Jeremia 13

13
Lendedoek as teken
1 So het die Here vir my gesê: “Gaan koop vir jou 'n lendedoek van linne en bind dit om jou heupe. Moet dit nie in water laat kom nie.” 2Ek het toe die lendedoek gekoop, volgens die opdrag van die Here, en dit om my heupe gebind.
3Die woord van die Here het 'n tweede keer tot my gekom: 4“Neem die lendedoek wat jy gekoop het, wat om jou heupe is. Maak gereed en gaan na die Perat, en steek dit daar in 'n rotsskeur weg.” 5Ek het gegaan en dit by die Perat weggesteek soos die Here my beveel het.
6Ná verloop van baie dae het die Here vir my gesê: “Maak gereed, gaan na die Perat en gaan haal die lendedoek wat Ek jou beveel het om daar weg te steek.” 7Ek het toe na die Perat gegaan, gegrawe en die lendedoek uit die plek gehaal waar ek dit weggesteek het. En kyk, die lendedoek het tot niet gegaan; dit het vir niks meer gedeug nie.
8Toe het die woord van die Here tot my gekom: 9“So sê die Here, ‘Net so sal Ek die hoogmoed van Juda en die buitengewone hoogmoed van Jerusalem tot niet maak. 10Hierdie slegte volk, wat weier om na my woorde te luister, wat volhard in die verstoktheid van hulle harte, en agter ander gode aanloop om hulle te dien en voor hulle in aanbidding te buig, sal word soos hierdie lendedoek wat vir niks meer deug nie. 11 Ja, soos die lendedoek om die heupe van 'n man vassit, so het Ek die hele huis van Israel en die hele huis van Juda aan My laat vassit,’ is die uitspraak van die Here, ‘om vir My 'n volk te wees, 'n roem, 'n lof en 'n sieraad. Maar hulle het nie geluister nie.’
12“Sê dan vir hulle hierdie woorde, ‘So sê die Here, die God van Israel: “Elke kruik moet met wyn gevul word.” ’ Hulle sal vir jou sê, ‘Weet ons dan nie baie goed dat elke kruik met wyn gevul moet word nie?’ 13Dan moet jy hulle antwoord, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek gaan al die inwoners van hierdie land, en die konings wat as nageslag van Dawid op sy troon sal sit, en die priesters en die profete, en al die inwoners van Jerusalem vul met dronkenskap. 14Ek sal hulle stukkend stamp, die een teen die ander, vaders en kinders saam,” ’ ” is die uitspraak van die Here. “ ‘ “Ek sal geen deernis hê nie, hulle nie jammer kry of My oor hulle ontferm deur hulle nie te vernietig nie.” ’ ”
Finale waarskuwing
15Luister, gee aandag!
Moenie hovaardig wees nie,
want die Here praat.
16 Bewys eer aan die Here julle God,
voordat Hy dit donker maak,
voordat julle oor julle eie voete val
in die skemerte op die berge.
Julle sal wag op lig,
maar Hy sal dit stikdonker laat word;
Hy sal dit 'n diepe duisternis maak.
17Maar as julle nie hierna luister nie,
sal ek in geheime plekke
uit my hart huil oor julle hoogmoed.
My oë sal bitterlik ween,
en wegvloei in trane,
omdat die kudde van die Here
gevange geneem sal word.
18 Sê vir die koning en die koninginmoeder:
“Gaan sit op die grond,
want julle sierlike krone
het van julle koppe afgekom.
19Die dorpe van die Negev is oorgelewer,
en niemand kan hulle bevry nie;
Juda in sy geheel is weggevoer in ballingskap –
volledig weggevoer.
20 Kyk goed, Jerusalem!
Sien hulle wat uit die noorde kom raak!
Waar is die kudde wat aan jou gegee is,
jou pragtige kleinvee?
21Wat sal jy sê as die vyand
mense oor jou aanstel
wat jy self geleer het –
stamhoofde as gesagvoerders oor jou?
Sal pyne jou nie beetpak
soos vir 'n vrou wat geboorte gee nie?
22 Jy sal in jou hart sê:
Waarom het hierdie dinge my oorgekom?
Dit is oor jou groot sondeskuld
dat jou kleed se some opgelig,
jou hakskene geweld aangedoen is.
23 Kan 'n Kussiet sy velkleur verander
of 'n luiperd sy vlekke?
Dan sou ook julle in staat wees
om goed te doen,
julle wat gewoond is
om kwaad te doen.
24“ Ek sal julle verstrooi
soos kaf wat weggewaai word
deur 'n woestynwind.
25 Dit is jou lot, die deel
wat Ek vir jou afgemeet het,”
is die uitspraak van die Here,
“omdat jy My vergeet het
en op leuens vertrou het.
26 Ja, op my beurt sal Ek
jou kleed se some oplig
tot oor jou gesig,
sodat jou skaamte gesien word.
27 O, jou owerspel, jou gerunnik,
jou skandalige hoerery!
Op die heuwels in die veld,
het Ek jou verfoeilike dade gesien.
Wee jou, Jerusalem!
Jy sal nie rein word nie.
Hoe lank sal dit nog duur?”

Tans Gekies:

Jeremia 13: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid