Die mense van Juda sê:
“Wanneer ons hoor die ramshoring blaas
en die vyande skree,
dan buig ons krom van die pyn,
en ons harte klop wild,
ons kan nie stil wees nie.
Ons hoor hulle breek al die stede af,
eers die een stad, en dan die ander stad,
hulle verwoes die hele land.
Ons het skielik nie meer plek
waar ons kan woon nie.
Hoe lank sal ons nog sien hoe die vyande
hulle vlag swaai,
hoe lank sal ons nog die ramshoring hoor blaas?”
Die Here sê:
“Dit gebeur omdat my volk dwaas is,
hulle ken My nie,
Hulle is dom kinders, hulle is nie verstandig nie.
Hulle weet baie goed om sonde te doen,
hulle weet nie hoe om goed te doen nie.”
Ek het na die land gekyk, en dit was leeg,
niemand het daar gewoon nie.
Ek het na die lug gekyk, en die sterre
het nie geskyn nie.
Ek het na die berge gekyk,
en hulle het almal gebewe
en heen en weer geskud.
Ek het gekyk,
en daar was nie mense nie,
en al die voëls het weggevlieg.
Ek het gekyk,
en waar vrugtebome gegroei het,
was nou 'n woestyn,
en al die stede in die land
was verwoes.
Die Here het dit gedoen,
want Hy is kwaad.
Ja, die Here sê:
“Die vyande sal die hele land verwoes,
maar nie alles nie.
Ek het gesê wat Ek besluit het,
en Ek sal dit doen.
Daarom sal die plante in die land
droog word en verlep,
en die lug daar bo sal swart word.
Al die mense in die stad sal vlug
wanneer hulle hoor dat die soldate kom,
die soldate op perde en die soldate met pyl en boog.
Die mense in die stad sal in die bosse in vlug
en teen die rotse probeer opklim.
Daar sal niemand oorbly in die stad nie,
niemand sal daar woon nie.
En jy, Jerusalem, stad wat verwoes is,
hoekom maak jy soos 'n vrou
wat rooi klere aantrek en goue juwele aansit
en oogverf aan haar oë smeer?
Jy het jou mooigemaak, maar dit help niks.
Jy het probeer om vriende te maak,
maar jou vriende haat jou nou
en hulle wil jou doodmaak.
Ja, Ek hoor iemand skree soos 'n vrou
wat haar eerste baba kry.
Dit is Jerusalem wat nie asem kry nie,
wat haar hande uitsteek en sê:
‘Dit gaan sleg met my,
ek kan niks meer doen nie,
hulle vermoor my.’ ”