JESAJA 53:1-9

JESAJA 53:1-9 NLV

Wie het ons boodskap geglo? Aan wie het die HERE sy reddende mag openbaar? My dienaar het gegroei soos ’n loot wat uitspruit in die teenwoordigheid van die HERE, soos ’n plant wat groei in droë grond. Hy was nie mooi of koninklik sodat hy ons sou aantrek, of met ’n voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Hy was verag en verwerp deur mense, iemand wat leed en pyn geken het. Hy was soos iemand vir wie mense die gesig wegdraai, verag en ons het hom nie geag nie. Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het. Hy het ons pyn verduur. Ons het aan hom gedink as dat God hom slaan, kasty en teister. Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes. Hy is gestraf sodat ons in vrede kan leef. Hy is geslaan sodat ons gesond kan word. Almal van ons het weggedwaal soos ’n klomp skape. Ons het ons eie pad gevolg. En toe het die HERE ons almal se skuld en sondes op hom laat neerkom. Hy is geslaan en mishandel, maar hy het sy mond nie oopgemaak nie. Hy is soos ’n lam wat ter slagting gelei word. Soos ’n skaap stil is voor sy skeerders, so het ook hý sy mond nie oopgemaak nie. Hy is verdruk, skuldig bevind, en weggelei na sy dood. Wie van sy mense het besef dat hy vir hulle sondes doodgemaak word? Dat hy eintlik in húlle plek gestraf word? Hy het niks verkeerds gedoen nie, en het nooit enigiemand bedrieg nie. Tog is hy soos ’n misdadiger begrawe, in ’n ryke se graf neergelê.

Gratis leesplanne en oordenkings oor JESAJA 53:1-9