Jeremia 13

13
Die voorbeeld van ’n linnelap
1Die Here het vir my gesê: “Gaan koop vir jou ’n stuk linne en bind dit om jou heupe vas. Jy moenie die lap was nie.” 2Ek het toe die lap gaan koop soos die Here vir my gesê het, en dit om my heupe vasgebind. 3Toe het die Here weer met my gepraat en gesê: 4“Vat nou die linnelap wat jy dra en gaan na die Eufraat toe. Steek die lap daar in ’n skeur in een van die rotse weg.” 5Ek het toe na die Eufraat toe gegaan en die lap weggesteek presies soos die Here gesê het ek moes doen. 6Na ’n lang tyd het die Here vir my gesê: “Gaan terug na die Eufraat toe en gaan haal die lap uit die opening in die rots waar Ek gesê het jy dit moet wegsteek.” 7Ek het toe teruggegaan na die Eufraat. Toe ek daar kom, het ek die lap uit die skeur in die rots gehaal waar ek dit weggesteek het. Maar die lap het al begin stukkend gaan. ’n Mens sou dit nie meer kon gebruik nie.
8Toe het die Here vir my begin verduidelik wat dit alles beteken. 9Hy het gesê: “Hierdie stuk lap het uitmekaar begin val. Ek sal die hooghartige houding van Juda en Jerusalem net so laat verdwyn soos met die lap gebeur. 10Hierdie slegte volk sal net so nutteloos word soos hierdie stuk lap. ’n Mens kan dit nie meer gebruik nie. Dit sal gebeur omdat hulle weier om na My te luister. Hulle is baie hardkoppig en doen net wat hulle wil. Hulle vereer en dien ander gode. 11Soos hierdie linnelap om ’n mens se heupe span, so wou Ek gehad het dat Juda en Israel aan My gebind moes wees. My wens was dat hulle my volk moes wees. Hulle moes so lewe dat mense aan My eer bring en mooi dinge van My sê. Dit moes vir My ’n eer gewees het om aan hulle verbind te wees. Maar hulle was ongehoorsaam.”
Die voorbeeld van ’n wynkruik
12“Praat met hulle en gee hulle hierdie boodskap. Die Here, die God van Israel, sê: ‘Al die wynkruike moet vol wyn gemaak word.’ En hulle sal antwoord: ‘Natuurlik weet ons dat ons al die kruike vol wyn moet maak.’ 13Dan moet jy vir hulle sê: Nee, dít is wat die Here bedoel. Hy sê: Ek sal almal in hierdie land so verward maak dat hulle soos dronk mense sal lyk. Dit sluit die koning in wat nou regeer en wat deel is van koning Dawid se familie. Verder ook nog die godsdienstige leiers, die profete van die Here en die gewone mense wat in Jerusalem bly. 14Soos kruike wat breek as hulle teen mekaar gestamp word, so sal Ek hulle teen mekaar stukkend stamp, ouers en kinders almal saam. Ek sal hulle nie spaar omdat Ek vir hulle jammer is of omdat Ek hulle genadig wil wees nie. Ek voel niks vir hulle nie, Ek sal hulle vernietig.”
Jeremia waarsku teen ’n arrogante houding
15Luister, gee ’n bietjie aandag! Moenie so arrogant wees nie, dit is die Here wat met julle gepraat het. 16Gee aan die Here julle God eer voordat dit te laat is. Respekteer Hom voordat Hy dit vir julle donker maak. As dit skemer is, sal julle struikel en val op die donker berge. Julle sal wens dit word lig, maar Hy sal dit net al hoe donkerder maak totdat dit uiteindelik stikdonker is. 17Maar as julle aanhou ongehoorsaam bly, sal ek eenkant gaan staan en huil oor julle so verwaand is. Ek sal bitterlik oor julle huil. Julle is nou wel die Here se volk, maar julle sal uit julle eie land na ander lande weggevat word.
18Die Here het vir my gesê: “Sê vir die koning en die koningin-moeder: Klim van julle troon af, want julle sal nie langer die kroon dra wat wys dat julle regeer nie. 19Die mense van die stede in die Negev is reeds deur die vyand vasgekeer. Niemand sal hulle meer kan help ontsnap nie. Die mense van Juda sal as gevangenes weggevat word uit hulle land na ander lande toe. 20Jerusalem, maak julle oë oop, dan sal julle die vyand uit die noorde sien aankom. Wat het van Juda se inwoners geword? Jy was tog so trots op hulle. Was jy nie veronderstel om mooi na hulle te kyk nie? 21Hoe sal julle voel as Ek die mense wat vroeër julle vriende en bondgenote was, nou toelaat om julle te oorheers? Julle sal van pyn krul soos ’n vrou wat geboorte gee! 22Julle wonder seker hoekom al hierdie dinge met julle gebeur. Die antwoord is: Julle word soos ’n vrou deur die vyand misbruik en verneder omdat julle so baie dinge verkeerd doen.
23“’n Mens wat ’n donker vel het, kan dit nie verander nie. Net so kan ’n luiperd ook nie sy kolle verander nie. Dink julle miskien dat julle skielik goeie dinge kan begin doen nadat julle so lank reeds daaraan gewoond was om verkeerde goed te doen?”
24Die Here sê: “Ek sal julle oraloor waai, net soos die wind wat uit die woestyn waai die kaf uit die koring oral versprei. 25Dit is wat Ek besluit het wat met julle moet gebeur,” sê die Here. “Dit is wat julle verdien, want julle het so gelewe asof julle vergeet het dat Ek bestaan. Om afgode te dien is om julleself te bedrieg. Hulle is net ’n bedrogspul. En tog het julle verkies om hulle te vertrou en nie vir My nie. 26Ek sal julle verneder soos ’n mens iemand kaal laat staan voor ander mense. 27Ek het gesien hoe julle die afgode in die veld en op die hoogtes dien. Ek het ook al die skandelike dinge gesien wat julle gedoen het om hulle guns te wen. Mense van Jerusalem, julle kan dit vir seker weet, julle gaan nog baie swaarkry! Hoe lank sal dit vat voordat julle eendag weer vir My aanvaarbaar sal wees?”

Tans Gekies:

Jeremia 13: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid