JEREMIA 6

6
’n Laaste waarskuwing vir Jerusalem
1“Mense van Benjamin,
vlug weg uit Jerusalem!
Blaas die trompet in Tekoa!
Stuur rookseine op
in Bet-Hakerem!
Waarsku almal dat ’n groot mag
uit die noorde op pad is
en groot skade gaan aanrig.
2Jerusalem#6:2 Grondteks Die dogter van Sion. is soos ’n meisie,
mooi en fyn,
maar Ek sal haar verwoes.
3Vyandelike skaapwagters
sal jou omsingel.
Hulle sal rondom jou
kamp opslaan
en jou weiveld verdeel
vir hulle kuddes.
4Hulle skreeu:
‘Maak julle reg om teen die middag
die stad aan te val!
Wag. Die dag is al amper verby.
Die aandskaduwees is al lank.
5Kom ons val liewer die stad
in die nag aan
en vernietig die paleise.’”
6Die Here, die Almagtige, sê:
“Kap bome af om stormramme
te maak
en bou skuinswalle
teen die mure van Jerusalem.
Hierdie stad verdien straf,
want sy verdruk baie mense.
7Soos ’n put wat aanhou vars
water gee,
so hou die mense van die stad
aan met onreg.
In die stad hoor ’n mens
die klank van geweld
en mishandeling.
Ek sien voortdurend
net siek en gewonde mense.
8Dit is jou laaste waarskuwing,
Jerusalem!
As jy nie luister nie,
sal Ek My van jou losmaak.
Ek sal jou verwoes,
en jou maak
soos ’n onbewoonde land.”
9Die Here, die Almagtige, sê:
“Laat hulle
die oorblyfsel van Israel afoes
soos ’n mens ’n wingerd afoes.
Laat jou hand weer
oor die ranke gaan
soos iemand
wat elke tros druiwe
wil pluk.”
Juda bly opstandig
10“Met wie sal Ek praat?
Wie sal luister
as Ek ’n waarskuwing gee?
Hulle ore is toe,
hulle kan nie luister nie.
Hulle minag die woorde
van die Here,
hulle vind geen vreugde
daarin nie.
11Die woede van die Here
brand in my.
Ek kan dit nie langer
inhou nie!
Ek stort dit uit op kinders
in die straat
en ook jongmense
waar hulle bymekaarkom.
Sowel mans as vroue en oumense
sal getref word.
12Die vyand sal kom en hierdie
mense se huise,
landerye en vroue afvat.
Ek sal die inwoners
van hierdie land
straf,” sê die Here.
13“Almal,
van die eenvoudigste
tot die vernaamste mense,
probeer rykdom bekom
op ’n onregmatige manier.
Selfs die profete en priesters
doen oneerlike dinge!
14Hulle probeer om my mense
se wonde
op ’n oppervlakkige manier
gesond te maak.
Hulle maak of daar vrede is,
terwyl daar eintlik
geen vrede is nie.
15Is hulle enigsins skaam
oor die gruwels
wat hulle doen?
Nee, hoegenaamd nie!
Hulle weet nie eers
hoe om te bloos nie!
Daarom sal hulle
tussen die gesneuweldes lê.
Hulle sal verneder word
wanneer Ek hulle straf,”
sê die Here.
Juda steur hulle nie aan die Here nie
16Die Here sê:
“Staan by die paaie en kyk.
Vra na die ou paaie.
Vra na die beste pad
en volg dit,
want julle sal daar ware rus vind.
Maar julle het gesê:
‘Ons sal nie luister nie.’
17Ek het mense aangestel om
oor julle te waak, en hulle roep:
‘Luister na die trompetgeskal!’
Maar julle sê:
‘Ons sal nie luister nie!’
18Luister, al die nasies.
Kyk wat met my volk
gaan gebeur.
19Let op wat gaan gebeur, aarde!
Ek bring rampe
oor my volk.
Hulle pluk net die vrug
van hulle eie planne,
want hulle het hulle nie gesteur
aan wat Ek sê nie.
Hulle het my opdragte verwerp.
20Daar is geen nut in
om vir My wierook uit Skeba
te brand,
of kalmoes uit ’n ver land te bring nie.
Julle brandoffers aanvaar Ek nie,
julle offers
verskaf My geen vreugde nie.”
21Daarom sê die Here:
“Ek bring struikelblokke
op die pad van my volk.
Pa’s en seuns sal daaroor val.
Bure en vriende
sal saam omkom.”
’n Inval uit die noorde
22Die Here sê:
“Kyk, ’n leër kom uit die noorde.
Dis ’n sterk nasie
uit ’n verafgeleë land.
23Hulle is gewapen
met pyl en boog en spiese.
Hulle is wreed
en toon geen genade nie.
As hulle ruiters optrek,
klink dit soos die gedruis
van die see.
Jerusalem, soldate trek op in formasie,
gereed om jou te vernietig.”
24Ons het berigte gehoor
oor die vyand.
Dit maak ons lam van vrees.
Vrees en pyn oorval ons
soos geboortepyne
wat ’n vrou ervaar.
25Moenie waag om in die veld
te stap nie!
Bly weg van die paaie!
Die vyand is gewapen,
hulle bring oral vrees.
26My volk,
trek rouklere aan,
en gaan sit in sak en as!
Rou en huil
met stukkende harte
asof ’n enigste kind dood is.
Die vernietigende vyand
gaan julle skielik aanval!
27“Jeremia,
Ek stel jou aan om
die gehalte van my volk te toets
net soos ’n mens
die gehalte van metaal
sou toets.
28Hulle is almal hardkoppig.
Hulle loop oral en kwaadpraat.
Hulle is soos brons en yster,
almal is korrup.
29Blaas maar die vuur aan
om dit witwarm te kry.
Maar die suiwering is tevergeefs!
Niemand kry dit reg
om onreg uit te suiwer nie.
30Ek noem hulle ‘weggooisilwer’,
want die Here het hulle
weggegooi.”

Tans Gekies:

JEREMIA 6: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid