JOËL 3:9-17
JOËL 3:9-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Sê vir die nasies: “Maak julle klaar vir 'n oorlog, roep julle dapper manne op! Al julle soldate moet opruk en nader storm. Maak swaarde van julle ploegskare, en spiese van julle snoeiskêre. Selfs die swakke moet sê: ‘Ek is 'n dapper soldaat!’ Maak gou en kom, al julle nasies van die omgewing.” Laat hulle bymekaarkom, en bring u leërmag af daarheen, Here! Die nasies moet aanstorm en opruk na die Josafatlaagte toe, want dáár sal Ek sit om al die nasies van die omgewing te straf. Hulle sondes is baie: steek die sekel in, want die oes is ryp, kom trap, die parskuip is vol, die wynkuipe loop oor. Daar is mense en nogmaals mense in die beslissingslaagte, want naby is die dag waarop die Here sal straf in die beslissingslaagte. Die son en die maan sal donker word, die sterre sal nie meer skyn nie. Die Here sal uit Sion brul, Hy sal sy stem uit Jerusalem laat hoor, en hemel en aarde sal bewe. Die Here is 'n toevlug vir sy volk, 'n veilige vesting vir die Israeliete. Dan sal julle besef dat Ek, die Here, julle God is. Ek woon op Sion, my heilige berg. Dan sal Jerusalem heilig wees, vreemde nasies sal nie meer daardeur trek nie.
JOËL 3:9-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sê aan die nasies: “Sonder julle af vir oorlog! Roep julle dapperste soldate op! Laat die krygsmanne uittrek vir die aanval! Maak swaarde van julle ploegimplemente en spiese van julle snoeiskêre. Selfs die swakkeling moet sê: ‘Ek is ’n dapper soldaat!’ Al julle nasies van die omringende omgewings, kom gou! Kom bymekaar in die Josafatlaagte.” HERE, bring u soldate af daarheen! “Die nasies moet wapens opneem en na die Josafatlaagte toe optrek. Daar sal Ek oor al die nasies van die omgewing oordeel. Steek die sekel in, want die oes is ryp. Kom trap, want die wynpers is vol. Die wynvate loop oor van al die onreg van hierdie mense.” Derduisende mense wag in die laagte in afwagting vir die uitspraak. Dit is hier waar die Dag van die HERE binnekort sal aanbreek. Die son en maan sal verdonker. Die sterre sal nie meer skyn nie. Die HERE sal brul uit Sion, uit Jerusalem sal Hy bulder. Die hemel en die aarde sal begin skud. Maar vir die mense van Israel is die HERE ’n skuilplek en ’n veilige vesting. “Julle sal dan weet dat Ek, die HERE julle God, op Sion, my heilige berg, woon. Jerusalem sal altyd ’n heiligdom wees. Geen vreemdelinge sal meer daar deurtrek nie.
JOËL 3:9-17 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet vir die volke skree en sê: “Julle moet gereedmaak en julle moet gaan oorlog maak. Roep die soldate, al die soldate moet kom en hulle moet gaan oorlog maak. Julle moet swaarde en spiese maak van die skerp ysters waarmee julle ploeg en bome se takke afsny. 'n Man wat nie sterk is nie, moet ook sê: ‘Ek is 'n soldaat!’ Die volke wat daar naby woon, moet gou maak en bymekaarkom, en die Here moet sy soldate bring. Die volke moet na die Josafat-vallei kom, want daar sal Ek die regter wees. Ek sal die volke straf wat naby woon. Dit is nou die tyd om hulle te straf. Die volke is soos koring wat ryp is. Bring die sekel en sny hulle af! Trap die druiwe, want die parskuip is vol, dit loop oor. Daar is baie slegte mense vir wie Ek sal straf! Daar sal baie mense wees, baie mense, op daardie plek waar die Here die mense sal oordeel. Die dag van die Here is naby, die dag wanneer Hy die mense sal oordeel. Die son en die maan sal donker word, die sterre sal nie meer skyn nie. Die Here sal hard praat uit Jerusalem, so hard soos 'n leeu wat brul. Die hemel en die aarde sal bewe, maar die Here sal sy volk beskerm. Die Israeliete sal veilig wees by Hom. Dan sal julle weet dat Ek, die Here, op Sionsberg woon. Ek is julle God die Here, en Sion is my gewyde berg. Jerusalem sal 'n gewyde stad wees. Vyande sal nooit weer deur die stad gaan nie.”
JOËL 3:9-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Roep dit uit onder die nasies, heilig 'n oorlog! Wek die helde op, laat al die krygsmanne nader kom, opruk! Smee van julle pikke swaarde en van julle snoeimesse spiese; laat die swakke sê: Ek is 'n held. Haas julle en kom aan, alle nasies rondom, en versamel julle. Laat u helde, HERE, daarheen aftrek! Die nasies moet hulle klaarmaak en optrek na die dal van Jósafat; want daar sal Ek sit om gerig te hou oor al die nasies rondom. Steek die sekel in, want die oes is ryp! Kom trap, want die parskuip is vol, die kuipe loop oor! Want hulle boosheid is groot. Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die HERE in die dal van beslissing! Die son en die maan word duister, en die sterre trek hulle glans in. En die HERE brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die HERE sal 'n toevlug wees vir sy volk en 'n skuilplek vir die kinders van Israel. Dan sal julle weet dat Ek die HERE julle God is, wat woon op Sion, my heilige berg; dan sal Jerusalem 'n heiligdom wees waar geen vreemdes meer deur sal trek nie.
JOËL 3:9-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Roep dit uit onder die nasies, berei voor vir 'n heilige oorlog, ontbied die krygshelde; laat al die krygsmanne nader kom, laat hulle optrek. Smee van julle ploegskare swaarde, en van julle snoeimesse steekspiese, selfs die swakke moet sê: “Ek is 'n held!” Maak gou en kom, maak al die omringende nasies bymekaar. HERE, laat u krygshelde terugkeer! “Die nasies moet in beweging kom en optrek na die vallei van Josafat, want dit is waar Ek gaan sit om al die omringende nasies te oordeel.” Steek die sekel in, want die oes is ryp! Klim in, trap, want die parskuip is vol en die giskuipe loop oor, want hulle boosheid is groot! Skares, daar is skares mense in die dal van beslissing! Ja, die dag van die HERE is naby in die dal van beslissing! Die son en maan word donker, die sterre hou hulle glans terug. En die HERE, uit Sion brul Hy, uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die HERE is 'n toevlugsoord vir sy volk, 'n skuilplek vir die Israeliete. “Dan sal julle weet dat Ek, die HERE, julle God is, wat woon op Sion, my heilige berg. Dan sal Jerusalem 'n heilige plek wees, en vreemdes sal nie weer deur haar gebied trek nie.”
JOËL 3:9-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Verkondig dit onder die heidene; Berei oorlog voor, wek die helde op, laat al die krygsmanne nader kom; laat hulle opkom: Smeet van julle pikke swaarde en van julle snoeimesse spiese; laat die swakkes sê: Ek is sterk. Versamel julle en kom, alle nasies, en versamel julle rondom; laat daarheen u magtiges afdaal, HERE. Laat die nasies wakker word en optrek na die dal van Jósafat, want daar sal Ek sit om te oordeel oor al die nasies rondom. Sit julle in die sekel, want die oes is ryp; kom, klim af; want die pers is vol, die vette loop oor; want hulle boosheid is groot. Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die HERE in die dal van beslissing. Die son en die maan sal verduister word, en die sterre sal hul glans onttrek. Ook sal die HERE uit Sion brul en sy stem uit Jerusalem verhef; en die hemel en die aarde sal bewe, maar die HERE sal die hoop van sy volk wees en die sterkte van die kinders van Israel. So sal julle weet dat Ek die HERE julle God is wat op Sion, my heilige berg, woon; dan sal Jerusalem heilig wees, en geen vreemdelinge sal meer daardeur trek nie.
JOËL 3:9-17 Die Boodskap (DB)
Gee die volgende boodskap vir al die volke wat nie in My glo nie: Maak julle reg vir oorlog! Roep al julle dapper manne. Kry julle soldate gereed om aan te val! Verander julle ploeë in swaarde en julle snoeiskêre in spiese. Selfs die swakstes onder julle moet opgelei word om soos dapper soldate te veg. Julle moet gou maak. Maak al die volke uit die omgewing bymekaar en bring hulle af na die vallei toe. En nou, Here, stuur u magtige leër om al daardie mense aan te val! Ek, die Here, sê: Al die ongelowige volke moet hulle soldate bymekaarmaak en aftrek na die vallei van Josafat toe. Daar sal Ek as Regter optree om hulle almal te straf. Hulle sondes is so verskriklik. Hulle moet afgesny word soos ryp koring met ’n sekel afgesny word. Hulle moet fyngetrap word soos ’n mens druiwe in ’n parskuip trap totdat die wyn oor al die kante stroom. Hordes mense wag nou daar op die plek waar die Here se vyande bymekaar is. Binnekort sal die groot dag van die Here aanbreek wanneer Hy eens en vir altyd met hulle sal afreken. Die son en die maan sal pikdonker word en die sterre sal ophou skyn. Dan sal die Here se stem soos die gebrul van ’n leeu uit Sion opklink. Sy magtige stem daar uit Jerusalem sal die hemel en aarde van vrees laat bewe. Maar vir sy eie mense sal die Here soos ’n wegkruipplek wees waar hulle veilig is teen gevaar. Die Here sal vir hulle wees soos ’n stad met hoë, breë mure wat hulle beskerm teen al hulle vyande. In daardie tyd sal julle besef dat Ek, die Here julle God, daar van my berg Sion af heers. Dan sal Jerusalem se mense volledig aan My behoort en doen wat Ek sê. Geen volk wat My verwerp, sal dit ooit weer inneem nie.