JEREMIA 6:1-9
JEREMIA 6:1-9 Bybel vir almal (ABA)
Die Here sê: “Mense van Benjamin, julle moet vlug uit Jerusalem. Julle moet die ramshoring blaas in die stad Tekoa en in die stad Bet-Kerem moet julle rook maak om mense te waarsku, want die vyande kom uit die noorde, en dit sal sleg gaan met julle. Jerusalem is soos 'n baie mooi weiveld, die konings kom daarnatoe met hulle soldate, soos die skaapboere kom met hulle troppe skape. Hulle slaan hulle tente op rondom die weiveld en elkeen laat wei sy skape op die plek waar hy kom. Die konings sê: ‘Maak gereed om oorlog te maak teen die stad. Kom ons val hulle aan in die middel van die dag.’ Maar as dit te laat in die dag word, dan sê hulle: ‘Maak gereed, kom ons val hulle aan in die nag en ons verwoes hulle mooi huise.’ ” Ja, die Here wat oor alles regeer, sê: “Kap bome af en gooi grond teen die muur sodat die soldate oor die muur van die stad kan klim. Ek wil die mense in Jerusalem straf, want hulle het aangehou om mense te laat swaarkry. 'n Put hou aan om vars water te gee, en net so hou hulle aan om verkeerde dinge te doen. Ek hoor hoe hulle mense laat swaarkry en hoe hulle die mense seermaak, Ek sien altyd net siekte en seerplekke. Ek waarsku julle, mense van Jerusalem, as julle dit aanhou doen, dan sal Ek weggaan van julle en julle land leegmaak, daar sal nie meer mense woon nie.” Die Here wat oor alles regeer, sê
JEREMIA 6:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VLUG, kinders van Benjamin, uit Jerusalem uit; en blaas die basuin in Tekóa, en hef 'n vuurteken op bo Bet-Hakkérem; want onheil dreig uit die Noorde en groot verwoesting. Die mooie en die verwénde verdelg Ek — die dogter van Sion. Herders met hulle troppe vee sal na haar toe kom; hulle slaan tente op teen haar rondom, hulle wei af, elkeen sover as hy kan bykom. Heilig die oorlog teen haar! Staan op, en laat ons optrek op die middag! Wee ons, want die dag gaan verby, want die aandskaduwees word langer! Staan op, en laat ons optrek in die nag, en laat ons haar paleise verwoes! Want so sê die HERE van die leërskare: Kap haar bome af, en gooi teen Jerusalem 'n wal op; dit is die stad wat besoek word; binne-in haar is net verdrukking. Soos 'n put sy water fris hou, so hou sy haar boosheid fris; geweld en verdrukking word in haar gehoor, siektes en wonde is gedurig voor my aangesig. Laat jou tugtig, Jerusalem, dat my siel nie van jou vervreemd word nie, dat Ek jou nie 'n wildernis maak, 'n onbewoonde land nie. So sê die HERE van die leërskare: Hulle sal die oorblyfsel van Israel skoon afoes soos 'n wingerdstok. Slaan jou hand weer soos 'n druiwesnyer aan die lote!
JEREMIA 6:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Mense van Benjamin, gaan soek veiligheid buite Jerusalem, blaas die ramshoring in Tekoa, gee vuurseine by Bet-Kerem, want daar dreig onheil uit die noorde, 'n groot ramp. Sion is soos 'n mooi maar verwénde dogter, Ek sal hom vernietig. Konings sal na hom toe kom met hulle leërs, hulle sal hulle tente rondom opslaan om teen die stad te veg, elkeen sal 'n eie stuk inneem. Hulle sal sê: “Verklaar oorlog teen hom; kom ons val hom helder oordag aan! Nee, die dag is al verby, die aandskaduwees is al lank. Kom ons val hom in die nag aan en vernietig sy mooi huise!” So sê die Here die Almagtige: Kap bome af en gooi 'n wal op teen Jerusalem. Dit is die stad wat veroordeel is, want verdrukking is daar aan die orde van die dag. Soos 'n put sy water vars hou, so hou die stad sy boosheid vars; al waarvan Ek daar hoor, is geweld en vernietiging, al wat Ek sien, siekte en wonde. Jerusalem, neem die waarskuwing ter harte, sodat Ek nie my rug vir jou draai nie, sodat Ek jou nie 'n woesteny maak nie, 'n land waarin niemand woon nie. So sê die Here die Almagtige
JEREMIA 6:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Soek skuiling, mense van Benjamin, weg van Jerusalem af; blaas selfs in Tekoa 'n •ramshoring! Stuur 'n rooksein op bokant Bet-Hakkêrêm! Want onheil doem op uit die noorde – 'n groot ineenstorting dreig. Die pragtige en fynbesnaarde, die dogter van Sion, vernietig Ek. Na haar toe sal herders kom met hulle kuddes. Op haar slaan hulle tente op, reg rondom. Elkeen bewei sy strook.” “ Heilig 'n oorlog teen haar! Maak gereed! Laat ons teen die middag opruk! Wee ons! Want die dag gaan verby – die aandskaduwees word lank. Maak gereed! Laat ons in die nag opruk; laat ons haar vestings verwoes!” Ja, so sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Kap bome af! Hoop 'n beleëringswal op teen Jerusalem – dít is die stad! Alles in haar is op bruikleen; daar is afgeperste goedere binne-in haar. Soos 'n put sy water vars hou, hou sy haar boosheid vars. ‘Geweld!’ en ‘Verdrukking!’ word in haar gehoor. Voor my oë is daar voortdurend lyding en verwonding. Aanvaar die teregwysing, Jerusalem; anders ruk Ek Myself van jou los; anders maak Ek jou 'n woesteny, 'n land wat nie bewoon word nie.” So sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Soos met die naoes van 'n wingerdstok, sal hulle die oorblyfsel van Israel skoon afoes. Bring jou hand telkens terug na die lote soos een wat druiwe snoei!”
