WEE die opstandige kinders, spreek die HERE, wat 'n plan uitvoer, maar dit is nie uit My nie; wat 'n verbond sluit, en dit is nie uit my Gees nie, om sonde op sonde te stapel;
wat gaan om na Egipte af te trek, en hulle raadpleeg my mond nie, om toevlug te soek onder die beskutting van Farao en om te skuil in die skaduwee van Egipte.
Maar die beskutting van Farao sal julle tot skande wees, en die skuiling in die skaduwee van Egipte tot smaadheid.
Want hulle vorste is in Soan, en hulle boodskappers het in Hanes aangekom;
almal staan beskaamd vanweë die volk wat hulle geen voordeel aanbring nie, geen hulp en geen voordeel nie, maar skande en smaadheid daarby.
Godspraak oor die diere van die Suidland. In 'n land van benoudheid en angs, waar leeuin en leeu uitkom, adder en vlieënde draak, vervoer hulle op die rugge van esels hul rykdomme en op die bulte van kamele hul skatte, na 'n volk wat geen voordeel bring nie.
En Egipte — nietig en leeg is sy hulp; daarom noem ek dit: Rahab wat stilsit.
Gaan nou in, skryf dit op 'n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in 'n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid.
Want dit is 'n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie;
wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry;
wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!
Daarom, so sê die Heilige van Israel: Omdat julle hierdie woord verwerp en vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun,
daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos 'n los stuk wat wil val, wat oorhang in 'n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom.
Ja, Hy sal dit verbreek soos die kruik van 'n pottebakker verbreek word, wat sonder verskoning stukkend geslaan word, sodat by die brokstukke daarvan geen skerf gevind word om vuur uit die vuurherd te gaan haal of om water uit die kuil te skep nie.
Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie
en het gesê: Nee, maar op perde sal ons vlieg — daarom sal julle moet vlug! en: Op renperde sal ons ry — daarom sal julle vervolgers laat jaag!
Eenduisend van julle sal vlug vir die oorlogsgeroep van een enkele, vir die oorlogsgeroep van vyf, totdat julle oorbly soos 'n vlagpaal op 'n bergtop en soos 'n banier op 'n heuwel.
En daarom sal die HERE met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die HERE is 'n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag!