JEREMIA 13:12-27
JEREMIA 13:12-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Sê vir hulle dit: So sê die Here die God van Israel: Elke kan moet vol wyn gemaak word. Dan sal hulle vir jou sê: “Weet ons dan nie dat elke kan vol wyn gemaak moet word nie?” Dan moet jy vir hulle sê: So sê die Here: Ek gaan al die inwoners van hierdie land dronk maak, ook die konings wat op die troon van Dawid sit en die priesters en die profete, ja, al die inwoners van Jerusalem. Ek sal hulle teen mekaar verpletter, vaders en kinders saam, sê die Here. Ek sal niemand spaar of verskoon nie, sonder ontferming sal Ek hulle uitroei. Luister, gee aandag! Moenie so hoogmoedig wees nie: die Here het gepraat! Eer die Here julle God voordat dit donker word, voordat julle julle in die skemer vasloop teen die berge. Julle sal wag op lig, maar Hy sal duisternis bring, Hy sal dit stikdonker laat word. Maar as julle nie luister nie, sal Ek in stilte huil oor julle hoogmoed, Ek sal huil en huil, trane stort omdat my kudde as ballinge weggevoer word. Sê vir die koning en vir die koninginmoeder: Klim van die troon af, want julle sal nie meer julle sierlike krone dra nie. Die stede in die Suidland is beleër, niemand kan hulle ontset nie; die hele Juda word in ballingskap weggevoer, hulle moet almal weg. Kyk op, Jerusalem, kyk hoe kom hulle van die noorde af! Waar is die kudde wat aan jou toevertrou is, die kleinvee wat jou trots was? Wat sal jy sê as Ek mense oor jou aanstel wat jy geleer het, as mense wat jy as bondgenote beskou het, oor jou regeer? Sal dit nie vir jou net so pynlik wees soos vir 'n vrou wat 'n kind in die wêreld bring nie? Jy vra jou af: “Waarom het dit my oorgekom?” Jy word kaal uitgetrek en verkrag oor jou baie oortredings. Kan 'n Kussiet sy vel verander of 'n luiperd sy vlekke? Sou julle kon doen wat goed is, julle wat so gewoond is aan die kwaad? Ek sal julle verstrooi soos kaf wat verbywaai in die woestynwind. Dit is jou lot, jou deel wat Ek vir jou afgemeet het, sê die Here, vir jou wat My vergeet het, wat op leuens vertrou het. Ook Ek sal jou kaal uittrek, sodat jou skandelike naaktheid bekend word, jou owerspel, jou wellus, jou skandelike hoerery. Op die heuwels, in die oop veld het Ek jou afskuwelike dade gesien. Ellende wag vir jou, Jerusalem, as jy jou nie reinig nie! Hoe lank gaan dit nog so bly?
JEREMIA 13:12-27 Bybel vir almal (ABA)
Jy moet nou vir hulle sê: Die Here, die God van Israel, sê elke wynkruik moet vol wyn wees. Hulle sal vir jou sê hulle weet dat elke wynkruik vol wyn moet wees. Dan moet jy vir hulle sê die Here sê: Ek sal almal in die land vol wyn maak sodat hulle dronk word, ook die konings wat op die troon van Dawid sit, en die priesters en profete en almal wat in Jerusalem woon. Dan sal Ek hulle teen mekaar stukkend stamp, pa's saam met kinders. Ek sal vir niemand jammer wees nie, Ek sal hulle almal laat sterf.” Dit het die Here gesê. Julle moet gehoorsaam wees en luister, julle moenie hoogmoedig wees nie, want die Here praat. Julle moet julle God die Here eer voordat Hy dit donker laat word, voordat julle miskien julle tone stamp teen die berge waar dit altyd donker is. Julle sal wag dat dit lig moet word, maar die Here sal dit donkerder en donkerder laat word. As julle hoogmoedig is en nie luister nie, dan sal ek alleen gaan staan en aanhou huil. Baie trane sal uit my oë kom omdat vyande die volk van die Here gevang en weggevat het. Iemand moet vir die koning en sy ma sê hulle moet afklim van hulle trone en op die grond gaan sit, want hulle sal nie meer mooi krone op hulle koppe dra nie. Die vyande is rondom die stede van die Suid-land, niemand kan die mense laat uitkom nie. Die vyande het al die mense van Juda gevang en almal weggevat. Mense van Jerusalem, julle moet kyk, julle sal sien dat die vyande uit die noorde kom. Waar is die mense van Juda nou? Julle moes die mense oppas soos 'n herder sy trop mooi skape en bokke oppas. Waar is daardie mense nou? Wat sal julle sê wanneer die vyande mense kies en aanstel oor julle? Julle het self vir die mense geleer, wat sal julle sê as hulle nou oor júlle regeer? Julle sal skielik pyne kry soos 'n vrou wat 'n baba kry. Julle vra vir julleself hoekom dit met julle gebeur het. Dit is omdat julle baie sonde gedoen het. Julle is soos vroue, die vyande tel hulle rokke op en verkrag hulle. 'n Kussiet is swart en 'n luiperd het kolle, hulle kan dit nie verander nie. Net so kan julle nie verander nie, julle kan nie goed doen nie, want julle het te lank verkeerde dinge gedoen. Ek sal julle na al die kante toe jaag. Dit sal wees soos wanneer die woestynwind kaf wegwaai. Dit sal met julle gebeur, dit is wat Ek met julle sal doen, want julle het My vergeet. Julle het gedink dinge wat niks beteken nie, sal julle help. Julle het afgode gedien op die heuwels in die veld. Ek het gesien watter slegte dinge julle gedoen het. Julle was soos vroue wat egbreuk gepleeg het en prostitute geword het. Daarom sal Ek julle straf soos 'n mens hierdie vroue straf, Ek sal julle kaal uittrek sodat almal kan weet julle is sleg. Mense van Jerusalem, dit sal sleg gaan met julle. Julle sal nie weer rein kan word nie. Hoe lank sal julle so aanhou?
JEREMIA 13:12-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Sê verder aan hulle hierdie woord: So spreek die HERE, die God van Israel: Elke kan word vol wyn gemaak. Dan sal hulle vir jou sê: Weet ons dit dan nie dat elke kan vol wyn gemaak word nie? Maar jy moet vir hulle sê: So spreek die HERE: Kyk, Ek vul met dronkenskap al die inwoners van hierdie land, selfs die konings wat op die troon van Dawid sit, en die priesters en die profete en al die inwoners van Jerusalem. En Ek sal hulle verbrysel, die een teen die ander, die vaders en die kinders almal saam, spreek die HERE. Ek sal nie spaar of verskoon of My ontferm nie, dat Ek hulle nie sou verdelg nie. Luister en merk op; verhef julle nie, want die HERE het gespreek! Gee eer aan die HERE julle God voordat Hy dit donker laat word en voordat julle voete stamp teen die berge in die skemering; terwyl julle wag op lig, maar Hy dit doodskaduwee maak, in donkerheid verander. Maar as julle daar nie na luister nie, sal my siel in skuilplekke ween vanweë die hoogmoed; en my oog sal bitterlik huil en afloop in trane, omdat die kudde van die HERE as gevangenes weggevoer is. Sê aan die koning en aan die gebiedster: Gaan baie laag sit, want julle hoofsieraad, julle sierlike kroon, het geval. Die stede van die Suidland is toegesluit, en niemand maak oop nie; Juda is in ballingskap weggevoer gans en al, weggevoer volkome! Hef jou oë op, en aanskou die wat uit die noorde kom. Waar is die kudde wat aan jou gegee is, jou pragtige trop kleinvee? Wat sal jy sê wanneer Hy as hoof oor jou aanstel diegene wat jy self geleer het om jou vertroude vriende te wees? Sal weë jou nie aangryp soos van 'n barende vrou nie? As jy dan in jou hart sê: Waarom het hierdie dinge my oorgekom? Weens die grootheid van jou ongeregtigheid is jou slippe opgetel, het jou hakskene gely onder geweld. Kan 'n Kusiet sy vel verander of 'n luiperd sy vlekke? Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat gewend is om kwaad te doen. Daarom sal Ek hulle verstrooi soos 'n stoppel wat verbyvlieg voor die wind van die woestyn. Dit is jou lot, die deel wat Ek jou toegemeet het, spreek die HERE, omdat jy My vergeet en op leuens vertrou het. So het Ek dan ook jou slippe opgetel oor jou aangesig, sodat jou skande gesien word. Jou owerspel en jou gerunnik, jou skandelike hoerery — op die heuwels in die veld het Ek jou verfoeisels gesien. Wee jou, Jerusalem! Hoe lank sal dit nog duur voordat jy rein word?
