Lukas 1:5-38

Lukas 1:5-38 DB

My verhaal begin by Sagaria. Hy was ’n priester en ’n lid van die priesterlike diensgroep van Abia. Dit was in die tyd toe Herodes die koning van Judea was. Sagaria se vrou was Elisabet. Sy kom uit Aäron se nageslag. Hulle was twee goeie mense wat God se voorskrifte gehoorsaam het. Hulle het nooit ’n voet verkeerd gesit nie. Sagaria en Elisabet was kinderloos, want Elisabet kon nie kinders hê nie. Hulle albei was ook al baie oud. Op ’n dag, toe dit Sagaria se beurt was om as priester in God se tempel in Jerusalem diens te doen, het die lot op hom geval om wierook op die altaar te gaan brand. Terwyl Sagaria in die tempel daarmee besig was, het ’n groot skare buitekant gebid. Skielik het ’n engel aan hom verskyn, daar aan die regterkant van die wierookaltaar. Sagaria het hom boeglam geskrik. Maar die engel het hom gerusgestel: “Moenie bang wees nie, Sagaria. God het jou gebede verhoor. Jou vrou Elisabet gaan binnekort ’n seun hê. Noem hom Johannes. Hy gaan nog groot vreugde in jou lewe bring, ook in baie ander mense se lewe. God het hom uitgekies vir ’n baie belangrike taak. “Johannes mag nooit wyn of sterk drank drink nie. Die Heilige Gees sal reeds van voor sy geboorte af by hom wees. Johannes sal baie Israeliete wat in sonde leef na die Here hulle God toe terugbring. Sy belangrikste werk sal wees om te sê dat die Here na sy volk toe op pad is. Hy sal dit doen met dieselfde krag en oortuiging as die profeet Elia van ouds. Johannes sal maak dat pa’s en seuns weer in vrede met mekaar leef. En hy sal mense wie se harte so hard soos klip is, terugkry op die regte pad. So sal hy die Israeliete voorberei vir die Here se koms.” Sagaria was heeltemal uit die veld geslaan oor die engel se woorde. “Dit klink te goed om waar te wees. Hoe weet ek u praat die waarheid? Ek is dan al stokoud. My vrou ook. Sy kan mos nie meer kinders hê nie.” Toe sê die engel vir hom: “Besef jy nie met wie jy te doen het nie? Kyk, ek is Gabriël. Ek staan voltyds in God se diens. Hy het my spesiaal na jou toe gestuur met hierdie goeie nuus. Maar omdat jy my nie wou glo nie, sal jy stom wees tot op die dag dat jou seun gebore word. Tot dan sal jy nie ’n woord uitkry nie. Alles wat ek vir jou gesê het, sal binnekort waar word; presies op die tyd wat God bepaal het.” Intussen het die skare wat buite gewag het dat Sagaria hulle moet kom seën, ongeduldig geraak. “Hoekom kom hy dan nie uit nie?” het hulle onder mekaar gevra. Toe Sagaria uiteindelik buitetoe kom, kon hy glad nie praat nie. Die skare het agtergekom dat hy ’n visioen gesien het, want hy het aanhoudend met sy hande vir hulle beduie wat gebeur het sonder om ’n woord uit te kry. Toe Sagaria se verpligtings daar in die tempel klaar was, het hy teruggegaan na sy huis toe. Nie lank daarna nie het Elisabet begin verwag. Sy was so bly daaroor dat sy vir vyf maande lank eenkant gaan bly het, weg van almal af. “Die Here het ’n wonderwerk aan my gedoen,” het sy gesê. “Hy het gesorg dat mense nou nie meer agteraf met my sal spot omdat ek nie kinders kan hê nie.” In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël na Nasaret toe gestuur, ’n dorp in Galilea. Hy moes ’n belangrike boodskap na ’n meisie toe neem wat daar gebly het. Haar naam was Maria. Sy het nog nie seksuele gemeenskap met ’n man gehad nie. Sy was verloof aan Josef, ’n man uit die nageslag van koning Dawid. Toe Gabriël by Maria aankom, het hy haar gegroet en gesê: “Goeiedag. Ek het baie goeie nuus vir jou. Die Here het groot genade aan jou bewys. Hy is by jou!” Maria was baie verbaas oor sy woorde. “Wat is aan die gang?” het sy haar afgevra. Die engel het haar egter gou gerusgestel: “Moenie bang wees nie. God het ’n wonderlike verrassing vir jou. Hy het jou uitgekies vir ’n spesiale taak: jy sal binnekort begin verwag. Een van die dae sal jy ’n Seun in die wêreld bring. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal baie belangrik wees; so belangrik dat Hy die Seun van die allerhoogste God genoem sal word. Die Here God sal Hom aanstel om te heers oor die koninkryk van sy voorvader Dawid. Jesus sal vir altyd oor Israel regeer. Sy koningskap sal nooit ophou nie; nooit nie.” Maria vra toe benoud vir Gabriël: “Maar hoe is so iets moontlik? Ek het nog nooit eens by ’n man geslaap nie.” Daarop antwoord hy: “Moenie jou bekommer nie. Die Heilige Gees sal hiervoor sorg. Die Allerhoogste se krag sal ’n Kind in jou verwek. Hierdie Kind wat van God af kom, sal die Heilige genoem word, die Seun van God. “Ek het nog goeie nuus vir jou: Elisabet, ’n familielid van jou, verwag ook. Soos jy weet, is sy al baie oud. Tog sal sy een van die dae ’n seun hê. Sy is al ses maande swanger. Jy sien, niks is vir God onmoontlik nie.” Toe sê Maria: “Ek is in die Here se hand. Sy wil moet in my lewe geskied. Laat alles met my gebeur presies soos u gesê het.” Daarna het Gabriël vertrek.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid