Jeremia 6

6
1Die Here sê:
“Mense van Benjamin,
julle moet vlug uit Jerusalem.
Julle moet die ramshoring blaas in die stad Tekoa
en in die stad Bet-Kerem
moet julle rook maak
om mense te waarsku,
want die vyande kom uit die noorde,
en dit sal sleg gaan met julle.
2Jerusalem is soos 'n baie mooi weiveld,
3die konings kom daarnatoe met hulle soldate,
soos die skaapboere kom met hulle troppe skape.
Hulle slaan hulle tente op rondom die weiveld
en elkeen laat wei sy skape op die plek waar hy kom.
4Die konings sê: ‘Maak gereed
om oorlog te maak teen die stad.
Kom ons val hulle aan
in die middel van die dag.’
Maar as dit te laat in die dag word,
dan sê hulle: 5‘Maak gereed,
kom ons val hulle aan in die nag
en ons verwoes hulle mooi huise.’ ”
6Ja, die Here wat oor alles regeer, sê:
“Kap bome af en gooi grond teen die muur
sodat die soldate oor die muur van die stad kan klim.
Ek wil die mense in Jerusalem straf,
want hulle het aangehou om mense te laat swaarkry.
7'n Put hou aan om vars water te gee,
en net so hou hulle aan om verkeerde dinge
te doen.
Ek hoor hoe hulle mense laat swaarkry
en hoe hulle die mense seermaak,
Ek sien altyd net siekte en seerplekke.
8Ek waarsku julle, mense van Jerusalem,
as julle dit aanhou doen,
dan sal Ek weggaan van julle
en julle land leegmaak,
daar sal nie meer mense woon nie.”
9Die Here wat oor alles regeer, sê:
“Dit is nog net die mense van Juda wat lewe,
maar die Assiriërs moet nog meer
van hulle kom doodmaak.
Die Assiriërs moet hulle doodmaak
soos mense die ranke in 'n wingerd afsny.”
10Met wie moet ek praat, wie sal na my luister
wanneer ek hom waarsku?
Die mense van Jerusalem wil nie hoor
wat ek sê nie, hulle wil nie luister nie.
Hulle hou nie van die woorde van die Here nie,
hulle spot met sy woorde.
11Maar ek moet vir hulle sê
die Here is kwaad, ek kan nie stilbly nie.
Die Here het gesê: “Praat
met die kinders in die strate,
en met die jongmanne
waar hulle bymekaar is.
Praat met mans en vroue
en met oumense,
ook met die oumense wat baie oud is.
12Ander mense sal hulle huise kom vat,
en ook hulle grond en hulle vroue.
Ja, Ek wil die mense van Jerusalem straf,
13want almal, kinders en grootmense,
wil ryk word van ander mense se goed.
Die profete en priesters bedrieg my volk,
14want hulle dink hulle kan alles regmaak
wanneer hulle sê: ‘Daar is vrede, daar is vrede.’
Maar daar is nie vrede nie.
15Hulle het slegte dinge gedoen wat Ek haat,
maar hulle het nie skaam geword nie,
hulle is nie jammer nie.
Daarom sal hulle ook sterf in die oorlog.
Ek sal hulle straf, en hulle sal sterf.”
Dit het die Here gesê. 16Die Here het gesê:
“Wanneer julle sien daar is
meer as een pad waar julle kan loop,
en julle vra waar die ou paaie is,
dan moet julle die regte pad kies
en daarop loop.
Dan sal dit goed gaan met julle.
Maar die mense van Jerusalem het gesê:
‘Nee, ons sal nie op daardie pad loop nie.’
17En wanneer Ek mense vir julle laat wagstaan,
dan moet julle luister
wanneer die ramshoring blaas.
Maar die mense van Jerusalem het gesê:
‘Nee, ons sal nie luister nie.’
18Daarom, volke, julle moet luister,
en julle, my volk wat tussen die ander volke is,
julle moet weet,
19en almal in die land,
julle moet luister:
Ek sal nou hierdie volk straf.
Hulle het planne gemaak
om slegte dinge te doen,
en nou sal slegte dinge met hulle gebeur,
want hulle het nie geluister
na wat Ek gesê het nie.
Hulle het gedink die dinge
wat Ek vir hulle leer, is nie belangrik nie.
20Julle bring vir My wierook uit die land Skeba,
julle bring kalmoes uit 'n ver land,
maar dit beteken vir My niks.
Ek hou nie van julle brand-offers nie,
Ek wil nie offers van julle hê nie.”
21Daarom, die Here sê:
“Ek sal nou dinge laat gebeur
wat hierdie volk sal laat sterf.
Pa en seun, buurman en vriend
sal saam sterf.”
22Die Here sê:
“Daar sal nou 'n volk kom
uit 'n land in die noorde.
Dit is 'n groot volk
wat uit 'n ver land sal kom.
23Elkeen het 'n pyl en boog
en 'n spies in sy hand.
Hulle is wrede mense,
hulle is vir niemand jammer nie.
Wanneer hulle skree,
dan is dit soos die see wat hard raas.
Hulle ry op perde en hulle is gereed
om oorlog te maak
teen julle, mense van Sion.”
24Die mense van Jerusalem het gesê:
“Toe ons hoor hierdie vyande kom,
het ons groot geskrik,
ons was so bang
soos 'n vrou voor sy 'n baba kry.
25Julle moenie uitgaan uit die stad nie,
julle moenie op die paaie loop nie,
want die vyande kom met hulle swaarde,
en hulle sal oral wees.
26My volk, julle moet rouklere aantrek en op die ashoop rondrol.
Julle moet huil en treur soos mense treur
wanneer hulle enigste kind gesterf het.
Julle moet rou, want die vyande kom vinnig,
en hulle sal alles verwoes.”
27Die Here het vir my gesê:
“Ek het jou gestuur om my volk te toets
soos 'n mens metaal smelt en toets,
Ek het jou sterk gemaak sodat jy sal kyk
wat hulle doen en sodat jy hulle sal toets.
28Hulle is almal hardkoppige en opstandige mense
wat sleg praat van ander mense.
Hulle is oneerlik wanneer hulle moet oordeel.
Hulle is so hard soos brons en yster.
29Wanneer die blaasbalk die vuur warm blaas,
dan moet die lood uitsmelt,
maar dit gebeur nie met my volk nie,
die slegte metaal smelt nie uit nie.
30Hierdie volk is soos silwer
wat 'n mens moet weggooi.
Die mense sê hulle is so,
want die Here het hulle weggegooi.”

Tans Gekies:

Jeremia 6: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid