JESAJA 30:1-18

JESAJA 30:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Verwoesting staan vas vir my opstandige kinders,” sê die HERE. “Julle maak planne wat nie van My kom nie. Julle smee vennootskappe wat nie deur My geïnspireer is nie. Julle stapel sonde op sonde. Sonder om My te raadpleeg gaan julle Egipte toe om hulp te soek. Julle stel julle vertroue in die farao. Hy moet julle beskerm! Deur op die farao te vertrou, sal julle verneder word. Egipte gaan julle in die skande steek! Alhoewel sy mag strek tot by Soan en Ganes, sal julle teleurgesteld staan. Hy sal julle nie kan help nie. Egipte bring net skande en vernedering!” ’n Aankondiging oor die diere in die Negev: Hulle bring skatte om te betaal vir die hulp van Egipte. Hulle donkies en kamele is gelaai met geskenke. Hulle reis deur ’n land vol swaarkry en gevaar. Hier kry jy leeus en slange en vlieënde drake. Hulle kom soek hulp by ’n volk wat nie kan help nie. Egipte se beloftes is waardeloos! Ek noem hom die draak wat tot niks in staat is nie. Gaan sit nou en skryf hierdie woorde neer oor Egipte. Dit sal vir altyd vertel van Israel se ongeloof. Hierdie mense is koppige rebelle wat weier om hulle te steur aan die opdragte van die HERE. Hulle sê vir die sieners: “Bly stil, ons wil niks meer hoor van wat julle sien nie!” En vir die profete sê hulle: “Ons wil nie die waarheid hoor nie! Sê vir ons wat ons wil hoor, dat goeie dinge met ons gaan gebeur. Vertel vir ons leuens! Vergeet van al die slegte dinge! Ons het meer as genoeg gehoor van die ‘Heilige van Israel’. Ons is moeg om te hoor wat Hy kwansuis vir ons wil sê!” Daarom antwoord die Heilige van Israel self: “Julle het my waarskuwing geïgnoreer, en eerder vertrou op leuens en bedrog. Daarom sal rampe skielik oor julle kom. Dit sal wees soos ’n muur wat oorhang en dreig om om te val. En dan skielik, onverwags, sal dit inmekaarstort. Julle sal soos ’n kleipot stukkend breek. Julle sal so fyn gebreek word dat daar nie eers ’n stukkie sal oorbly wat groot genoeg is dat ’n mens ’n kooltjie daarop kan dra, of water van die put kan skep nie.” So sê die oppermagtige HERE, die Heilige van Israel: “Eers as julle na My draai en tot rus kom, sal julle gered word. Deur stil te raak en te vertrou, sal julle sterk word. Maar julle wou nie. Julle het gesê: ‘Nee, ons hulp kom van Egipte. Hulle gee ons vinnige perde om mee te veg.’ Nou, dan sal julle vinnig ry. Maar julle agtervolgers sal vinniger wees! Een van hulle sal duisend van julle jaag. En vyf van hulle sal julle almal laat wegvlug. Julle sal bly staan soos ’n enkele vlagpaal op ’n berg, soos ’n vaandel op ’n heuwel.” HERE Tog wag die HERE gretig dat julle terugkom na Hom toe. Hy wil genade aan julle bewys. Die HERE is ’n God wat regverdig is. Hy seën die mens wat op Hom vertrou vir hulp.

JESAJA 30:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Die Here sê: “Dit sal sleg gaan met julle. Julle is soos ongehoorsame kinders. Julle maak planne en ooreenkomste maar Ek het nie gesê julle moet dit doen nie. Julle doen meer en meer sonde. Julle vra nie vir My wat julle moet doen nie, maar julle gaan na Egipte en julle vra vir die farao dat hy julle moet beskerm. Julle dink julle sal veilig wees wanneer Egipte julle beskerm. Maar julle sal teleurgesteld wees wanneer die farao julle beskerm. Dit sal vir julle niks help nie, Egipte kan julle nie beskerm nie. Julle amptenare is al klaar in die stad Soan, julle boodskappers het al klaar aangekom in die stad Ganes, maar daardie volk beteken niks, hulle sal julle nie kan help nie. Julle sal teleurgesteld wees, en die ander volke sal julle spot.” Die Here het kwaai gepraat teen die diere in die suide. Hy het gesê: “Die boodskappers van Juda bring presente vir 'n volk wat nie vir hulle kan help nie. Hulle sit die presente op hulle donkies en hulle kamele en hulle ry deur die woestyn waar dit baie gevaarlik is. Daar is leeus en slange en drake wat vlieg. Maar Egipte beteken niks, Egipte kan hulle nie help nie. Hy is 'n monster, maar hy kan niks doen nie.” Jy moet dit nou in 'n boek gaan skryf en die mense van Juda moet dit sien. Jy moet dit alles skryf, sodat mense dit later kan lees en almal kan weet wat die mense van Juda gedoen het. Hulle is 'n ongehoorsame volk, hulle is soos kinders wat lieg, hulle wil nie luister wat die Here vir hulle leer nie. Hulle sê vir die profete: “Julle moenie kyk wanneer die Here vir julle wys wat sal gebeur nie. Julle moenie luister wanneer Hy sê wat reg is nie. Julle moet vir ons dinge sê wat ons graag wil hoor, dit maak nie saak of dit nie waar is nie.” Hulle sê: “Gaan weg, moenie met ons praat oor die Heilige God van Israel nie.” Daarom sê die Heilige God van Israel nou: “Julle het nie geluister na wat Ek vir julle gesê het nie, julle het gedink dit is reg om mense te verdruk en te bedrieg. Daarom sal hierdie sonde word soos 'n stukkende plek in 'n hoë muur wat nie regop is nie. Die muur sal skielik omval en stukkend breek soos 'n kleipot wanneer iemand die pot stukkend slaan. Daar sal nie een stuk van die pot oorbly om kole uit 'n vuur te krap, of om water uit 'n dam te skep nie.” Die Here, die Heilige God van Israel, het gesê: “As julle terugkom na My toe en veilig voel by My, dan sal Ek julle red. As julle stilbly en My glo en vertrou, dan sal Ek julle help. Maar julle wou dit nie doen nie. Julle het gesê: ‘Nee, ons vlug op perde, ons sal op vinnige perde ry.’ Daarom sál julle vlug, maar die mense wat vir julle wil vang, sal vinniger as julle ry. Duisend van julle sal vlug vir een van die vyand se manne, en as daar vyf van die vyand se manne kom, dan sal julle aanhou vlug totdat net 'n paar van julle oorbly. Julle sal wees soos 'n paal of soos 'n vlag wat alleen bo-op 'n berg staan.” Daarom is die Here gereed om julle te help, Hy wil julle graag help en Hy wil weer goed wees vir julle. Daarom maak Hy alles gereed om weer goed te wees vir julle. Die Here wil dit doen, want Hy is die God wat reg doen. Dit gaan goed met almal wat glo dat Hy sal doen wat Hy belowe het.

JESAJA 30:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

WEE die opstandige kinders, spreek die HERE, wat 'n plan uitvoer, maar dit is nie uit My nie; wat 'n verbond sluit, en dit is nie uit my Gees nie, om sonde op sonde te stapel; wat gaan om na Egipte af te trek, en hulle raadpleeg my mond nie, om toevlug te soek onder die beskutting van Farao en om te skuil in die skaduwee van Egipte. Maar die beskutting van Farao sal julle tot skande wees, en die skuiling in die skaduwee van Egipte tot smaadheid. Want hulle vorste is in Soan, en hulle boodskappers het in Hanes aangekom; almal staan beskaamd vanweë die volk wat hulle geen voordeel aanbring nie, geen hulp en geen voordeel nie, maar skande en smaadheid daarby. Godspraak oor die diere van die Suidland. In 'n land van benoudheid en angs, waar leeuin en leeu uitkom, adder en vlieënde draak, vervoer hulle op die rugge van esels hul rykdomme en op die bulte van kamele hul skatte, na 'n volk wat geen voordeel bring nie. En Egipte — nietig en leeg is sy hulp; daarom noem ek dit: Rahab wat stilsit. Gaan nou in, skryf dit op 'n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in 'n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid. Want dit is 'n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie; wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry; wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn! Daarom, so sê die Heilige van Israel: Omdat julle hierdie woord verwerp en vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun, daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos 'n los stuk wat wil val, wat oorhang in 'n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom. Ja, Hy sal dit verbreek soos die kruik van 'n pottebakker verbreek word, wat sonder verskoning stukkend geslaan word, sodat by die brokstukke daarvan geen skerf gevind word om vuur uit die vuurherd te gaan haal of om water uit die kuil te skep nie. Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie en het gesê: Nee, maar op perde sal ons vlieg — daarom sal julle moet vlug! en: Op renperde sal ons ry — daarom sal julle vervolgers laat jaag! Eenduisend van julle sal vlug vir die oorlogsgeroep van een enkele, vir die oorlogsgeroep van vyf, totdat julle oorbly soos 'n vlagpaal op 'n bergtop en soos 'n banier op 'n heuwel. En daarom sal die HERE met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die HERE is 'n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag!

JESAJA 30:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ellende wag vir die rebelse mense wat planne uitvoer wat nie van My af kom nie, sê die Here, dié wat verdrae sluit wat nie volgens my wil is nie en so sonde op sonde stapel. Hulle gaan af na Egipte toe sonder om My te raadpleeg, hulle gaan soek steun by die mag van die farao, hulle wil beskerming by Egipte hê, maar hulle sal teleurgestel staan met die farao se mag en al, die beskerming deur Egipte sal hulle niks baat nie. Die leiers van Juda is al in Soan, sy boodskappers het al in Ganes aangekom, maar hulle sal almal teleurgestel word deur dié volk wat nie kan help nie, wat nie hulp en bystand kan verleen nie maar wat skande en vernedering bring. 'n Uitspraak van die Here oor die diere in die Suidland: Die gesante van Juda bring hulle ryk geskenke, hulle skatte, op die rûe van hulle donkies en hulle kamele; hulle bring dit deur 'n gebied vol gevaar en angs waar leeus en slange boer en waar drake rondvlieg, hulle bring dit na 'n volk toe wat nie kan help nie. Egipte is niks, sy hulp beteken niks! Ek noem hom Rahab, die een wat niks kan doen nie. Gaan skryf dit nou op waar Juda by is, teken dit aan dat dit altyd teen hulle kan getuig in die dae wat kom. Hulle is 'n weerbarstige volk, hulle is mense wat lieg en wat weier om te luister na wat die Here wil. Hulle sê vir die sieners: “Moenie gesigte sien nie!” Hulle sê vir dié wat gesigte sien: “Moenie gesigte sien oor wat ons moet doen nie, vlei ons liewer, sien liewer dinge wat ons mislei! Gee pad voor ons, moenie voor ons kom staan nie; laat die Heilige van Israel uit ons teenwoordigheid verdwyn!” So sê die Heilige van Israel: Julle het my waarskuwing verwerp, julle het julle vertroue gestel in geweld en bedrog en daarop gesteun. Daarom word hierdie sonde vir julle 'n hoë stuk muur wat oorhang en dreig om te val en dan skielik, onverwags inmekaarstort en in stukke spat soos 'n groot kleipot wat meedoënloos fyn geslaan word sodat daar onder al sy skerwe nie een oor is om mee kole uit 'n vuurmaakplek te krap of water uit 'n opgaarput te skep nie. So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie; julle het gesê: “Nee, ons sal op perde wegjaag, ons sal vinnige perde ry.” Dan sál julle vlug, maar julle agtervolgers sal vinniger wees. Duisend van julle sal vlug as één julle bedreig, en as vyf julle bedreig, sal julle aanhou vlug totdat die paar wat van julle oorbly, soos 'n eensame vlagpaal op 'n berg, soos 'n enkele vaandel op 'n heuwel sal wees. Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm: Die Here is 'n God wat reg laat geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.

JESAJA 30:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Wee die koppige kinders!” is die uitspraak van die HERE, “hulle wat daarop uit is om planne uit te voer, maar sonder My, om verdrae te sluit, maar nie volgens my Gees nie – om so sonde by sonde te voeg. Dit is hulle wat aanhou om na Egipte af te gaan, maar na my wil vra hulle nie – om toevlug te soek in die toevlugsoord van die farao, om te skuil in die skadu van Egipte! Vir julle sal die farao se toevlugsoord tot skande strek, en die skuilgaan in die skadu van Egipte sal tot vernedering lei. Ja, Juda se •hoë amptenare was reeds in Soan, en sy boodskappers bereik Ganes. Hulle staan almal beskaamd oor 'n volk wat vir hulle van geen nut is nie, wat nie tot hulp, nie tot voordeel is nie, maar net tot skande, en ook bespotting.” 'n Profesie oor die diere van die Negev. In 'n land van benoudheid en angs, met leeuwyfies en leeumannetjies, met adders en vlieënde vurige slange, vervoer hulle op die rûe van donkiehingste hulle rykdom, en op die boggels van kamele hulle skatte, na 'n volk wat van geen nut is nie. Wat Egipte betref: Hulle hulp is sinloos en nietig; daarom noem ek haar Rahab die Sittende. “Gaan nou, skryf dit, waar hulle by is, op 'n skryftablet, pen dit neer in 'n boekrol, sodat dit vir 'n dag in die toekoms, as 'n getuienis vir altyd, daar sal wees! Want dit is 'n rebelse volk, kinders wat lieg, kinders wat nie wil luister na die Wet van die HERE nie, wat vir die sieners sê, ‘Julle mag nie sien nie!’ vir dié wat visioene sien, ‘Julle mag nie vir ons visioene sien wat reg is nie! Vertel vir ons vleiende dinge; sien bedrieglike visioene! Wyk af van die pad! Draai af van die gebaande weg! Hou op om ons lastig te val met die Heilige van Israel!’ ” Daarom, so sê die Heilige van Israel: “Omdat julle hierdie woord verwerp het, vertrou het op afpersing en skelmstreke, en daarop gesteun het, daarom sal hierdie sondeskuld vir julle wees soos die bres in 'n hoë muur wat oorhel om te val, waarvan die ineenstorting skielik, onverwags, sal kom. Dit sal gebreek word soos 'n pottebakkerskruik breek – dit word genadeloos stukkend geslaan, sodat tussen die stukkies geen potskerf gevind kan word om kole uit die vuurmaakplek te haal of water uit 'n kuil te skep nie.” Want so sê my Heer, die HERE, die Heilige van Israel: “In bekering en rustigheid lê julle redding, in kalmte en vertroue lê julle krag; maar julle weier. Julle sê, ‘Nee, maar op perde sal ons vlug’ – daarom sál julle vlug – ‘op vinniges sal ons ry’ – daarom sál julle agtervolgers wys hoe vinnig hulle is. Eenduisend van julle sal vir die dreigement van een vlug; vir die dreigement van vyf sal julle vlug, totdat daar van julle soveel oorbly soos 'n vaandel op die kruin van 'n berg, soos 'n banier op 'n heuwel.” Om dié rede wag die HERE om aan julle genade te betoon; om dié rede rig Hy Hom op om Hom oor julle te ontferm. Want die God van reg is die HERE; gelukkig is almal wat op Hom wag.

JESAJA 30:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Wee die opstandige kinders, spreek die HERE, wat raad hou, maar nie uit My nie; en dit bedek met 'n bedekking, maar nie van my gees nie, sodat hulle sonde by sonde kan voeg. Wat wandel om na Egipte af te gaan, en nie na my mond gevra het nie; om hulle te versterk in die sterkte van Farao en om op die skaduwee van Egipte te vertrou! Daarom sal die sterkte van Farao julle skande wees, en die vertroue op die skaduwee van Egipte julle skande. Want sy vorste was in Soan, en sy gesante het na Hanes gekom. Hulle was almal beskaamd oor 'n volk wat vir hulle geen nut kon wees nie, nie 'n hulp of 'n nut kon wees nie, maar 'n skande en ook 'n smaad. Die las van die diere van die suide: na die land van benoudheid en benoudheid, waar kom die jong en ou leeu, die adder en die vurige vlieënde slang vandaan, hulle sal hul rykdom dra op die skouers van jong esels en hul skatte op die troppe kamele, aan 'n volk wat hulle geen voordeel sal doen nie. Want die Egiptenaars help tevergeefs en sonder doel; daarom het Ek hieroor geroep: Hulle krag is om stil te sit. Gaan nou, skryf dit voor hulle op 'n tafel en teken dit in 'n boek, dat dit vir die tyd kan wees vir ewig en altyd. Dat dit 'n wederstrewige volk is, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie hoor nie; wat vir die sieners sê: Sien nie; en aan die profete: Profeteer vir ons nie regte dinge nie, spreek gladde dinge tot ons, profeteer bedrog. Gaan weg uit die pad, draai af van die pad af, laat die Heilige van Israel voor ons ophou. Daarom, so sê die Heilige van Israel: Omdat julle hierdie woord verag en op verdrukking en verdraaidheid vertrou en daarop bly; Daarom sal hierdie ongeregtigheid vir julle wees soos 'n breuk wat gereed is om te val, wat opswel in 'n hoë muur, waarvan die verbreking skielik in 'n oomblik kom. En hy moet dit breek soos die breek van die pottebakkersvoorwerp wat stukkend gebreek word; hy sal nie spaar nie, sodat daar in sy bars geen skerf gevind sal word om vuur uit die vuurherd te haal of om water uit die put te haal nie. Want so sê die HERE HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus sal julle gered word; in stilte en vertroue sal julle krag wees, en julle wou nie. Maar julle het gesê: Nee; want ons sal op perde vlug; daarom sal julle vlug, en: Ons sal op die vinniges ry; daarom sal die wat jou agtervolg haastig wees. Duisend sal vlug vir die teregwysing van een; vir die bestraffing van vyf sal julle vlug, totdat julle oorbly soos 'n baken op die top van 'n berg en soos 'n banier op 'n heuwel. En daarom sal die HERE wag dat Hy julle genadig kan wees, en daarom sal Hy verhoog word, dat Hy Hom oor julle kan ontferm; want die HERE is 'n God van oordeel; geseënd is almal wat op Hom wag.

JESAJA 30:1-18 Die Boodskap (DB)

Daar wag swaarkry op my opstandige kinders, sê die Here, want hulle maak planne wat nie van My af kom nie en voer dit uit. Hulle sluit verdrae wat nie volgens my wil is nie en daardeur stapel hulle hulle sonde al hoër op. Hulle stuur afvaardigings Egipte toe, sonder om My te raadpleeg, om daar hulp te gaan vra. Hulle stel hulle vertroue in die farao met die hoop dat hy hulle sal beskerm. Maar daardie hoop gaan op niks anders as vernedering vir hulle uitloop nie. Al strek sy mag van Soan tot by Ganes, sal dit hulle niks baat nie. Met hierdie volk sal hulle net aan die kortste ent trek. Al wat dit hulle in die sak sal bring, is skande en vernedering, beslis nie hulp nie. Kyk hoe trek die arme pakdiere deur die gevaarlike woestyngebied met sy leeus en slange en selfs vlieënde drake na Egipte toe. Die donkies en kamele kreun onder die gewig van die geskenke wat op hulle gelaai is. Hulle doen dit alles om hulp te gaan soek by ’n volk wat hulle nie kan help nie. Egipte se beloftes is leeg en die hulp wat hy kan gee, beteken niks. Daarom het Ek hom die bynaam Rahab gegee, die monster wat niks beteken nie. Gaan skryf hierdie woorde op waar Juda by is en bewaar dit veilig sodat dit ’n getuienis teen hulle kan wees in die toekoms, want hulle is ’n opstandige klomp leuenaars wat weier om na die Here se raad te luister. Vir die profete en die sieners sê hulle: “Ons wil niks van julle visioene weet nie. Moenie julle vir ons wil kom vertel wat reg is nie. Kom vertel ons liewer wat ons wil hoor, al is dit nie wat die Here vir julle gesê het nie. Gee pad voor ons met julle doemprofesieë. Ons is moeg daarvoor. Ons het meer as genoeg gehad van julle praatjies oor die heilige God van Israel. Hou op om vir ons te preek!” Maar nou sê Israel se heilige God vir julle: “Julle het my waarskuwing verwerp omdat julle staatmaak op afpersing en bedrog. Hierdie sonde is vir julle net so gevaarlik soos ’n stadsmuur wat begin oorhang het na die een kant toe: dit val in ’n oogwink en sonder waarskuwing om. Julle sal vernietig word net soos ’n kleipot wat fyn en flenters gebreek word totdat daar nie eers ’n groot genoeg potskerf oorbly waarmee ’n mens ’n paar kooltjies uit die vuur kan skep of selfs ’n bietjie water uit ’n put kan skep nie.” Maar die Here, die heilige Regeerder van Israel, sê: “Slegs as julle julle bekeer en julle vertroue in My stel en rustig op My wag, sal julle gered word. Julle krag lê daarin dat julle stil op My vertrou.” Maar daarvan wou julle niks weet nie. “Nee wat,” het julle gesê, “Egipte sal ons help. Hulle sal vir ons vinnige perde gee waarmee ons kan wegjaag.” Dit is waar: julle sal moet wegjaag met julle vinnige perde, want julle vyande sal nog vinniger perde hê. Een van hulle soldate sal duisend van julle op die vlug laat slaan. Net vyf van hulle is genoeg om julle almal te laat weghardloop. Daar sal nie veel van julle leër oorbly nie, en die klompie wat wel oorbly, sal so verlate wees soos ’n enkele vlagpaal wat bo-op ’n berg staan. En tog wag die Here nog altyd vir ’n kans om julle te wys hoe goed Hy vir julle is. Hy is reg om enige oomblik in te gryp omdat Hy julle jammer kry, want die Here is ’n God wat reg laat geskied. Dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.