Jesaja 30:1-18

Jesaja 30:1-18 ABA

Die Here sê: “Dit sal sleg gaan met julle. Julle is soos ongehoorsame kinders. Julle maak planne en ooreenkomste maar Ek het nie gesê julle moet dit doen nie. Julle doen meer en meer sonde. Julle vra nie vir My wat julle moet doen nie, maar julle gaan na Egipte en julle vra vir die farao dat hy julle moet beskerm. Julle dink julle sal veilig wees wanneer Egipte julle beskerm. Maar julle sal teleurgesteld wees wanneer die farao julle beskerm. Dit sal vir julle niks help nie, Egipte kan julle nie beskerm nie. Julle amptenare is al klaar in die stad Soan, julle boodskappers het al klaar aangekom in die stad Ganes, maar daardie volk beteken niks, hulle sal julle nie kan help nie. Julle sal teleurgesteld wees, en die ander volke sal julle spot.” Die Here het kwaai gepraat teen die diere in die suide. Hy het gesê: “Die boodskappers van Juda bring presente vir 'n volk wat nie vir hulle kan help nie. Hulle sit die presente op hulle donkies en hulle kamele en hulle ry deur die woestyn waar dit baie gevaarlik is. Daar is leeus en slange en drake wat vlieg. Maar Egipte beteken niks, Egipte kan hulle nie help nie. Hy is 'n monster, maar hy kan niks doen nie.” Jy moet dit nou in 'n boek gaan skryf en die mense van Juda moet dit sien. Jy moet dit alles skryf, sodat mense dit later kan lees en almal kan weet wat die mense van Juda gedoen het. Hulle is 'n ongehoorsame volk, hulle is soos kinders wat lieg, hulle wil nie luister wat die Here vir hulle leer nie. Hulle sê vir die profete: “Julle moenie kyk wanneer die Here vir julle wys wat sal gebeur nie. Julle moenie luister wanneer Hy sê wat reg is nie. Julle moet vir ons dinge sê wat ons graag wil hoor, dit maak nie saak of dit nie waar is nie.” Hulle sê: “Gaan weg, moenie met ons praat oor die Heilige God van Israel nie.” Daarom sê die Heilige God van Israel nou: “Julle het nie geluister na wat Ek vir julle gesê het nie, julle het gedink dit is reg om mense te verdruk en te bedrieg. Daarom sal hierdie sonde word soos 'n stukkende plek in 'n hoë muur wat nie regop is nie. Die muur sal skielik omval en stukkend breek soos 'n kleipot wanneer iemand die pot stukkend slaan. Daar sal nie een stuk van die pot oorbly om kole uit 'n vuur te krap, of om water uit 'n dam te skep nie.” Die Here, die Heilige God van Israel, het gesê: “As julle terugkom na My toe en veilig voel by My, dan sal Ek julle red. As julle stilbly en My glo en vertrou, dan sal Ek julle help. Maar julle wou dit nie doen nie. Julle het gesê: ‘Nee, ons vlug op perde, ons sal op vinnige perde ry.’ Daarom sál julle vlug, maar die mense wat vir julle wil vang, sal vinniger as julle ry. Duisend van julle sal vlug vir een van die vyand se manne, en as daar vyf van die vyand se manne kom, dan sal julle aanhou vlug totdat net 'n paar van julle oorbly. Julle sal wees soos 'n paal of soos 'n vlag wat alleen bo-op 'n berg staan.” Daarom is die Here gereed om julle te help, Hy wil julle graag help en Hy wil weer goed wees vir julle. Daarom maak Hy alles gereed om weer goed te wees vir julle. Die Here wil dit doen, want Hy is die God wat reg doen. Dit gaan goed met almal wat glo dat Hy sal doen wat Hy belowe het.