JAKOBUS 1:9-15
JAKOBUS 1:9-15 Bybel vir almal (ABA)
'n Gelowige wat onbelangrik en arm is, moet bly wees dat die Here dink hy is belangrik. Maar 'n gelowige wat ryk is, moet bly wees dat die Here nie dink hy is belangrik nie, want sy baie goed kan wegraak soos 'n veldblom wat verdwyn. Want wanneer die son begin skyn en dit word baie warm, dan word die veldblomme droog en hulle val af en die mooi blomme is nie meer daar nie. So is 'n ryk mens en sy besigheid, hy sal verdwyn soos 'n veldblom. Daar gebeur partymaal dinge wat iemand se geloof toets en wat hom verkeerde dinge wil laat doen. Wanneer so iemand aanhou glo, dan is hy 'n gelukkige mens. Hoekom? Want wanneer God tevrede is met so 'n mens, dan sal God vir hom 'n prys gee, God sal vir hom die ewige lewe gee. God het dit belowe vir die mense wat lief is vir Hom. Wanneer daar dinge is wat 'n mens se geloof toets en wat hom verkeerde dinge wil laat doen, dan moet die persoon nie sê: “Dit is God wat wil hê ek moet verkeerde dinge doen” nie, want niemand kan vir God verkeerde dinge laat doen nie, en God wil ook nie hê dat mense verkeerde dinge moet doen nie. Elkeen wat verkeerde dinge doen, doen dit omdat hy self lus is om dit te doen. Hy wil die dinge baie graag doen, dit is vir hom soos 'n vangnet wat hom vang. Wanneer iemand lus is om verkeerde dinge te doen, dan doen hy sonde, en wanneer die sonde groter en groter word, dan bring dit die dood.
JAKOBUS 1:9-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar laat die broeder wat gering is, roem in sy hoogheid, en die ryke in sy geringheid, want soos 'n blom van die gras sal hy verbygaan. Want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal die ryke ook in sy weë verwelk. Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet. Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.
JAKOBUS 1:9-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Gelowige wat arm is, moet hom daarin verheug dat hy sy aansien in God het, en een wat ryk is, dat hy voor God gering is, want die ryke sal vergaan soos 'n veldblom. As die son met sy gloeiende hitte opkom, verskroei dit die plantegroei, die blomme val af en die prag is daarmee heen. So sal die ryke ook tussen al sy bedrywighede deur vergaan. Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.
JAKOBUS 1:9-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Laat die broer wat gering is, hom op sy hoë aansien beroem, en die ryke in sy geringheid, want soos 'n veldblom sal hy vergaan. Want die son met sy hitte kom op en verdor die veld, en die blom val af, en sy skoonheid gaan tot niet. Net so sal die ryke verwelk in alles wat hy doen. Gelukkig is die man wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinningskrans van die lewe ontvang, wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet. Laat niemand wat versoek word, sê: “Ek word deur God versoek” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde, en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood.
JAKOBUS 1:9-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Laat die broeder van geringe graad hom verheug omdat hy verhewe is: Maar die ryke, deurdat hy verneder is, want soos 'n blom van die gras sal hy verbygaan. Want die son kom nie vroeër op met 'n brandende hitte nie, maar dit laat die gras verdroog, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal ook die ryk man in sy weë verwelk. Geseënd is die man wat versoeking verdra, want as hy beproef word, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet. Laat niemand as hy versoek word, sê: Ek word deur God versoek nie, want God kan nie deur die kwaad versoek word nie, en Hy versoek niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Wanneer begeerlikheid dan swanger geword het, bring dit sonde voort; en sonde, as dit voleindig is, baar die dood.
JAKOBUS 1:9-15 Die Boodskap (DB)
God werk anders as ons met mense. Vir Hom is daardie arm man of vrou wat in nederige omstandighede bly, baie belangrik. Vir julle met wie dit so gaan, moet dit baie moed gee. Die rykes in die groot huise moet weet dat die status wat geld gee, nie by God tel nie. Sulke mense moet liewer laag by God se voete gaan sit met die besef van hoe klein hulle eintlik voor God is. En weet julle hoekom? Laat ek ’n voorbeeld gebruik. Rykdom of status hou nie lank nie, net soos ’n wilde blommetjie in die veld. In die oggend lyk die blommetjie te pragtig. Maar dan begin die son bak. Teen die middag hang daardie mooi blommetjie verlep en teen die aand is daar niks van hom oor nie. Die blaartjies lê saam met die mooiheid van die blommetjie verskroei op die grond. So is die pad van rykdom. Die ryk man sal tussen al sy status en geld ook maar soos die blommetjie verlep en sterf. En wat help dit alles hom dan? Die Here gebruik slegte of moeilike dinge in ons lewe om te kyk of ons lojaal aan Hom gaan bly. Ware geluk is om dié toets met vlieënde vaandels te slaag. God noem sulke mense wenners in die lewe. Hy sal hulle deel van sy familie maak. Hulle sal vir altyd by God kan bly omdat hulle deur hulle optrede gewys het hoe lief hulle Hom het. Een fout moet ons egter nie maak nie. Ek kan nie sê dat God die Een is wat al die slegte dinge oor my bring net om my te toets nie. Met sulke speletjies hou God Hom nie op nie. Dit is nie asof die een of ander bose mag God aan sulke toetse kan onderwerp of dat God mense daaraan onderwerp nie. Nee, dinge wat ’n geestelike stryd in jou lewe veroorsaak, is jou eie skuld. Die mens begin aan allerhande verkeerde dinge dink en wil dit dan net doen. Soos ’n kind wat agter ’n skoenlapper aanhardloop, lok die verkeerde gedagtes die persoon al hoe dieper die moeilikheid in. Dan word jou Christenskap voor ’n toets gestel. Jy moet kies. As jy kies om op die verkeerde pad aan te gaan, sal jy later nie net oor die verkeerde dinge dink nie, maar dit ook begin doen. En hoe meer jy dit doen, hoe meer sal jy dit wil doen. So werk die sonde met ’n mens. Dit is die pad na die afgrond, die afgrond van godverlatenheid en die dood.
JAKOBUS 1:9-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Gelowiges wat nie status in die samelewing het nie, moet trots wees op die status wat God aan hulle gee. Gelowiges wat ryk is, moet bly wees oor hulle nederige status voor God. Want hulle rykdom sal soos die veld se blomme net ’n rukkie hou. Julle weet mos: Die warm son kom met gloeiende hitte op en verskroei die veld. Die blomme val af, en die veld se prag is weg. So sal die rykes ook met alles wat hulle bymekaargemaak het, vergaan. Gelukkig is die mens wat in beproewing volhard! As die toets sy geloof as eg bewys, sal hy die lewe as oorwinningskroon ontvang. God het hierdie lewe belowe aan hulle wat Hom liefhet. Wanneer iemand iets verkeerds wil doen, moet hy nie sê: “God verlei my” nie. Ons weet mos God kan nie verlei word om verkeerd te doen nie, en Hý verlei ook niemand nie. Ons eie sondige begeertes beproef ons, sleep ons saam en verlei ons. As ons sondige begeertes eers bevrug geraak het, is sonde die babatjie wat gebore word. En as hierdie babatjie kans kry om volwasse te word, gee dit geboorte aan die dood.