Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel
en gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk.
Jesus het geween.
Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het!
En sommige van hulle sê: Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie?
En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom. En dit was 'n spelonk, en 'n steen het daarteen gelê.
Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood.
Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?
Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het;
en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.
En nadat Hy dit gesê het, het Hy met 'n groot stem geroep: Lasarus, kom uit!
En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met 'n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan.
EN baie van die Jode wat na Maria gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo.
Maar sommige van hulle het na die Fariseërs gegaan en hulle vertel wat Jesus gedoen het.
En die owerpriesters en die Fariseërs het die Raad byeengeroep en gesê: Wat sal ons doen? — want hierdie man doen baie tekens.
As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem.
En een van hulle, Kájafas, wat daardie jaar hoëpriester was, sê vir hulle: Julle weet niks nie
en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie.
En dit het hy nie uit homself gesê nie; maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterwe.
En nie alleen vir die volk nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot 'n eenheid saam te voeg.
Van dié dag af het hulle toe saam beraadslaag om Hom om die lewe te bring.
Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode gewandel nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na 'n stad met die naam van Efraim. En daar het Hy vertoef met sy dissipels.
En die pasga van die Jode was naby; en baie het uit dié landstreek na Jerusalem opgegaan voor die pasga om hulle te reinig.
En hulle het Jesus gesoek; en terwyl hulle in die tempel staan, sê hulle vir mekaar: Wat dink julle, sal Hy nie na die fees kom nie?
En die owerpriesters en die Fariseërs het ook 'n bevel gegee dat as iemand wis waar Hy was, hy dit moes bekend maak, sodat hulle Hom gevange kon neem.