Lukas 1:5-38

Lukas 1:5-38 AFR20

In die tyd toe Herodes koning van Judea was, was daar 'n priester uit die diensgroep van Abia met die naam Sagaria. Sy vrou was uit Aäron se nageslag, en haar naam was Elisabet. Hulle was albei •regverdig in die oë van God en het onberispelik volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here geleef. Hulle was kinderloos, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei van hulle al op ver gevorderde leeftyd was. Toe Sagaria op 'n keer tydens sy diensgroep se beurt voor God tempeldiens gedoen het, is hy volgens priesterlike gebruik deur die lot aangewys om die heiligdom van die Here binne te gaan en die reukoffer te bring. En die hele menigte van die volk was besig om op die tyd van die reukoffer buite te bid. 'n Engel van die Here het toe aan hom verskyn en aan die regterkant van die altaar vir die reukwerk gestaan. Sagaria was ontsteld toe hy hom sien, en vrees het hom oorval, maar die engel het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal vir jou geboorte gee aan 'n seun, en jy moet hom Johannes noem. Jy sal blydskap en uitbundige vreugde beleef, en baie mense sal bly wees oor sy geboorte. Inderdaad, hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy sal glad nie wyn en gegiste drank drink nie , en hy sal reeds van voor sy geboorte af met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie van die kinders van Israel na die Here hulle God laat terugkeer. Hy sal met die gees en krag van Elia voor die Here uitgaan om die harte van vaders na hulle kinders terug te bring, en ongehoorsames na die denkwyse van •regverdiges, en só 'n goed voorbereide volk vir die Here gereed te maak. ” Sagaria sê toe vir die engel: “Hoe sal ek dit weet? Want ek is al oud, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd. ” Daarop antwoord die engel hom: “Ek is Gabriël , wat in die teenwoordigheid van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie boodskap vir jou te bring. Ek sê vir jou: Omdat jy my woorde, wat op hulle vasgestelde tyd in vervulling sal gaan, nie geglo het nie, sal jy stom wees. Jy sal nie kan praat nie, tot op die dag waarop hierdie dinge gebeur.” Die volk het ondertussen vir Sagaria gestaan en wag, en was verbaas dat hy so lank in die heiligdom talm. Maar toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle besef toe dat hy 'n visioen in die heiligdom gesien het. Hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. Toe sy tempeldiens verby was, het hy huis toe gegaan. Hierna het sy vrou Elisabet swanger geraak. Sy het haar vyf maande lank afgesonder en gesê: “Dit is wat die Here in hierdie dae vir my gedoen het: Hy het na my omgesien deur die minagting van die mense van my weg te neem. ” In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na Nasaret, 'n dorp in Galilea, na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam Josef, uit die nageslag van Dawid. Die maagd se naam was Maria. Die engel het na haar gegaan en gesê: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!” Sy was verward oor die woorde en het gewonder wat hierdie groet tog kon beteken. Die engel het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. Kyk, jy sal swanger word en aan 'n seun geboorte skenk. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal magtig wees, en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer. Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie. ” Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?” Die engel het haar geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees; Hy sal •Seun van God genoem word. “Kyk, Elisabet, 'n familielid van jou, is ook swanger, en sy verwag 'n seun ten spyte van haar hoë ouderdom. Alhoewel sy vroeër as onvrugbaar beskou is, is sy reeds ses maande swanger, want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie.” Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid