JOHANNES 11:33-57
JOHANNES 11:33-57 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.” Jesus het gehuil. Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!” Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?” Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was 'n rotsgraf, en daar was 'n klip voor die ingang gerol. Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?” Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met 'n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.” Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom. Maar party van hulle het na die Fariseërs toe gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Joodse Raad bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man doen baie wondertekens. As ons hom so laat aangaan, sal al die mense in hom glo, en dan kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.” Een van hulle, 'n sekere Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het egter vir hulle gesê: “Julle verstaan niks, en julle besef ook nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.” Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die nasie sou sterwe. En Hy sou nie net vir die nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring. Van daardie dag af was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak. Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na 'n dorp met die naam Efraim. Daar het Hy met sy dissipels 'n rukkie gebly. Die paasfees van die Jode was naby. Baie mense het voor die paasfees van die platteland af na Jerusalem toe gegaan om hulle te reinig. Hulle het daar na Jesus gesoek en waar hulle in die tempel gestaan het, vir mekaar gesê: “Hoe dink julle? Hy sal seker nie fees toe kom nie, of hoe?” Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe al klaar opdrag gegee dat as iemand weet waar Hy is, hy dit moet aangee sodat hulle Hom gevange kan neem.
JOHANNES 11:33-57 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het gesien Maria huil. Hy het gesien die Jode wat saam met haar gekom het, huil ook. Toe was Jesus baie hartseer en ontsteld. Hy het gevra: “Waar het julle vir Lasarus begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk, ons sal vir U gaan wys.” Jesus het gehuil. Die Jode het gesê: “Kyk, Jesus huil, hy was baie lief vir Lasarus.” Party Jode het gesê: “Jesus het die blinde man laat sien. Hoekom het hy vir Lasarus laat sterf?” Toe Jesus by die graf kom, het Hy weer baie hartseer geword. Die graf was 'n grot en daar was 'n klip voor die ingang. Jesus het gesê hulle moet die klip wegrol. Marta, die suster van Lasarus, het vir Jesus gesê: “Nee, Here, ons kan dit nie doen nie. Lasarus is vier dae in die graf en dit sal sleg ruik.” Jesus het vir haar gesê: “Ek het vir jou gesê jy moet glo, dan sal jy sien God sal wys dat Hy God is.” Die Jode het die klip weggerol. Jesus het na die hemel gekyk en gesê: “Vader, dankie dat U my gebed hoor. Ek sê dit sodat die mense wat hier rondom My staan, kan glo dat U My na die wêreld gestuur het. Ek weet U luister altyd na my gebed.” Toe Jesus klaar gebid het, het Hy hard geskree en gesê: “Lasarus, kom uit die graf!” Lasarus, die man wat gesterf het, het uit die graf gekom. Die grafdoeke was nog om sy voete en hande, en daar was 'n kopdoek oor sy gesig. Jesus het vir hulle gesê: “Haal die grafdoeke van Lasarus af sodat hy huis toe kan gaan.” Baie Jode wat na Maria toe gekom het, het gesien hoe Jesus vir Lasarus weer laat lewe het, en hulle het in Jesus geglo. Maar party Jode het na die Fariseërs toe gegaan en het vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. Die priesterleiers en die Fariseërs het vergadering gehou. Hulle het gesê: “Jesus doen so baie wondertekens, ons weet nie wat ons moet doen nie. As ons niks aan Jesus doen nie, dan sal al die mense in hom glo. Dan sal die Romeine ons tempel afbreek en ons volk verwoes.” Kajafas was een van die mense wat by die vergadering was. Hy was daardie jaar die hoëpriester. Hy het vir hulle gesê: “Julle weet niks, julle verstaan nie dat dit beter is as een mens sterf en nie die hele volk nie. Dan sal die hele volk nie verlore gaan nie.” Kajafas se woorde het nie van homself gekom nie. Hy was daardie jaar hoëpriester, daarom het God hom laat sê wat sal gebeur. Kajafas het gesê Jesus sal sterf sodat die volk kan lewe. Maar Jesus het nie net gesterf sodat die volk kan lewe nie, Hy het ook gesterf om die kinders van God bymekaar te bring, God se kinders wat in baie lande van die wêreld woon. Van toe af het die Joodse leiers planne gemaak om Jesus dood te maak. In die provinsie Judea het die Jode almal geweet waar Jesus is. Daarom het Hy nie daar gebly nie, Hy het weggegaan na die stad Efraim. Efraim was in 'n deel van die land naby die woestyn. Hy het daar gaan bly saam met sy dissipels. Dit was tyd vir die Joodse Paasfees. Baie mense het na Jerusalem gegaan. Hulle het gegaan voor die Paasfees begin het, want hulle wou hulleself eers reinig. Toe het die mense begin om vir Jesus te soek. Hulle het vir mekaar in die tempel gevra: “Wat dink julle? Sal Jesus na die Paasfees kom, of nie?” Die priesterleiers en die Fariseërs het vir al die mense gesê: “As julle weet waar Jesus is, dan moet julle vir ons sê. Ons wil hom vang.”
JOHANNES 11:33-57 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel en gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk. Jesus het geween. Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het! En sommige van hulle sê: Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie? En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom. En dit was 'n spelonk, en 'n steen het daarteen gelê. Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood. Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie? Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. En nadat Hy dit gesê het, het Hy met 'n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met 'n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan. EN baie van die Jode wat na Maria gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo. Maar sommige van hulle het na die Fariseërs gegaan en hulle vertel wat Jesus gedoen het. En die owerpriesters en die Fariseërs het die Raad byeengeroep en gesê: Wat sal ons doen? — want hierdie man doen baie tekens. As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem. En een van hulle, Kájafas, wat daardie jaar hoëpriester was, sê vir hulle: Julle weet niks nie en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie. En dit het hy nie uit homself gesê nie; maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterwe. En nie alleen vir die volk nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot 'n eenheid saam te voeg. Van dié dag af het hulle toe saam beraadslaag om Hom om die lewe te bring. Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode gewandel nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na 'n stad met die naam van Efraim. En daar het Hy vertoef met sy dissipels. En die pasga van die Jode was naby; en baie het uit dié landstreek na Jerusalem opgegaan voor die pasga om hulle te reinig. En hulle het Jesus gesoek; en terwyl hulle in die tempel staan, sê hulle vir mekaar: Wat dink julle, sal Hy nie na die fees kom nie? En die owerpriesters en die Fariseërs het ook 'n bevel gegee dat as iemand wis waar Hy was, hy dit moes bekend maak, sodat hulle Hom gevange kon neem.
JOHANNES 11:33-57 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.” Jesus het gehuil. Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!” Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?” Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was 'n rotsgraf, en daar was 'n klip voor die ingang gerol. Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?” Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met 'n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.” Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom. Maar party van hulle het na die Fariseërs toe gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Joodse Raad bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man doen baie wondertekens. As ons hom so laat aangaan, sal al die mense in hom glo, en dan kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.” Een van hulle, 'n sekere Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het egter vir hulle gesê: “Julle verstaan niks, en julle besef ook nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.” Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die nasie sou sterwe. En Hy sou nie net vir die nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring. Van daardie dag af was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak. Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na 'n dorp met die naam Efraim. Daar het Hy met sy dissipels 'n rukkie gebly. Die paasfees van die Jode was naby. Baie mense het voor die paasfees van die platteland af na Jerusalem toe gegaan om hulle te reinig. Hulle het daar na Jesus gesoek en waar hulle in die tempel gestaan het, vir mekaar gesê: “Hoe dink julle? Hy sal seker nie fees toe kom nie, of hoe?” Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe al klaar opdrag gegee dat as iemand weet waar Hy is, hy dit moet aangee sodat hulle Hom gevange kan neem.
