Wie het geglo wat ons gehoor het?
En die arm van die HERE,
aan wie is dit geopenbaar?
Hy het soos 'n jong loot
voor Hom opgegroei,
soos 'n wortelstok uit droë grond.
Hy het nie 'n gestalte gehad,
geen glans,
dat ons na hom sou kyk nie,
nie 'n goeie voorkoms,
dat ons hom sou begeer nie.
Hy is verag, deur mense verlaat,
'n mens van smarte,
bekend met siekte,
soos iemand vir wie 'n mens
jou gesig verberg.
Hy is verag,
en ons het hom nie geag nie.
Nogtans, ons siektes,
hy het dit gedra,
en ons smarte,
hy het dit op hom gelaai.
Maar ons het hom beskou
as iemand wat gekasty word,
geslaan deur God, en verneder.
Hy is egter deurboor
oor ons oortredings,
verbrysel oor ons sondeskuld.
Die straf wat ons vrede bewerk,
was op hom,
en deur sy wonde is daar
vir ons genesing.
Ons almal het soos kleinvee gedwaal,
elkeen van ons het sy eie koers ingeslaan;
maar die HERE het ons almal
se sondeskuld op hom laat neerkom.
Hy is mishandel,
maar hy het hom daaraan onderwerp
en nie sy mond oopgemaak nie –
soos 'n skaap wat ter slagting gebring word,
soos 'n ooi wat voor haar skeerders stom is.
Hy het sy mond nie oopgemaak nie.
Ná onderdrukking en 'n vonnis
is hy weggeneem;
en sy lot, wie dink daaroor na?
Ja, hy is afgesny van die land van die lewendes;
vanweë die oortreding van sy volk
het die slae hom getref.
Hulle het vir hom sy graf
by goddeloses gegee,
en by 'n ryke was hy in sy dood,
alhoewel hy nie geweld gepleeg het,
en bedrog nie in sy mond was nie.