Jesaja 30:1-18

Jesaja 30:1-18 AFR20

“Wee die koppige kinders!” is die uitspraak van die HERE, “hulle wat daarop uit is om planne uit te voer, maar sonder My, om verdrae te sluit, maar nie volgens my Gees nie – om so sonde by sonde te voeg. Dit is hulle wat aanhou om na Egipte af te gaan, maar na my wil vra hulle nie – om toevlug te soek in die toevlugsoord van die farao, om te skuil in die skadu van Egipte! Vir julle sal die farao se toevlugsoord tot skande strek, en die skuilgaan in die skadu van Egipte sal tot vernedering lei. Ja, Juda se •hoë amptenare was reeds in Soan, en sy boodskappers bereik Ganes. Hulle staan almal beskaamd oor 'n volk wat vir hulle van geen nut is nie, wat nie tot hulp, nie tot voordeel is nie, maar net tot skande, en ook bespotting.” 'n Profesie oor die diere van die Negev. In 'n land van benoudheid en angs, met leeuwyfies en leeumannetjies, met adders en vlieënde vurige slange, vervoer hulle op die rûe van donkiehingste hulle rykdom, en op die boggels van kamele hulle skatte, na 'n volk wat van geen nut is nie. Wat Egipte betref: Hulle hulp is sinloos en nietig; daarom noem ek haar Rahab die Sittende. “Gaan nou, skryf dit, waar hulle by is, op 'n skryftablet, pen dit neer in 'n boekrol, sodat dit vir 'n dag in die toekoms, as 'n getuienis vir altyd, daar sal wees! Want dit is 'n rebelse volk, kinders wat lieg, kinders wat nie wil luister na die Wet van die HERE nie, wat vir die sieners sê, ‘Julle mag nie sien nie!’ vir dié wat visioene sien, ‘Julle mag nie vir ons visioene sien wat reg is nie! Vertel vir ons vleiende dinge; sien bedrieglike visioene! Wyk af van die pad! Draai af van die gebaande weg! Hou op om ons lastig te val met die Heilige van Israel!’ ” Daarom, so sê die Heilige van Israel: “Omdat julle hierdie woord verwerp het, vertrou het op afpersing en skelmstreke, en daarop gesteun het, daarom sal hierdie sondeskuld vir julle wees soos die bres in 'n hoë muur wat oorhel om te val, waarvan die ineenstorting skielik, onverwags, sal kom. Dit sal gebreek word soos 'n pottebakkerskruik breek – dit word genadeloos stukkend geslaan, sodat tussen die stukkies geen potskerf gevind kan word om kole uit die vuurmaakplek te haal of water uit 'n kuil te skep nie.” Want so sê my Heer, die HERE, die Heilige van Israel: “In bekering en rustigheid lê julle redding, in kalmte en vertroue lê julle krag; maar julle weier. Julle sê, ‘Nee, maar op perde sal ons vlug’ – daarom sál julle vlug – ‘op vinniges sal ons ry’ – daarom sál julle agtervolgers wys hoe vinnig hulle is. Eenduisend van julle sal vir die dreigement van een vlug; vir die dreigement van vyf sal julle vlug, totdat daar van julle soveel oorbly soos 'n vaandel op die kruin van 'n berg, soos 'n banier op 'n heuwel.” Om dié rede wag die HERE om aan julle genade te betoon; om dié rede rig Hy Hom op om Hom oor julle te ontferm. Want die God van reg is die HERE; gelukkig is almal wat op Hom wag.