JEREMIA 13:12-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Sê dan vir hulle hierdie woorde, ‘So sê die HERE, die God van Israel: “Elke kruik moet met wyn gevul word.” ’ Hulle sal vir jou sê, ‘Weet ons dan nie baie goed dat elke kruik met wyn gevul moet word nie?’ Dan moet jy hulle antwoord, ‘So sê die HERE: “Kyk, Ek gaan al die inwoners van hierdie land, en die konings wat as nageslag van Dawid op sy troon sal sit, en die priesters en die profete, en al die inwoners van Jerusalem vul met dronkenskap. Ek sal hulle stukkend stamp, die een teen die ander, vaders en kinders saam,” ’ ” is die uitspraak van die HERE. “ ‘ “Ek sal geen deernis hê nie, hulle nie jammer kry of My oor hulle ontferm deur hulle nie te vernietig nie.” ’ ” Luister, gee aandag! Moenie hovaardig wees nie, want die HERE praat. Bewys eer aan die HERE julle God, voordat Hy dit donker maak, voordat julle oor julle eie voete val in die skemerte op die berge. Julle sal wag op lig, maar Hy sal dit stikdonker laat word; Hy sal dit 'n diepe duisternis maak. Maar as julle nie hierna luister nie, sal ek in geheime plekke uit my hart huil oor julle hoogmoed. My oë sal bitterlik ween, en wegvloei in trane, omdat die kudde van die HERE gevange geneem sal word. Sê vir die koning en die koninginmoeder: “Gaan sit op die grond, want julle sierlike krone het van julle koppe afgekom. Die dorpe van die Negev is oorgelewer, en niemand kan hulle bevry nie; Juda in sy geheel is weggevoer in ballingskap – volledig weggevoer. Kyk goed, Jerusalem! Sien hulle wat uit die noorde kom raak! Waar is die kudde wat aan jou gegee is, jou pragtige kleinvee? Wat sal jy sê as die vyand mense oor jou aanstel wat jy self geleer het – stamhoofde as gesagvoerders oor jou? Sal pyne jou nie beetpak soos vir 'n vrou wat geboorte gee nie? Jy sal in jou hart sê: Waarom het hierdie dinge my oorgekom? Dit is oor jou groot sondeskuld dat jou kleed se some opgelig, jou hakskene geweld aangedoen is. Kan 'n Kussiet sy velkleur verander of 'n luiperd sy vlekke? Dan sou ook julle in staat wees om goed te doen, julle wat gewoond is om kwaad te doen. “ Ek sal julle verstrooi soos kaf wat weggewaai word deur 'n woestynwind. Dit is jou lot, die deel wat Ek vir jou afgemeet het,” is die uitspraak van die HERE, “omdat jy My vergeet het en op leuens vertrou het. Ja, op my beurt sal Ek jou kleed se some oplig tot oor jou gesig, sodat jou skaamte gesien word. O, jou owerspel, jou gerunnik, jou skandalige hoerery! Op die heuwels in die veld, het Ek jou verfoeilike dade gesien. Wee jou, Jerusalem! Jy sal nie rein word nie. Hoe lank sal dit nog duur?”
JEREMIA 13:12-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom moet jy hierdie woord aan hulle spreek; So sê die HERE, die God van Israel: Elke fles sal vol wyn word, en hulle sal vir jou sê: Weet ons nie seker dat elke fles vol wyn gevul sal word nie? Dan moet jy vir hulle sê: So spreek die HERE: Kyk, Ek sal al die inwoners van hierdie land, die konings wat op die troon van Dawid sit, en die priesters en die profete en al die inwoners van Jerusalem met dronkenskap vervul. En Ek sal hulle teen mekaar verpletter, die vaders en die seuns saam, spreek die HERE: Ek sal my nie ontferm of spaar of barmhartig wees nie, maar hulle vernietig. Luister en luister; wees nie trots nie, want die HERE het gespreek. Gee eer aan die HERE julle God, voordat Hy duisternis veroorsaak en voordat julle voete op die donker berge struikel, en terwyl julle lig soek, Hy dit in die skaduwee van die dood verander en dit donker maak. Maar as julle dit nie hoor nie, sal my siel in skuilplekke huil oor julle trots; en my oog sal bitterlik ween en met trane afloop, omdat die kudde van die HERE as gevangenes weggevoer is. Sê vir die koning en die koningin: Verneder julle, gaan sit, want julle owerhede sal neerdaal, die kroon van julle heerlikheid. Die stede van die suide sal toegesluit word, en niemand sal dit oopmaak nie; Juda sal alles in ballingskap weggevoer word, dit sal heeltemal in ballingskap weggevoer word. Slaan jou oë op en kyk na die wat uit die noorde kom: waar is die kleinvee wat aan jou gegee is, jou pragtige kudde? Wat sal jy sê as hy jou straf? want jy het hulle geleer om owerstes en as owerstes oor jou te wees; En as jy in jou hart sê: Waarom kom hierdie dinge oor my? Want die grootheid van jou ongeregtigheid is jou mantels ontdek en jou hakskene ontbloot. Kan die Kusiet sy vel verander, of die luiperd sy vlekke? dan mag julle ook goed doen, wat gewoond is om kwaad te doen. Daarom sal Ek hulle verstrooi soos die stoppels wat verbygaan deur die wind van die woestyn. Dit is jou lot, die deel van jou mate van My af, spreek die HERE; want jy het My vergeet en op leuens vertrou. Daarom sal Ek jou rokke op jou aangesig ontdek, sodat jou skande kan verskyn. Ek het jou owerspel gesien en jou gesukkel, die skandelike daad van jou hoerery en jou gruwels op die heuwels in die veld. Wee jou, Jerusalem! sal jy nie gereinig word nie? wanneer sal dit eenmaal wees?
JEREMIA 13:12-27 Die Boodskap (DB)
“Praat met hulle en gee hulle hierdie boodskap. Die Here, die God van Israel, sê: ‘Al die wynkruike moet vol wyn gemaak word.’ En hulle sal antwoord: ‘Natuurlik weet ons dat ons al die kruike vol wyn moet maak.’ Dan moet jy vir hulle sê: Nee, dít is wat die Here bedoel. Hy sê: Ek sal almal in hierdie land so verward maak dat hulle soos dronk mense sal lyk. Dit sluit die koning in wat nou regeer en wat deel is van koning Dawid se familie. Verder ook nog die godsdienstige leiers, die profete van die Here en die gewone mense wat in Jerusalem bly. Soos kruike wat breek as hulle teen mekaar gestamp word, so sal Ek hulle teen mekaar stukkend stamp, ouers en kinders almal saam. Ek sal hulle nie spaar omdat Ek vir hulle jammer is of omdat Ek hulle genadig wil wees nie. Ek voel niks vir hulle nie, Ek sal hulle vernietig.” Luister, gee ’n bietjie aandag! Moenie so arrogant wees nie, dit is die Here wat met julle gepraat het. Gee aan die Here julle God eer voordat dit te laat is. Respekteer Hom voordat Hy dit vir julle donker maak. As dit skemer is, sal julle struikel en val op die donker berge. Julle sal wens dit word lig, maar Hy sal dit net al hoe donkerder maak totdat dit uiteindelik stikdonker is. Maar as julle aanhou ongehoorsaam bly, sal ek eenkant gaan staan en huil oor julle so verwaand is. Ek sal bitterlik oor julle huil. Julle is nou wel die Here se volk, maar julle sal uit julle eie land na ander lande weggevat word. Die Here het vir my gesê: “Sê vir die koning en die koningin-moeder: Klim van julle troon af, want julle sal nie langer die kroon dra wat wys dat julle regeer nie. Die mense van die stede in die Negev is reeds deur die vyand vasgekeer. Niemand sal hulle meer kan help ontsnap nie. Die mense van Juda sal as gevangenes weggevat word uit hulle land na ander lande toe. Jerusalem, maak julle oë oop, dan sal julle die vyand uit die noorde sien aankom. Wat het van Juda se inwoners geword? Jy was tog so trots op hulle. Was jy nie veronderstel om mooi na hulle te kyk nie? Hoe sal julle voel as Ek die mense wat vroeër julle vriende en bondgenote was, nou toelaat om julle te oorheers? Julle sal van pyn krul soos ’n vrou wat geboorte gee! Julle wonder seker hoekom al hierdie dinge met julle gebeur. Die antwoord is: Julle word soos ’n vrou deur die vyand misbruik en verneder omdat julle so baie dinge verkeerd doen. “’n Mens wat ’n donker vel het, kan dit nie verander nie. Net so kan ’n luiperd ook nie sy kolle verander nie. Dink julle miskien dat julle skielik goeie dinge kan begin doen nadat julle so lank reeds daaraan gewoond was om verkeerde goed te doen?” Die Here sê: “Ek sal julle oraloor waai, net soos die wind wat uit die woestyn waai die kaf uit die koring oral versprei. Dit is wat Ek besluit het wat met julle moet gebeur,” sê die Here. “Dit is wat julle verdien, want julle het so gelewe asof julle vergeet het dat Ek bestaan. Om afgode te dien is om julleself te bedrieg. Hulle is net ’n bedrogspul. En tog het julle verkies om hulle te vertrou en nie vir My nie. Ek sal julle verneder soos ’n mens iemand kaal laat staan voor ander mense. Ek het gesien hoe julle die afgode in die veld en op die hoogtes dien. Ek het ook al die skandelike dinge gesien wat julle gedoen het om hulle guns te wen. Mense van Jerusalem, julle kan dit vir seker weet, julle gaan nog baie swaarkry! Hoe lank sal dit vat voordat julle eendag weer vir My aanvaarbaar sal wees?”
JEREMIA 13:12-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Praat met hulle en gee vir hulle hierdie boodskap. ‘Die HERE, die God van Israel sê: Al die wynkruike sal vol wyn gemaak word.’ En hulle sal antwoord: ‘Natuurlik, jy hoef ons nie eens te vertel hoe voorspoedig ons gaan wees nie!’ Dan moet jy vir hulle sê: ‘Nee, dit is wat die HERE bedoel: Ek sal almal in hierdie land so verward maak dat hulle soos dronk mense sal lyk. Dit sluit die koning in wat nou op Dawid se troon regeer, en die priesters, profete en inwoners van Jerusalem. Ek sal hulle teen mekaar stukkend stamp, selfs ouers en kinders, sê die HERE. Ek sal hulle nie spaar omdat Ek vir hulle jammer is of omdat Ek hulle genadig wil wees nie. Ek sal ook nie medelye met hulle hê nie. Ek gaan hulle vernietig.’” Luister, gee ’n bietjie aandag! Moenie so arrogant wees nie, want dit is die HERE wat praat: Gee eer aan die HERE julle God, voordat dit te laat is. Doen dit voordat Hy dit vir julle donker maak, want as dit skemer is, sal julle struikel en val op die donker berge. Julle sal wens dit word lig, maar Hy sal dit stikdonker maak. En as julle aanhou om ongehoorsaam te wees, sal ek eenkant staan en huil omdat julle so verwaand is. Ek sal bitterlik huil omdat hulle die kudde van die HERE in ballingskap wegneem. Sê vir die koning en sy ma: “Gaan sit baie laag, in die stof, want julle pragtige kroon sal van julle koppe weggeneem word.” Die dorpe in die Negev sal hulle poorte sluit, en niemand sal dit kan oopsluit nie. En die mense van Juda sal as ballinge weggevoer word. Almal van hulle sal in ballingskap gaan. Sien julle vyand uit die noorde aankom. Wat het geword van die pragtige kudde wat Hy vir julle gegee het om op te pas? Hoe sal julle voel as Hy die mense wat vroeër julle bondgenote was, nou toelaat om oor julle te heers? Julle sal krul van pyn soos ’n vrou wat geboorte gee! Julle vra dalk hoekom al hierdie dinge met julle gebeur. Die vyand verneder julle en verkrag julle oor julle baie sondes. Kan Etiopiërs die kleur van hulle velle verander? Kan ’n luiperd sy kolle laat verdwyn? Dink julle miskien dat julle skielik kan begin goeie dinge doen nadat julle gewoond was om kwaad te doen? “Ek sal julle verstrooi net soos die wind wat uit die woestyn waai die kaf uit die koring oral versprei. Dit is wat Ek besluit het wat met julle moet gebeur,” sê die HERE. “Dit is die deel wat Ek vir julle afgemeet het, want julle het My mos vergeet en op valse gode vertrou. Ek sal julle verneder soos iemand wat kaal staan voor ander mense. Ek het gesien hoe julle die afgode in die veld en op hoogtes dien. Ek het ook al die skandelike dinge gesien wat julle gedoen het om hulle guns te wen. Jerusalem, jy sal sekerlik tot niet gaan! Hoe lank sal dit neem voordat jy eendag weer vir My aanvaarbaar sal wees?”