JEREMIA 6:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
O kinders van Benjamin, kom bymekaar om uit Jerusalem te vlug en op die basuin te blaas in Tekoa en 'n teken van vuur op te rig in Bet-Hakkerem, want onheil verskyn uit die noorde en groot verwoesting. Ek het die dogter van Sion vergelyk met 'n mooi en vriendelike vrou. Die herders met hulle kleinvee sal na haar toe kom; hulle moet hulle tente rondom haar opslaan; hulle moet elkeen op sy plek voed. Berei oorlog teen haar voor; staan op, en laat ons die middag optrek. Wee ons! want die dag gaan weg, want die skaduwees van die aand is uitgestrek. Staan op, en laat ons in die nag gaan, en laat ons haar paleise verwoes. Want so het die HERE van die leërskare gesê: Kap bome af en gooi 'n berg teen Jerusalem op: dit is die stad wat besoek moet word; sy is geheel en al onderdrukking in haar midde. Soos 'n fontein sy waters uitstoot, so dryf sy haar boosheid uit; geweld en buit word in haar gehoor; voor my is voortdurend verdriet en wonde. Laat jou onderrig word, o Jerusalem, dat my siel nie van jou afwyk nie; dat Ek jou nie 'n woesteny maak, 'n onbewoonde land nie. So sê die HERE van die leërskare: Hulle sal die oorblyfsel van Israel heeltemal afhaal soos 'n wingerdstok; draai jou hand terug soos 'n druiwegaarder in die mandjies.
JEREMIA 6:1-9 Die Boodskap (DB)
Mense van Benjamin, maak dat julle wegkom uit Jerusalem uit! Maak alarm om die mense van Tekoa te waarsku! Stuur rookseine op van Bet-Kerem af! Sorg dat almal gewaarsku is: ’n Baie groot mag is uit die noorde uit op pad en sal groot skade aanrig. Jerusalem is soos ’n meisie wat mooi en fyn is. Maar die Here sê: “Ek sal haar verwoes.” Die vyandelike troepe sal die stad omsingel. Hulle sal die gebied rondom die stad onder hulleself verdeel en daar kamp opslaan. Dan sal die bevel gegee word: “Maak reg om die stad teen die middag aan te val!” Maar ander sal sê: “Dit is te laat om dit te doen, die dag is al amper verby. Kyk net hoe lank het die skaduwees al geword. Kom ons val liewer die stad in die nag aan en dan vernietig ons die plekke wat vir verdediging gebruik word.” Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Sny bome af en bou ’n oprit met hierdie bome teen die mure van Jerusalem. So kan die stad dan ingeneem word. Hierdie stad moet gestraf word, want baie mense in die stad het nie vryheid nie, maar word onderdruk. Jerusalem is soos ’n put wat aanhou vars water gee. Die mense van die stad hou net aan met geweld en die mishandeling van mense. Ek sien net altyd mense wat siek is en gewond in die stad lê. Dit is jou laaste waarskuwing, Jerusalem! As julle nie luister nie, sal Ek My van julle losmaak. Ek sal julle stad verwoes en geen mense sal daarin bly nie.” Die Here sê: “’n Wingerd word dikwels ’n tweede keer deurgewerk op soek na trossies druiwe wat dalk oorgeslaan is. Dieselfde sal met Israel gebeur. Party van die mense is reeds uit die land uit weggevat. Maar die mense wat in die land agtergebly het, sal weer aangeval word.”
JEREMIA 6:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Mense van Benjamin, vlug weg uit Jerusalem! Blaas die trompet in Tekoa! Stuur rookseine op in Bet-Hakerem! Waarsku almal dat ’n groot mag uit die noorde op pad is en groot skade gaan aanrig. Jerusalem is soos ’n meisie, mooi en fyn, maar Ek sal haar verwoes. Vyandelike skaapwagters sal jou omsingel. Hulle sal rondom jou kamp opslaan en jou weiveld verdeel vir hulle kuddes. Hulle skreeu: ‘Maak julle reg om teen die middag die stad aan te val! Wag. Die dag is al amper verby. Die aandskaduwees is al lank. Kom ons val liewer die stad in die nag aan en vernietig die paleise.’” Die HERE, die Almagtige, sê: “Kap bome af om stormramme te maak en bou skuinswalle teen die mure van Jerusalem. Hierdie stad verdien straf, want sy verdruk baie mense. Soos ’n put wat aanhou vars water gee, so hou die mense van die stad aan met onreg. In die stad hoor ’n mens die klank van geweld en mishandeling. Ek sien voortdurend net siek en gewonde mense. Dit is jou laaste waarskuwing, Jerusalem! As jy nie luister nie, sal Ek My van jou losmaak. Ek sal jou verwoes, en jou maak soos ’n onbewoonde land.” Die HERE, die Almagtige, sê: “Laat hulle die oorblyfsel van Israel afoes soos ’n mens ’n wingerd afoes. Laat jou hand weer oor die ranke gaan soos iemand wat elke tros druiwe wil pluk.”