om was, het hy huis toe gegaan. Na daardie tyd het sy vrou Elisabet swanger geword en haar vyf maande lank afgesonder. Sy het gesê: “Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem.” In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na 'n maagd in Nasaret, 'n dorp in Galilea. Sy was verloof aan Josef, 'n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.” Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met 'n man gehad het nie?” Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. Kyk, 'n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook 'n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. Niks is vir God onmoontlik nie.” Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan.

LUKAS 1:5-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die tyd toe Herodes koning van Judea was, was daar 'n priester uit die diensgroep van Abia met die naam Sagaria. Sy vrou was uit Aäron se nageslag, en haar naam was Elisabet. Hulle was albei •regverdig in die oë van God en het onberispelik volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here geleef. Hulle was kinderloos, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei van hulle al op ver gevorderde leeftyd was. Toe Sagaria op 'n keer tydens sy diensgroep se beurt voor God tempeldiens gedoen het, is hy volgens priesterlike gebruik deur die lot aangewys om die heiligdom van die Here binne te gaan en die reukoffer te bring. En die hele menigte van die volk was besig om op die tyd van die reukoffer buite te bid. 'n Engel van die Here het toe aan hom verskyn en aan die regterkant van die altaar vir die reukwerk gestaan. Sagaria was ontsteld toe hy hom sien, en vrees het hom oorval, maar die engel het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal vir jou geboorte gee aan 'n seun, en jy moet hom Johannes noem. Jy sal blydskap en uitbundige vreugde beleef, en baie mense sal bly wees oor sy geboorte. Inderdaad, hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy sal glad nie wyn en gegiste drank drink nie , en hy sal reeds van voor sy geboorte af met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie van die kinders van Israel na die Here hulle God laat terugkeer. Hy sal met die gees en krag van Elia voor die Here uitgaan om die harte van vaders na hulle kinders terug te bring, en ongehoorsames na die denkwyse van •regverdiges, en só 'n goed voorbereide volk vir die Here gereed te maak. ” Sagaria sê toe vir die engel: “Hoe sal ek dit weet? Want ek is al oud, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd. ” Daarop antwoord die engel hom: “Ek is Gabriël , wat in die teenwoordigheid van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie boodskap vir jou te bring. Ek sê vir jou: Omdat jy my woorde, wat op hulle vasgestelde tyd in vervulling sal gaan, nie geglo het nie, sal jy stom wees. Jy sal nie kan praat nie, tot op die dag waarop hierdie dinge gebeur.” Die volk het ondertussen vir Sagaria gestaan en wag, en was verbaas dat hy so lank in die heiligdom talm. Maar toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle besef toe dat hy 'n visioen in die heiligdom gesien het. Hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. Toe sy tempeldiens verby was, het hy huis toe gegaan. Hierna het sy vrou Elisabet swanger geraak. Sy het haar vyf maande lank afgesonder en gesê: “Dit is wat die Here in hierdie dae vir my gedoen het: Hy het na my omgesien deur die minagting van die mense van my weg te neem. ” In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na Nasaret, 'n dorp in Galilea, na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam Josef, uit die nageslag van Dawid. Die maagd se naam was Maria. Die engel het na haar gegaan en gesê: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!” Sy was verward oor die woorde en het gewonder wat hierdie groet tog kon beteken. Die engel het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. Kyk, jy sal swanger word en aan 'n seun geboorte skenk. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal magtig wees, en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer. Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie. ” Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?” Die engel het haar geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees; Hy sal •Seun van God genoem word. “Kyk, Elisabet, 'n familielid van jou, is ook swanger, en sy verwag 'n seun ten spyte van haar hoë ouderdom. Alhoewel sy vroeër as onvrugbaar beskou is, is sy reeds ses maande swanger, want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie.” Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan.

LUKAS 1:5-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daar was in die dae van Herodes, die koning van Judéa, 'n sekere priester met die naam van Sagaria, uit die afdeling van Abië; en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet. En hulle was altwee regverdig voor God en het onberispelik in al die gebooie en verordeninge van die Here gewandel. En hulle het geen kind gehad nie, want Elisabet was onvrugbaar, en hulle was albei nou reeds in die jare siek. En dit het gebeur dat terwyl hy die priesteramp beklee het voor God volgens die volgorde van sy baan, Volgens die gebruik van die priesteramp was sy lot om wierook te brand wanneer hy in die tempel van die Here ingegaan het. En die hele menigte van die volk het buite gebid ten tyde van die reukwerk. En 'n engel van die Here het aan hom verskyn wat aan die regterkant van die reukaltaar staan. En toe Sagaria hom sien, was hy ontsteld, en vrees het op hom geval. Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor; en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Johannes noem. En jy sal blydskap en blydskap hê; en baie sal bly wees oor sy geboorte. Want hy sal groot wees in die oë van die Here en geen wyn of sterk drank drink nie; en hy sal vervul word met die Heilige Gees, selfs van sy moeder se skoot af. En baie van die kinders van Israel sal hy hulle tot die HERE hulle God bekeer. En hy sal voor hom uit gaan in die gees en krag van Elía, om die harte van die vaders tot die kinders te bekeer en die ongehoorsames tot die wysheid van die regverdiges; om 'n volk gereed te maak vir die Here. En Sagaria sê vir die engel: Waaraan sal ek dit weet? want ek is 'n ou man, en my vrou is in jare siek. En die engel antwoord en sê vir hom: Ek is Gabriël wat voor God staan; en is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie blye boodskap te verkondig. En kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie, tot op die dag dat hierdie dinge gedoen sal word, omdat jy my woorde, wat vervul sal word op hulle tyd, nie glo nie. En die volk het Sagaria gewag en hulle verwonder dat hy so lank in die tempel vertoef het. En toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie, en hulle het bemerk dat hy 'n gesig in die tempel gesien het; En dit het gebeur dat, sodra die dae van sy bediening verby was, het hy na sy eie huis gegaan. En ná daardie dae het sy vrou Elisabet swanger geword en haarself vyf maande verberg en gesê: So het die Here met my gedoen in die dae waarin Hy my aangesien het, om my smaad onder die mense weg te neem. En in die sesde maand is die engel Gabriël van God gestuur na 'n stad in Galilea met die naam van Nasaret, Aan 'n maagd wat verloof is aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. En die engel het by haar ingekom en gesê: Wees gegroet, jy wat baie goed is, die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. En toe sy hom sien, was sy ontsteld oor sy woord, en het haar in gedagte gehad watter groet dit sou wees. En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal in jou skoot swanger word en 'n seun baar, en jy moet hom JESUS noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word, en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee. En hy sal vir ewig koning wees oor die huis van Jakob; en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Toe sê Maria vir die engel: Hoe sal dit wees, aangesien ek geen man ken nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu; daarom sal ook die heilige wat uit jou gebore sal word, die Seun van God genoem word. En kyk, jou niggie Elisabet, sy het ook swanger geword van 'n seun in haar ouderdom; en dit is die sesde maand met haar wat onvrugbaar genoem is. Want by God sal niks onmoontlik wees nie. En Maria sê: Hier is die slavin van die Here; laat dit my wees volgens u woord. En die engel het van haar af weggegaan.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid