JEREMIA 4:19-31

JEREMIA 4:19-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

O die angs, die benoudheid van my pyn! My hart klop onstuimig in my. Ek kan nie stilbly nie. Ek het trompette gehoor, die gedreun van oorlogskrete. Die een ramp volg die ander totdat die land heeltemal verwoes is. Skielik is al wat ’n blyplek en skuiling is, tot niet. Hoe lank gaan ek nog die oorlogsbanier aanskou? Hoe lank gaan ek nog die oorlogsbasuin hoor? “My volk is dwaas, hulle ken My nie. Hulle is soos dom kinders, hulle het geen insig nie. Hulle is slim as dit kom by kwaaddoen. Maar vir goeddoen het hulle geen talent nie!” Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg. Ek het ook na die hemel gekyk, en daar was geen lig nie. Ek het gekyk na die berge en die heuwels en hulle het gebewe en geskud. Ek het gekyk en al die mense was weg. Selfs al die voëls van die hemel het weggevlieg. Toe ek om my kyk, sien ek die vrugbare grond het in ’n woestyn verander. Al die dorpe het in puin gelê, want die HERE het hulle vernietig in sy toorn. Die HERE het gesê: “Die land sal verwoes word, maar Ek sal dit nie heeltemal verwoes nie. Die aarde sal huil en die hemel donker word oor die besluit wat Ek oor my volk geneem het. Ek het klaar besluit en sal nie van plan verander nie.” Elke stad se mense vlug as hulle die klank van perde en boogskutters hoor. Hulle kruip in die bosse en tussen rotse weg. Al die dorpe is leeg, sonder ’n enkele inwoner. Wat probeer jy doen, jy wat gestroop is? Hoekom trek jy vir jou ’n rooi rok aan, versier jy jou met goue juwele? Hoekom maak jy jou oë mooi met maskara? Jy maak jou verniet mooi! Jou bondgenote het jou verwerp en soek jou lewe. Ek hoor ’n uitroep van pyn soos ’n vrou wat kraam, ’n kreet van iemand wat haar eerste kind in die wêreld bring. Ek hoor die dogter van Sion snak na haar asem. Sy pleit om hulp. Sy kniel voor haar moordenaars.

JEREMIA 4:19-31 Bybel vir almal (ABA)

Die mense van Juda sê: “Wanneer ons hoor die ramshoring blaas en die vyande skree, dan buig ons krom van die pyn, en ons harte klop wild, ons kan nie stil wees nie. Ons hoor hulle breek al die stede af, eers die een stad, en dan die ander stad, hulle verwoes die hele land. Ons het skielik nie meer plek waar ons kan woon nie. Hoe lank sal ons nog sien hoe die vyande hulle vlag swaai, hoe lank sal ons nog die ramshoring hoor blaas?” Die Here sê: “Dit gebeur omdat my volk dwaas is, hulle ken My nie, Hulle is dom kinders, hulle is nie verstandig nie. Hulle weet baie goed om sonde te doen, hulle weet nie hoe om goed te doen nie.” Ek het na die land gekyk, en dit was leeg, niemand het daar gewoon nie. Ek het na die lug gekyk, en die sterre het nie geskyn nie. Ek het na die berge gekyk, en hulle het almal gebewe en heen en weer geskud. Ek het gekyk, en daar was nie mense nie, en al die voëls het weggevlieg. Ek het gekyk, en waar vrugtebome gegroei het, was nou 'n woestyn, en al die stede in die land was verwoes. Die Here het dit gedoen, want Hy is kwaad. Ja, die Here sê: “Die vyande sal die hele land verwoes, maar nie alles nie. Ek het gesê wat Ek besluit het, en Ek sal dit doen. Daarom sal die plante in die land droog word en verlep, en die lug daar bo sal swart word. Al die mense in die stad sal vlug wanneer hulle hoor dat die soldate kom, die soldate op perde en die soldate met pyl en boog. Die mense in die stad sal in die bosse in vlug en teen die rotse probeer opklim. Daar sal niemand oorbly in die stad nie, niemand sal daar woon nie. En jy, Jerusalem, stad wat verwoes is, hoekom maak jy soos 'n vrou wat rooi klere aantrek en goue juwele aansit en oogverf aan haar oë smeer? Jy het jou mooigemaak, maar dit help niks. Jy het probeer om vriende te maak, maar jou vriende haat jou nou en hulle wil jou doodmaak. Ja, Ek hoor iemand skree soos 'n vrou wat haar eerste baba kry. Dit is Jerusalem wat nie asem kry nie, wat haar hande uitsteek en sê: ‘Dit gaan sleg met my, ek kan niks meer doen nie, hulle vermoor my.’ ”

JEREMIA 4:19-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

O My ingewande, my ingewande, ek moet bewe van angs! O Mure van my hart! My hart steun in my, ek kan nie swyg nie; want jy, my siel, het basuingeluid gehoor, oorlogsgeskreeu! Verwoesting op verwoesting word uitgeroep, want die hele land is verwoes; skielik is my tente verwoes, my tentdoeke in 'n oomblik. Hoe lank sal ek die banier sien, die basuingeluid hoor? Want my volk is dwaas; My ken hulle nie; dwase kinders is hulle, en hulle is onverstandig; slim is hulle om kwaad te doen, maar om goed te doen, weet hulle nie. Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg; ook na die hemel, en sy lig was daar nie. Ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe, en al die heuwels het geskud. Ek het gekyk, en daar was geen mens nie, en al die voëls van die hemel het weggevlieg. Ek het gekyk, en die land van tuine was 'n woestyn, en al sy stede was afgebreek voor die HERE, voor sy toorngloed. Want so sê die HERE: Die hele land sal 'n wildernis word, alhoewel Ek daar geen einde aan sal maak nie. Hieroor sal die aarde treur en die hemel daarbo rou dra, omdat Ek dit gespreek, My dit voorgeneem het en Ek geen berou het en daarvan nie sal terugkom nie. Vir die geluid van die ruiters en boogskutters vlug die hele stad; hulle het in die bosse ingegaan en op die rotse geklim; die hele stad is verlaat, en niemand woon daarin nie. En jy, verwoeste, wat gaan jy doen? Al trek jy skarlaken klere aan, al versier jy jou met goue sieraad, al laat jy jou oë groter lyk met swart verf — tevergeefs maak jy jou mooi; minnaars versmaad jou, hulle soek jou lewe. Want ek het gehoor 'n stem soos van een wat inmekaar krimp, 'n benoudheid soos van een wat die eerste keer baar, die stem van die dogter van Sion; sy hyg na asem, sy brei haar hande uit en sê: Wee my tog, want my siel is magteloos teenoor die moordenaars.

JEREMIA 4:19-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

O die krampe in my ingewande, o die benoudheid in my hart! My hart bons wild, ek kan dit nie tot bedaring bring nie, want ek het die geluid van die ramshoring gehoor, en die oorlogskrete! Die val van die een stad na die ander word uitgeskreeu, die hele land is verwoes. Met een slag is my wonings vernietig, in een oomblik my woonplekke. Hoe lank sal ek nog die vyande se vaandel sien, die geluid van die ramshoring hoor? My volk tree dwaas op, hulle erken My nie, hulle is moedswillige kinders, sonder enige begrip van wat Ek doen. Hulle is net slim as dit kom by verkeerddoen, van goeddoen wil hulle niks weet nie. Ek het na die land gekyk, en dit was onbewoonbaar, na die hemel, en die lig was daaruit weg; ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe, na al die heuwels, en hulle het geskud. Ek het gekyk, en daar was geen mens nie, selfs die voëls het weggevlieg. Ek het gekyk, en die vrugbare grond het in woestyn verander, al die stede het in puin gelê. Dit is die Here wat dit in sy gloeiende toorn gedoen het! Ja, so sê die Here: Die hele land sal verwoes wees, maar Ek sal dit nie totaal vernietig nie. Daaroor moet die aarde treur en die hemel daarbo donker word, want Ek het my voorneme bekend gemaak, Ek staan by my besluit, Ek sal nie van plan verander nie. Voor die geluid van ruiters en boogskutters uit slaan elke stad op die vlug; hulle hardloop die bosse in, hulle klim tussen die rotse in. Elke stad lê verlate, sonder 'n enkele inwoner. Maar jy, verlatene, wat maak jy nou? Wat klee jy jou met bloedrooi klere; wat versier jy jou met goue versiersels, waarvoor smeer jy oogverf aan! Jy maak jou verniet mooi! Jou minnaars het jou verwerp, hulle soek jou lewe. Ek hoor 'n geskreeu soos van iemand wat in kraam is, 'n benoude kreet soos van 'n vrou wat haar eerste kind in die wêreld bring. Ek hoor vir Sion wat na haar asem hyg, wat haar hande smekend uitsteek en sê: “Ellende wag vir my! Ek is weerloos teen my moordenaars!”

JEREMIA 4:19-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

O, die pyn, die pyn in my binneste! Ek krimp ineen! O, die wande van my hart! My hart klop onstuimig in my! Ek kan nie swyg nie; want my •siel het ramshorings gehoor, ja, krygsgeskreeu! Ineenstorting volg op ineenstorting, ja, die hele land word verwoes. Onverwags word my tente verwoes, binne 'n oomblik my tentdoeke. Hoe lank sal ek nog die banier sien, die geluid van die ramshoring hoor? “Ja, my volk is dom; Hulle ken My nie. Dwase kinders is hulle; hulle het nie insig nie. Slim om kwaad te doen, dit is hulle; maar om goed te doen, dit ken hulle nie.” Ek het na die aarde gekyk, en kyk, dit was woes en leeg, ook na die hemel, en daar was geen lig nie! Ek het na die berge gekyk, en kyk, hulle het geskud, en al die heuwels het gebewe! Ek het gesien: Kyk, daar was geen mens nie, en al die voëls van die hemel het gevlug! Ek het gesien: Kyk, die boord was 'n woestyn, en al die dorpe was afgebreek deur die HERE se toedoen, vanweë sy brandende toorn! Ja, so sê die HERE: “'n Woesteny sal die hele land word, maar Ek sal dit nie heeltemal tot niet maak nie. Hieroor sal die aarde treur, en die hemel daarbo verdonker. Ja, Ek het dit aangekondig; dit is my voorneme. Ek sal nie jammer wees nie, nie daarop terugkom nie. ” Vir die geskreeu van strydwabemanning en boogskutters slaan elke dorp op die vlug. Hulle gaan die digte bosse in, op rotse klim hulle. Elke dorp is verlate; geen mens woon meer daarin nie. En jy, verwoeste, wat gaan jy doen? Al klee jy jou in karmosyn, al tooi jy jou met juwele van goud, al laat jy jou oë groter lyk met grimering – tevergeefs maak jy jou mooi. Minnaars verag jou; dit is jou lewe wat hulle soek. Ja, ek het 'n kreet gehoor soos van iemand in pyn – benoudheid soos van 'n vrou wat aan haar eersteling geboorte gee. Dit is die kreet van die dogter van Sion; sy snak na asem, sy strek haar hande uit: “Wee my! Ek is gedaan, my lewe behoort aan moordenaars!”

JEREMIA 4:19-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

My ingewande, my ingewande! Ek is seer in my hart; my hart maak 'n geluid in my; Ek kan nie stilbly nie, want jy het gehoor, o my siel, die geluid van die basuin, die alarm van oorlog. Verwoesting op verderf word uitgeroep; want die hele land is verwoes; skielik is my tente verwoes en my gordyne in 'n oomblik. Hoe lank sal ek die vaandel sien en die geluid van die basuin hoor? Want my volk is dwaas, hulle ken My nie; hulle is slap kinders, en hulle het geen verstand nie; hulle is wys om kwaad te doen, maar om goed te doen, het hulle geen kennis nie. Ek het die aarde gesien, en kyk, dit was sonder vorm en leeg; en die hemele, en hulle het geen lig gehad nie. Ek het die berge gesien, en kyk, hulle het gebewe, en al die heuwels het liggies beweeg. Ek het gesien, en kyk, daar was niemand nie, en al die voëls van die hemel het gevlug. Ek het gesien, en kyk, die vrugbare plek was 'n woestyn, en al die stede daarvan is afgebreek voor die aangesig van die HERE en deur sy toorngloed. Want so het die HERE gesê: Die hele land sal 'n wildernis word; tog sal ek nie 'n einde maak nie. Hieroor sal die aarde treur en die hemel daarbo swart word: omdat Ek dit gespreek het, het Ek dit voorgeneem, en Ek sal my nie bekeer nie, en Ek sal daarvan nie terugdraai nie. Die hele stad sal vlug vir die geraas van die ruiters en boogskutters; hulle sal in die bosse ingaan en op die rotse klim: elke stad sal verlaat word, en geen man woon daarin nie. En as jy geplunder word, wat sal jy doen? Al beklee jy jou met karmosyn, al versier jy jou met goue versierings, al skeur jy jou aangesig met verf, tevergeefs sal jy jou mooi maak; jou minnaars sal jou verag, hulle sal jou lewe soek. Want ek het 'n stem gehoor soos van 'n vrou wat baar, en die angs soos van haar wat haar eersteling baar, die stem van die dogter van Sion, wat haarself beween, wat haar hande uitbrei en sê: Wee is my nou! want my siel is moeg vanweë moordenaars.

JEREMIA 4:19-31 Die Boodskap (DB)

Dit is vreeslik, ek kan die angs nie uitstaan nie! My hart klop verskriklik, ek kan dit nie rustig kry nie! Ek het gehoor hoe hulle op die trompette blaas om die aanval te begin. Ek het ook die vyand se oorlogskrete gehoor. Die een ramp na die ander het gekom totdat die land heeltemal verwoes was. In ’n oogwink is al wat ’n blyplek is, tot niet gemaak. Hoe lank gaan dit nog aanhou? Hoe lank gaan hulle nog aanhou om die trompette te blaas? Die Here sê: “My volk is dom. Hulle ken My nie. Hulle het nie verstand nie. Dit lyk nie of hulle enigiets verstaan nie. Hulle is net slim as dit by kwaaddoen kom. Van goeddoen weet hulle net mooi niks!” Ek het na die aarde gekyk en gesien dat dit woes en leeg was. Ek het ook na die hemel gekyk, en dit was sonder lig. Ek het na die berge en die heuwels gekyk, en hulle het gebewe. Toe ek weer kyk, kon ek nie enige mense sien nie. Selfs die voëls het weggevlieg. Toe ek om my kyk, het ek gesien dat die vrugbare grond ’n woestyn geword het. Die stede het afgebreek gelê, want die Here het hulle platgevee toe Hy verskriklik kwaad was. Die Here sê: “Die hele land sal dalk verwoes lê, maar Ek sal dit nie heeltemal tot niet maak nie. Die aarde sal huil asof iemand dood is. Die hemel sal ook donker word. Wat is die rede hiervoor? Ek het ’n besluit geneem en Ek gaan doen wat Ek besluit het om te doen. Ek sal nie van plan verander nie.” As die mense die geluid hoor van die vyand se magte wat nader kom, sal hulle uit vrees uit die stede vlug. Hulle sal in die bosse wegkruip of hardloop om skuiling in die berge te probeer kry. Al die stede sal leeg staan. Daar sal nie ’n mens in hulle oorbly nie. Wat probeer jy doen, Jerusalem? Jy is ’n stad wat kaal gestroop is. Hoekom probeer jy aandag trek deur ’n rooi rok aan te trek? Hoekom trek jy feesklere aan en behang jy jou met juwele? Hoekom kleur jy jou oë in met maskara? Jy maak jou verniet mooi. Jou bondgenote sal geen respek vir jou hê nie en sal jou doodmaak. Ek hoor ’n uitroep van pyn. Dit klink net soos ’n vrou wat haar eerste kind in die wêreld bring. Dit is die mense van Jerusalem wat so hyg om asem te kry. Hulle steek hulle hande in wanhoop uit en sê: “Ons voel ellendig. Ons is so kwesbaar voor die moordenaars!”

JEREMIA 4:19-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

O die angs, die benoudheid van my pyn! My hart klop onstuimig in my. Ek kan nie stilbly nie. Ek het trompette gehoor, die gedreun van oorlogskrete. Die een ramp volg die ander totdat die land heeltemal verwoes is. Skielik is al wat ’n blyplek en skuiling is, tot niet. Hoe lank gaan ek nog die oorlogsbanier aanskou? Hoe lank gaan ek nog die oorlogsbasuin hoor? “My volk is dwaas, hulle ken My nie. Hulle is soos dom kinders, hulle het geen insig nie. Hulle is slim as dit kom by kwaaddoen. Maar vir goeddoen het hulle geen talent nie!” Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg. Ek het ook na die hemel gekyk, en daar was geen lig nie. Ek het gekyk na die berge en die heuwels en hulle het gebewe en geskud. Ek het gekyk en al die mense was weg. Selfs al die voëls van die hemel het weggevlieg. Toe ek om my kyk, sien ek die vrugbare grond het in ’n woestyn verander. Al die dorpe het in puin gelê, want die HERE het hulle vernietig in sy toorn. Die HERE het gesê: “Die land sal verwoes word, maar Ek sal dit nie heeltemal verwoes nie. Die aarde sal huil en die hemel donker word oor die besluit wat Ek oor my volk geneem het. Ek het klaar besluit en sal nie van plan verander nie.” Elke stad se mense vlug as hulle die klank van perde en boogskutters hoor. Hulle kruip in die bosse en tussen rotse weg. Al die dorpe is leeg, sonder ’n enkele inwoner. Wat probeer jy doen, jy wat gestroop is? Hoekom trek jy vir jou ’n rooi rok aan, versier jy jou met goue juwele? Hoekom maak jy jou oë mooi met maskara? Jy maak jou verniet mooi! Jou bondgenote het jou verwerp en soek jou lewe. Ek hoor ’n uitroep van pyn soos ’n vrou wat kraam, ’n kreet van iemand wat haar eerste kind in die wêreld bring. Ek hoor die dogter van Sion snak na haar asem. Sy pleit om hulp. Sy kniel voor haar moordenaars.