Toe Jesus haar sien huil, en dat ook die Jode huil wat saam met haar gekom het, het dit Hom hewig ontstel, en Hy het diep bewoë geword. Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle sê vir Hom: “Here, kom kyk.” Jesus het begin huil. Daarop het die Jode gesê: “Kyk hoe lief het Hy hom gehad!” Maar sommige van hulle het gesê: “Kon Hy wat die oë van die blinde man oopgemaak het, tog nie voorkom het dat hierdie man sterf nie?”
Jesus het toe, opnuut hewig ontsteld, na die graf gegaan. Dit was 'n rotsgraf en 'n groot klip het daarteen gelê. Jesus het gesê: “Vat die klip weg.” Martha, die suster van die oorledene, sê toe vir Hom: “Here, hy ruik reeds, want dit is al die vierde dag.” Jesus sê vir haar: “Het Ek dan nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” Hulle het toe die klip weggeskuif. Jesus het sy oë opgehef na bo en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek het dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. ” En nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom. Sy voete en hande was met grafdoeke vasgebind, en sy gesig met 'n kopdoek toegedraai. Jesus sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.”
Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo. Maar sommige van hulle het na die •Fariseërs gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. Gevolglik het die leierpriesters en die Fariseërs die Sanhedrin byeengeroep en gesê: “Wat gaan ons maak? Want hierdie man doen baie tekens. As ons hom so laat aangaan, sal almal in hom glo, en sal die Romeine kom en ons plek en ons volk vernietig.” En een van hulle, Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het vir hulle gesê: “Julle verstaan niks nie. Julle besef nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterf en die hele volk nie ondergaan nie.” En dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar, omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterf – en nie net vir die volk nie, maar ook om die kinders van God wat oral verstrooi is, te verenig. Van daardie dag af het hulle saam beraadslaag om Hom dood te maak.
Daarom het Jesus nie meer openlik onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan vertrek na die streek naby die woestyn, na 'n dorp met die naam Efraim. En daar het Hy saam met sy dissipels vertoef.
Die Joodse Pasga was naby, en baie mense het voor die Pasga van die platteland na Jerusalem opgegaan om hulleself te reinig. Hulle was op die uitkyk vir Jesus; en waar hulle op die tempelterrein gestaan het, het hulle vir mekaar gesê: “Wat dink julle? Dat Hy glad nie na die fees sal kom nie?” Die leierpriesters en die Fariseërs het reeds opdrag gegee dat as enigiemand weet waar Jesus is, hy dit moes rapporteer, sodat hulle Hom kon arresteer.