Joël 3:9-17

Joël 3:9-17 ABA

Julle moet vir die volke skree en sê: “Julle moet gereedmaak en julle moet gaan oorlog maak. Roep die soldate, al die soldate moet kom en hulle moet gaan oorlog maak. Julle moet swaarde en spiese maak van die skerp ysters waarmee julle ploeg en bome se takke afsny. 'n Man wat nie sterk is nie, moet ook sê: ‘Ek is 'n soldaat!’ Die volke wat daar naby woon, moet gou maak en bymekaarkom, en die Here moet sy soldate bring. Die volke moet na die Josafat-vallei kom, want daar sal Ek die regter wees. Ek sal die volke straf wat naby woon. Dit is nou die tyd om hulle te straf. Die volke is soos koring wat ryp is. Bring die sekel en sny hulle af! Trap die druiwe, want die parskuip is vol, dit loop oor. Daar is baie slegte mense vir wie Ek sal straf! Daar sal baie mense wees, baie mense, op daardie plek waar die Here die mense sal oordeel. Die dag van die Here is naby, die dag wanneer Hy die mense sal oordeel. Die son en die maan sal donker word, die sterre sal nie meer skyn nie. Die Here sal hard praat uit Jerusalem, so hard soos 'n leeu wat brul. Die hemel en die aarde sal bewe, maar die Here sal sy volk beskerm. Die Israeliete sal veilig wees by Hom. Dan sal julle weet dat Ek, die Here, op Sionsberg woon. Ek is julle God die Here, en Sion is my gewyde berg. Jerusalem sal 'n gewyde stad wees. Vyande sal nooit weer deur die stad gaan nie.”