JESAJA 53:1-9
JESAJA 53:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien? Die dienaar was soos 'n loot wat voor die Here uitspruit, soos 'n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Hy was verag en deur die mense verstoot, 'n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos 'n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos 'n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie. Terwyl hy gely het en gestraf is, is hy weggeneem, en wie van sy mense het dit ter harte geneem dat hy afgesny is uit die land van die lewendes? Hy is gestraf oor die sonde van my volk. Hy het 'n graf gekry by goddeloses, hy was by sondaars in sy dood al het hy geen misdaad gepleeg nie en al was hy nooit vals nie.
JESAJA 53:1-9 Bybel vir almal (ABA)
Hulle het gevra: “Wie het geglo wat ons gehoor het? Vir wie het die Here gewys Hy is sterk? Hierdie man was soos 'n plantjie wat begin groei het, soos 'n wortel wat in droë grond begin groei. Hy was soos 'n plantjie wat ons nie raaksien nie, 'n plantjie wat nie mooi is nie. Al die mense het gedink hierdie man is nie belangrik nie en hulle wou hom nie sien nie. Hy het swaargekry en hy was altyd siek. Die mense het hulle gesig weggedraai, hulle wou nie na hom kyk nie. Die mense het gedink hy is nie belangrik nie, en ons het gedink hy beteken niks. Maar hy was siek sodat ons gesond kan wees, hy het swaargekry sodat ons nie sal swaarkry nie. En ons het gedink dit is God wat hom straf en wat hom slaan en verneder. Ja, dit is óns wat opstandig was, maar hulle het hóm met 'n spies gesteek. Dit is óns wat verkeerd gedoen het, maar hulle het hóm stukkend geslaan. Hy het die straf gekry sodat dit goed kan gaan met óns, hy het seergekry sodat óns gesond kan wees. Ons almal het soos skape en bokke rondgeloop, elkeen het geloop waar hy wou loop. Ons almal het verkeerd gedoen, maar die Here het daardie man gestraf. Die mense het hom verdruk en seergemaak, maar hy het niks gesê nie. Hy was soos 'n skaap wanneer iemand hom wil slag of wanneer iemand sy wol afskeer, hy het stilgebly en niks gesê nie. Hy was 'n gevangene, hulle het gesê hy is skuldig. Was iemand bekommerd oor hoe dit met hom sal gaan? Nee, niemand nie. Hulle het hom afgesny van die mense wat lewe, hulle het hom laat swaarkry omdat sy volk opstandig was. Hulle het vir hom 'n graf gereedgemaak by skuldige mense, en toe hy sterf, het hulle hom begrawe by mense wat ander mense se goed gevat het en ryk geword het. Maar hy het niemand seergemaak nie en hy het niemand bedrieg nie.
JESAJA 53:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WIE het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar? Hy tog het soos 'n loot voor sy aangesig opgespruit en soos 'n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. Hy was verag en deur die mense verlaat, 'n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders — ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote — wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom. En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by 'n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.
JESAJA 53:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wie het geglo wat ons gehoor het? En die arm van die HERE, aan wie is dit geopenbaar? Hy het soos 'n jong loot voor Hom opgegroei, soos 'n wortelstok uit droë grond. Hy het nie 'n gestalte gehad, geen glans, dat ons na hom sou kyk nie, nie 'n goeie voorkoms, dat ons hom sou begeer nie. Hy is verag, deur mense verlaat, 'n mens van smarte, bekend met siekte, soos iemand vir wie 'n mens jou gesig verberg. Hy is verag, en ons het hom nie geag nie. Nogtans, ons siektes, hy het dit gedra, en ons smarte, hy het dit op hom gelaai. Maar ons het hom beskou as iemand wat gekasty word, geslaan deur God, en verneder. Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing. Ons almal het soos kleinvee gedwaal, elkeen van ons het sy eie koers ingeslaan; maar die HERE het ons almal se sondeskuld op hom laat neerkom. Hy is mishandel, maar hy het hom daaraan onderwerp en nie sy mond oopgemaak nie – soos 'n skaap wat ter slagting gebring word, soos 'n ooi wat voor haar skeerders stom is. Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Ná onderdrukking en 'n vonnis is hy weggeneem; en sy lot, wie dink daaroor na? Ja, hy is afgesny van die land van die lewendes; vanweë die oortreding van sy volk het die slae hom getref. Hulle het vir hom sy graf by goddeloses gegee, en by 'n ryke was hy in sy dood, alhoewel hy nie geweld gepleeg het, en bedrog nie in sy mond was nie.
JESAJA 53:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wie het ons verslag geglo? en aan wie is die arm van die HERE geopenbaar? Want hy sal voor sy aangesig opgroei soos 'n sagte plant en soos 'n wortel uit 'n droë grond; en wanneer ons Hom sal sien, is daar geen skoonheid dat ons Hom sou begeer nie. Hy word verag en deur die mense verwerp; 'n man van smarte en bekend met droefheid; en ons het as 't ware ons aangesig vir hom verberg; hy was verag, en ons het hom nie geag nie. Waarlik, Hy het óns smarte gedra en óns smarte gedra, maar ons het Hom geag as geslaan, deur God geslaan en verdruk. Maar hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is hy verbrysel; die tugtiging van ons vrede was op hom; en deur sy wonde het ons genees. Al ons soos skape het gedwaal; ons het elkeen sy eie pad gedraai; en die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is verdruk, en hy was ellendig, maar hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam word hy na die slag gebring, en soos 'n skaap stom is voor sy skeerders, so maak hy sy mond nie oop nie. Hy is weggeneem uit die gevangenis en uit die oordeel; en wie sal sy geslag aankondig? want hy is uitgeroei uit die land van die lewendes; oor die oortreding van my volk is hy getref. En hy het sy graf by die goddelose gemaak en by die rykes in sy dood; omdat hy geen geweld gedoen het nie, en geen bedrog in sy mond was nie.
JESAJA 53:1-9 Die Boodskap (DB)
Wie het dit geglo toe hulle dit vir ons vertel het? Wie het raakgesien dat dit die Here is wat dit deur sy krag doen? Sy dienaar het onverwags na vore begin kom. Hy was soos ’n boomwortel wat dit regkry om in droë grond te groei. Daar was niks aan hom wat hom opvallend gemaak het nie. Daar was nie iets aan sy voorkoms wat vir ons mooi was nie. Mense het die rug vir hom gedraai. Hy het swaargekry. Hy het geweet wat lyding is. Mense het hom vermy. Ons het niks van hom gedink nie. Hy het al die siektes gehad wat ons eintlik moes gehad het. Hy het die pyn ervaar wat ons eintlik moes ervaar het. Maar ons het gedink dit is God wat hom vir sy eie oortreding straf. Hy is gewond as gevolg van ons opstand teen God. Hy is doodgemaak omdat ons sonde gedoen het. Hy moes die prys betaal wat ons lewe kon herstel. Hy is stukkend geslaan sodat ons weer gesond kon word. Ons almal was soos skape wat verdwaal het. Elkeen het sy eie koers gekies. Maar die Here het al ons sonde op hom laat neerkom. Hy is sleg behandel. Tog het hy nie ’n woord gesê nie. Hy was so mak soos ’n lammetjie wat weggevat word om geslag te word. Hy was so stil soos ’n skaap wat geskeer word. Hy is gevonnis en uit die tronk weggevat om tereggestel te word. Wie het daaroor gedink dat hy doodgemaak kan word, dat hy ter wille van sy volk tereggestel kan word? Hy is by misdadigers begrawe. Sy graf is tussen sondaars, al het hy hom nooit aan geweld skuldig gemaak nie, selfs nie eens leuens verkoop nie.
JESAJA 53:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wie het ons boodskap geglo? Aan wie het die HERE sy reddende mag openbaar? My dienaar het gegroei soos ’n loot wat uitspruit in die teenwoordigheid van die HERE, soos ’n plant wat groei in droë grond. Hy was nie mooi of koninklik sodat hy ons sou aantrek, of met ’n voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Hy was verag en verwerp deur mense, iemand wat leed en pyn geken het. Hy was soos iemand vir wie mense die gesig wegdraai, verag en ons het hom nie geag nie. Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het. Hy het ons pyn verduur. Ons het aan hom gedink as dat God hom slaan, kasty en teister. Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes. Hy is gestraf sodat ons in vrede kan leef. Hy is geslaan sodat ons gesond kan word. Almal van ons het weggedwaal soos ’n klomp skape. Ons het ons eie pad gevolg. En toe het die HERE ons almal se skuld en sondes op hom laat neerkom. Hy is geslaan en mishandel, maar hy het sy mond nie oopgemaak nie. Hy is soos ’n lam wat ter slagting gelei word. Soos ’n skaap stil is voor sy skeerders, so het ook hý sy mond nie oopgemaak nie. Hy is verdruk, skuldig bevind, en weggelei na sy dood. Wie van sy mense het besef dat hy vir hulle sondes doodgemaak word? Dat hy eintlik in húlle plek gestraf word? Hy het niks verkeerds gedoen nie, en het nooit enigiemand bedrieg nie. Tog is hy soos ’n misdadiger begrawe, in ’n ryke se graf neergelê.