Lukas 1:5-38

Lukas 1:5-38 ABA

Herodes was die koning van Judea. In daardie tyd was daar 'n priester, Sagaria. Hy was een van die priesters van Abia se groep. Hulle het by die tempel gewerk wanneer dit hulle beurt was. Sagaria was getroud met Elisabet. Sy was van die nageslag van Aäron. Sagaria en Elisabet het gelewe soos God wou hê, en hulle was gehoorsaam aan al die wette van die Here. Maar hulle het nie kinders gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Hulle altwee was ook al baie oud. Dit was eendag die beurt van Abia se groep priesters om die werk in die tempel te doen. Die priesters het altyd lootjies getrek om te sien wie moes ingaan om die wierook-offer te bring. Dit was toe Sagaria wat moes ingaan in die gewyde kamer van die tempel van die Here. Toe Sagaria ingaan om die wierook-offer te bring, het al die mense buite gebly en gebid. 'n Engel van die Here het gekom en hy het aan Sagaria verskyn. Die engel het regs van die wierook-altaar gestaan. Sagaria het groot geskrik toe hy die engel sien en hy het baie bang geword. Maar die engel het vir hom gesê: “Sagaria, jy moenie bang wees nie, God het geluister na jou gebed. Jou vrou Elisabet sal 'n seun kry, en jy moet hom Johannes noem. Jy sal baie bly wees en baie ander mense sal bly wees wanneer hy gebore word, want hy sal belangrik wees vir die Here. Hy mag nie wyn of bier drink nie. Die Heilige Gees sal in hom wees vandat sy ma swanger geword het. Hy sal baie Israeliete laat terugkom na die Here hulle God. Johannes sal 'n profeet van God wees. Hy sal dapper en sterk wees, soos Elia. Hy sal vrede maak tussen pa's en hulle kinders. Hy sal ongehoorsame mense laat doen wat God wil hê. Dan sal hulle 'n volk wees wat reg is om God te dien.” Sagaria het vir die engel gesê: “Hoe sal ek weet dat dit sal gebeur? Ek is 'n ou man en my vrou is ook baie oud.” Die engel het vir hom gesê: “Ek is die engel Gabriël, ek werk vir God. God het my gestuur om met jou te praat en vir jou hierdie goeie boodskap te bring. Die boodskap wat ek vir jou gebring het, is waar. Dit sal gebeur. Maar jy het my nie geglo nie, en daarom sal jy stom wees en jy sal nie kan praat nie, tot die dag wanneer hierdie dinge sal gebeur.” Die mense het buite gewag vir Sagaria en hulle het gewonder hoekom hy so lank in die tempel bly. Toe Sagaria uitkom, kon hy nie met die mense praat nie, en hulle het besef God het iets met hom laat gebeur in die tempel. Hy het vir hulle met sy hande gewys dat iets met hom gebeur het, en hy het stom gebly. Toe die priesters van Abia se groep klaar gewerk het by die tempel, het Sagaria teruggegaan na sy huis. Kort daarna het sy vrou Elisabet swanger geword, en sy het vyf maande lank nie uit die huis gegaan nie. Sy het gesê: “Die Here het my gehelp, Hy het gesien ek is hartseer. Hy het geweet die mense spot my omdat ek nie kinders het nie. Nou het Hy dit verander, niemand sal my nou meer spot nie.” Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël gestuur na die stad Nasaret in Galilea. God het hom gestuur na 'n meisie wat verloof was aan Josef. Josef was 'n man van die nageslag van koning Dawid. Die meisie se naam was Maria, en sy was 'n maagd. Die engel het na Maria toe gegaan en gesê: “Ek groet jou. God is goed vir jou. Ja, die Here is by jou.” Maria het baie groot geskrik toe sy hoor wat die engel vir haar sê en sy het gewonder wat dit beteken. Die engel het vir haar gesê: “Maria, jy moenie bang wees nie, want God is goed vir jou. Jy sal swanger word en jy sal 'n seun kry. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal baie belangrik wees, die Hoogste God sal Hom sy Seun noem. Die Here God sal Hom laat regeer soos sy voorvader Dawid. Jesus sal altyd regeer oor die nageslag van Jakob. Hy sal nooit ophou om Koning te wees nie.” Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan ek 'n kind kry? Ek het nog nooit by 'n man geslaap nie.” Die engel het vir haar gesê: “Die Heilige Gees sal op jou kom en die krag van die Hoogste God sal soos 'n skaduwee oor jou wees. Daarom sal God sê die Kind wat gebore word, is heilig, Hy is die Seun van God. Maria, daar is 'n vrou, Elisabet, in jou familie, sy is oud en sy kon nooit kinders kry nie, maar sy sal ook 'n seun kry. Sy is nou ses maande swanger. God kan alles doen, daar is niks wat Hy nie kan doen nie.” Maria het gesê: “Ek sal doen wat die Here wil hê. Die Here kan met my doen wat jy gesê het.” Toe het die engel weggegaan van haar.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid