O, die pyn, die pyn in my binneste!
Ek krimp ineen!
O, die wande van my hart!
My hart klop onstuimig in my!
Ek kan nie swyg nie;
want my •siel het ramshorings gehoor,
ja, krygsgeskreeu!
Ineenstorting volg op ineenstorting,
ja, die hele land word verwoes.
Onverwags word my tente verwoes,
binne 'n oomblik my tentdoeke.
Hoe lank sal ek nog die banier sien,
die geluid van die ramshoring hoor?
“Ja, my volk is dom;
Hulle ken My nie.
Dwase kinders is hulle;
hulle het nie insig nie.
Slim om kwaad te doen,
dit is hulle;
maar om goed te doen,
dit ken hulle nie.”
Ek het na die aarde gekyk,
en kyk, dit was woes en leeg,
ook na die hemel,
en daar was geen lig nie!
Ek het na die berge gekyk,
en kyk, hulle het geskud,
en al die heuwels het gebewe!
Ek het gesien:
Kyk, daar was geen mens nie,
en al die voëls van die hemel het gevlug!
Ek het gesien:
Kyk, die boord was 'n woestyn,
en al die dorpe was afgebreek
deur die HERE se toedoen,
vanweë sy brandende toorn!
Ja, so sê die HERE:
“'n Woesteny sal die hele land word,
maar Ek sal dit nie heeltemal
tot niet maak nie.
Hieroor sal die aarde treur,
en die hemel daarbo verdonker.
Ja, Ek het dit aangekondig;
dit is my voorneme.
Ek sal nie jammer wees nie,
nie daarop terugkom nie. ”
Vir die geskreeu
van strydwabemanning
en boogskutters
slaan elke dorp op die vlug.
Hulle gaan die digte bosse in,
op rotse klim hulle.
Elke dorp is verlate;
geen mens woon meer daarin nie.
En jy, verwoeste,
wat gaan jy doen?
Al klee jy jou in karmosyn,
al tooi jy jou met juwele van goud,
al laat jy jou oë groter lyk met grimering –
tevergeefs maak jy jou mooi.
Minnaars verag jou;
dit is jou lewe wat hulle soek.
Ja, ek het 'n kreet gehoor
soos van iemand in pyn –
benoudheid soos van 'n vrou
wat aan haar eersteling geboorte gee.
Dit is die kreet van die dogter van Sion;
sy snak na asem,
sy strek haar hande uit:
“Wee my!
Ek is gedaan,
my lewe behoort aan moordenaars!”