JOHANNES 11:33-57 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Jesus haar sien huil, en dat ook die Jode huil wat saam met haar gekom het, het dit Hom hewig ontstel, en Hy het diep bewoë geword. Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle sê vir Hom: “Here, kom kyk.” Jesus het begin huil. Daarop het die Jode gesê: “Kyk hoe lief het Hy hom gehad!” Maar sommige van hulle het gesê: “Kon Hy wat die oë van die blinde man oopgemaak het, tog nie voorkom het dat hierdie man sterf nie?” Jesus het toe, opnuut hewig ontsteld, na die graf gegaan. Dit was 'n rotsgraf en 'n groot klip het daarteen gelê. Jesus het gesê: “Vat die klip weg.” Martha, die suster van die oorledene, sê toe vir Hom: “Here, hy ruik reeds, want dit is al die vierde dag.” Jesus sê vir haar: “Het Ek dan nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” Hulle het toe die klip weggeskuif. Jesus het sy oë opgehef na bo en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek het dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. ” En nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom. Sy voete en hande was met grafdoeke vasgebind, en sy gesig met 'n kopdoek toegedraai. Jesus sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.” Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo. Maar sommige van hulle het na die •Fariseërs gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. Gevolglik het die leierpriesters en die Fariseërs die Sanhedrin byeengeroep en gesê: “Wat gaan ons maak? Want hierdie man doen baie tekens. As ons hom so laat aangaan, sal almal in hom glo, en sal die Romeine kom en ons plek en ons volk vernietig.” En een van hulle, Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het vir hulle gesê: “Julle verstaan niks nie. Julle besef nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterf en die hele volk nie ondergaan nie.” En dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar, omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterf – en nie net vir die volk nie, maar ook om die kinders van God wat oral verstrooi is, te verenig. Van daardie dag af het hulle saam beraadslaag om Hom dood te maak. Daarom het Jesus nie meer openlik onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan vertrek na die streek naby die woestyn, na 'n dorp met die naam Efraim. En daar het Hy saam met sy dissipels vertoef. Die Joodse Pasga was naby, en baie mense het voor die Pasga van die platteland na Jerusalem opgegaan om hulleself te reinig. Hulle was op die uitkyk vir Jesus; en waar hulle op die tempelterrein gestaan het, het hulle vir mekaar gesê: “Wat dink julle? Dat Hy glad nie na die fees sal kom nie?” Die leierpriesters en die Fariseërs het reeds opdrag gegee dat as enigiemand weet waar Jesus is, hy dit moes rapporteer, sodat hulle Hom kon arresteer.
JOHANNES 11:33-57 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het ook ween, het Hy in die gees gekreun en was ontsteld. En gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk. Jesus het gehuil. Toe sê die Jode: Kyk hoe lief het hy hom gehad! En sommige van hulle het gesê: Kon hierdie man wat die oë van die blindes oopgemaak het, nie veroorsaak het dat selfs hierdie man nie gesterf het nie? Jesus kom dan weer in homself kreunend na die graf. Dit was 'n grot, en 'n klip het daarop gelê. Jesus sê: Neem die klip weg. Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy stink teen hierdie tyd, want hy is al vier dae dood. Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê dat, as jy glo, jy die heerlikheid van God sou sien nie? Toe het hulle die klip weggeneem van die plek waar die dooies neergelê is. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. En ek het geweet dat U na my altyd luister, maar ter wille van die mense wat daarby staan, het ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U my gestuur het. En toe Hy dit gesê het, het Hy met 'n groot stem uitgeroep: Lasarus, kom uit! En die dooie het uitgekom, met grafdoeke aan hande en voete gebind, en sy gesig was met 'n doek omgebind. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan. En baie van die Jode wat na Maria gekom het en die dinge gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo. Maar sommige van hulle het na die Fariseërs gegaan en hulle vertel wat Jesus gedoen het. Toe het die owerpriesters en die Fariseërs 'n raad vergader en gesê: Wat doen ons? want hierdie man doen baie wonders. As ons hom so laat staan, sal almal in hom glo; en die Romeine sal kom en ons plek sowel as ons nasie wegneem. En een van hulle, met die naam van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het vir hulle gesê: Julle weet hoegenaamd niks nie. Moenie dink dat dit vir ons nuttig is dat een man vir die volk moet sterf en dat die hele nasie nie omkom nie. En dit het hy nie uit homself gespreek nie, maar hy was daardie jaar hoëpriester en het geprofeteer dat Jesus vir daardie nasie sou sterf; En nie alleen vir daardie nasie nie, maar dat hy ook die kinders van God wat oor die wêreld verstrooi was, in een bymekaar sou bring. Toe het hulle van daardie dag af saam beraadslaag om Hom dood te maak. Jesus het dan nie meer openlik onder die Jode gewandel nie; maar daarvandaan na 'n land naby die woestyn gegaan, na 'n stad met die naam van Efraim, en daar gebly met sy dissipels. En die pasga van die Jode was naby, en baie het voor die pasga uit die land opgetrek na Jerusalem om hulleself te reinig. Hulle het toe na Jesus gesoek en onder mekaar gesê terwyl hulle in die tempel staan: Wat dink julle dat Hy nie na die fees sal kom nie? En die owerpriesters sowel as die Fariseërs het 'n bevel gegee dat, as iemand weet waar hy is, hy dit moes te kenne gee, dat hulle hom kon neem.
JOHANNES 11:33-57 Die Boodskap (DB)
Toe Jesus haar snikke hoor en ook hoor hoe die Jode huil wat saam met haar was, het Hy ’n knop in sy keel gekry. Hy het baie hartseer gevoel. “Waar is hy begrawe?” vra Jesus. “Kom saam, Here, ons gaan wys U,” sê hulle. Jesus kon sy trane nie meer keer nie. Hy het gehuil. “Kyk net! Hy moes Lasarus darem baie liefgehad het!” sê party Jode toe, terwyl ander sê: “Ons wonder darem. Julle weet, Hy het mos ’n blinde laat sien. Kon Hy nie dalk iets gedoen het sodat Lasarus nie doodgegaan het nie?” Jesus was nog steeds baie hartseer toe Hy by die graf kom. Lasarus se lyk was in ’n soort grot begrawe. Die ingang was met ’n groot rots toegemaak. “Vat weg die rots,” sê Jesus. Marta probeer nog keer: “Asseblief, Here! Hy lê al dae daar. ’n Mens kan al die liggaam ruik.” “Marta, Marta!” sê Jesus vir haar. “Vergeet jy so gou? Ek het netnou nog vir jou gesê dat as jy My vertrou, jy sal sien wat God regtig kan doen.” Hulle vat toe die rots weg. Jesus maak sy oë toe en bid: “Vader, dankie dat U altyd luister as Ek iets vra. Hier staan baie mense rond. Ter wille van hulle praat Ek so. Wanneer hulle My hoor bid en sien wat gebeur, sal hulle begin besef dat Ek van U af kom.” Toe roep Jesus hard uit: “Lasarus, kom uit!” Daar verskyn Lasarus toe in die ingang van die graf. Oomblikke tevore was hy nog dood. Nou staan hy daar, lewendig! Hy was van kop tot tone in linnelappe toegedraai. Selfs die lap wat oor sy gesig gesit is, was nog daar. Jesus sê toe: “Haal die lappe van hom af, sodat hy self hier kan wegstap.” Die Jode wat saam met Maria gekom het, het nog daar gestaan. Hulle het alles gesien wat Jesus gedoen het. Baie van hulle het daar en dan sy volgelinge geword. ’n Klompie het egter by die Fariseërs gaan nuus aandra. Hulle het hulle alles vertel wat Jesus gedoen het. Die leiers vra toe dat die Joodse Raad bymekaar moes kom. Die Raad was eintlik die godsdienstige parlement van die Jode. “Wat gaan ons nou doen?” vra hulle raadop. “Kyk net wat vang hierdie man alles aan. Kyk al die wonders! As ons hom toelaat om so aan te gaan, stroom al die mense netnou agter hom aan. En daarvan gaan die Romeine niks hou nie. Hulle sal weer dink dit is die een of ander opstand. Dan gaan hulle kom en alles met die grond gelykmaak - ons en al die ander mense inkluis.” Kajafas kry toe kans om iets te sê. Hy was nie net ’n lid van die Joodse Raad nie, maar ook daardie jaar die voorsitter daarvan. Hy begin toe so: “Van dié soort dinge weet julle net mooi niks. Maar luister, ek het ’n plan. Dink net hoe goed dit vir ons en die volk kan wees om van hierdie man ontslae te raak. Maak hom dood en dan sal die Romeine tevrede wees. So sal die hele volk nie hoef te sterf nie, maar net hierdie een man. Laat hy in plaas van hulle doodgemaak word.” Hoewel hy hierdie woorde gesê het, was dit eintlik nie regtig hy wat gepraat het nie. Onthou, hy was daardie jaar die voorsitter van die Joodse Raad, ja, hoëpriester! Dit was God wat deur hom gepraat het. Hy was eintlik ’n boodskapper van God toe hy gesê het dat Jesus moes sterf sodat die volk kon bly leef. En dit was nie net bedoel vir die klompie Jode wat in Jerusalem gebly het nie. Nee, dit was bedoel vir al God se kinders, waar hulle ook al in hierdie wêreld mag wees. Jesus het gesterf, sodat hulle ook die ewige lewe kan kry en so aan die een gesin van God kan behoort. Sommer op daardie vergadering het die Raad besluit om Jesus dood te maak. Jesus het toe besluit om maar vir eers weg te bly van daardie Jode af. Daarom het Hy koers gekies die droë platteland in. Hy is saam met sy dissipels na die plek met die naam Efraim toe, ’n dorpie aan die rand van die woestyn. Dit was ook weer tyd vir die paasfees. Die mense het van oral uit die platteland na Jerusalem gestroom. Hulle wou betyds daar kom om alles vir die feesvierings reg te kry. Jesus was die groot onderwerp van bespreking. Terwyl die mense in die tempel rondgestaan het, het hulle by mekaar probeer uitvis: “Wat dink julle? Gaan hy sy gesig hier by die fees wys?” Jesus was ook druk onder bespreking by die Fariseërs en die leiers van die priesters. Hulle het die mense gevra om op die uitkyk te wees vir Hom. As iemand Hom gewaar, moes hy hulle dadelik laat weet. Hulle sou dan die polisie stuur om Hom te gaan vang.
JOHANNES 11:33-57 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Jesus sien dat sy huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het Hy bewoë geraak en was diep ontsteld. Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle antwoord: “Here, kom kyk.” Jesus begin toe huil. Die Jode sê toe: “Kyk net hoe lief was hy vir Lasarus!” Sommige van die omstanders het gesê: “Was hierdie man wat die oë van die blinde oopgemaak het, dan nie ook in staat om te keer dat Lasarus sterf nie?” Jesus het weer bewoë geword toe Hy by die graf kom. Die graf was ’n grot en ’n klip was voor die opening gerol. Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, Lasarus se suster, sê vir Jesus: “Meneer, hy ruik seker reeds, want dit is die vierde dag.” Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” Daarop het hulle die klip weggerol. Jesus het sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, Ek is dankbaar teenoor U dat U na My geluister het. Ek weet dat U altyd na My luister; tog het Ek dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom ons staan, dat hulle kan glo dat U My gestuur het.” Nadat Hy dit gesê het, het Hy met ’n kragtige stem uitgeroep: “Lasarus, kom uit!” Die dooie het uitgekom, sy voete en hande nog toegedraai in doeke en sy gesig nog verbind met ’n kopdoek. Jesus sê vir hulle: “Maak die doeke los en laat hom gaan.” Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom begin glo. Sommige van hulle het egter na die Fariseërs toe gegaan en by hulle gaan skinder oor wat Jesus gedoen het. Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Sanhedrin bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man hou aan om baie wondertekens te doen. As ons hom maar net so laat begaan, sal almal in hom glo en dan sal die Romeine kom en die tempel en ons nasie tot niet maak.” Een van hulle, Kajafas, wat hoofpriester was gedurende daardie jaar, het opgemerk: “Julle is baie kortsigtig. Julle besef nie dat dit vir julle voordeliger is dat een mens vir die volk sterf en nie die hele volk tot niet gaan nie.” Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar aangesien hy gedurende daardie jaar hoofpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus ter wille van die nasie sou sterf. En nie net ter wille van die nasie alleen nie, maar ook om die kinders van God wat oor die wêreld verspreid is, tot ’n eenheid bymekaar te bring. Van daardie dag af het hulle planne gesmee om Hom dood te maak. Gevolglik het Jesus nie meer openlik tussen die Jode rondbeweeg nie, maar van daar af vertrek na die gebied wat na aan die woestyn geleë was en Efraim genoem is. Daar het Hy saam met sy dissipels oorgebly. Die Paasfees van die Jode was naby. Baie mense het van die platteland af na Jerusalem toe gegaan met die doel om hulleself voor die begin van die fees ritueel te gaan was. Hulle het toe vir Jesus daar rond gesoek en waar hulle in die tempel gestaan het, vir mekaar gesê: “Wat dink julle, hy sal tog sekerlik nie Fees toe kom nie?” Die priesterhoofde en die Fariseërs het intussen reeds opdragte uitgevaardig dat as iemand weet waar Jesus Hom bevind, hy die inligting moes deurgee sodat hulle Hom kon arresteer.