HEBREËRS 10:11-18
HEBREËRS 10:11-18 Die Boodskap (DB)
Die priesters sloof hulle elke dag met dieselfde ou offers af. Hulle doen dit dagin en daguit. Die offers kan tog nooit maak dat God nie meer die verkeerde dinge raaksien wat mense doen nie. Maar met Christus is dit baie anders. Hy het net een enkele offer gebring en dit was genoeg vir altyd. Daarna het Hy op die ereplek by God in die hemel gaan sit. Daar sit Hy en wag dat God al sy vyande magteloos voor Hom op die grond gaan gooi. Deur daardie een offer van Hom het Hy alles honderd persent by God reggemaak vir elkeen wat God spesiaal Syne gemaak het. Die Heilige Gees sê vir ons dat dit so is. Eers sê die Gees: “Dit is die ooreenkoms wat ek na daardie tyd met hulle sal maak, sê die Here. Ek sal seker maak dat hulle nooit sal vergeet wat Ek van hulle wil hê nie. Wat Ek van hulle verwag, sal Ek deel van hulle lewe maak.” En Hy voeg verder nog dit by: “Aan al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, sal Ek My nie meer steur nie.” As God Hom dan nou nie meer aan hierdie verkeerde dinge steur nie, is dit ook mos nie meer nodig om allerhande offers daarvoor te bring nie.
HEBREËRS 10:11-18 Bybel vir almal (ABA)
En elke priester doen elke dag sy werk en hy bring elke maal dieselfde offers. Daardie offers kan nooit die sondes wegneem nie. Maar nadat Jesus Christus net één offer vir die sondes gebring het, het Hy vir altyd gaan sit op die belangrikste plek langs God, en in die tyd wat oorbly, wag Christus daar totdat God die vyande van Christus voor Hom sal laat buig en Christus sy voete op hulle sal sit. Want omdat Hy één offer gebring het vir almal, het Hy die mense wat aan God gewy is, heeltemal gereinig. Die Heilige Gees sê ook vir ons dat dit waar is: Die verbond wat Ek later met die Israeliete sal maak, sal só wees, sê die Here: Ek sal my wette op hulle harte skryf en Ek sal dit binne-in hulle gee. Nadat die Heilige Gees hierdie dinge gesê het, het Hy ook gesê: Want Ek sal nie meer dink aan hulle sondes en aan die dinge wat hulle verkeerd gedoen het nie. Wanneer God mense se sondes vergewe, dan moet priesters nie meer sonde-offers bring nie, dit is dan nie nodig nie.
HEBREËRS 10:11-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie; maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is 'n voetbank van sy voete. Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word. En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis; want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe, en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie. Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie.
HEBREËRS 10:11-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak. Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy: “Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here. Ek sal hulle my wette in die hart gee, in hulle verstand sal Ek dit skrywe.” Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.” Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.
HEBREËRS 10:11-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Elke priester staan wel dag vir dag en diens doen, en bring oor en oor dieselfde offers, wat nooit in staat is om sondes weg te neem nie; maar toe Christus vir altyd een offer ter wille van sondes gebring het, het Hy aan die regterhand van God gaan sit. Sedertdien wag Hy totdat sy vyande 'n voetbank vir sy voete gemaak word. Want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak. Ook die Heilige Gees getuig teenoor ons; want nadat Hy gesê het, “Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met hulle sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle harte gee, en dit op hulle verstand neerskryf,” sê Hy ook: “Aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade sal Ek glad nie meer dink nie.” Waar daar vergifnis hiervoor is, word 'n offer vir sondes nie meer gebring nie.
HEBREËRS 10:11-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En elke priester staan daagliks en bedien en bring dikwels dieselfde offers, wat nooit die sondes kan wegneem nie. Maar hierdie man, nadat hy een offer vir die sondes vir ewig gebring het, het gaan sit aan die regterhand van God; Verwag van nou af totdat sy vyande sy voetbank gemaak word. Want deur een offer het Hy die wat geheilig is, vir ewig volmaak. Waarvan ook die Heilige Gees vir ons 'n getuie is, want daarna het Hy tevore gesê: Dit is die verbond wat Ek ná dié dae met hulle sal sluit, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle harte gee en dit in hulle verstand skrywe; En aan hulle sondes en ongeregtighede sal Ek nie meer dink nie. En waar vergifnis hiervan is, is daar geen offer vir sonde meer nie.
HEBREËRS 10:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Onder die ou verbond staan elke priester dag vir dag op diens en bring hy oor en oor dieselfde offers wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. Maar ons Hoofpriester het vir die sondes net een offer vir alle tye gebring en daarna op die ereplek aan die regterhand van God gaan sit. Nou wag Hy daar totdat God sy vyande volledig aan Hom onderwerp het. Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig. Die Heilige Gees bevestig dit vir ons wanneer Hy in die eerste plek verklaar: “Dít is nou die verbond wat Ek hierna met die volk Israel gaan sluit, verklaar die Here: Ek sal my opdragte inskryf in hulle harte en Ek sal dit in hulle verstand graveer.” Dan voeg Hy daarby: “Ek sal aan hulle sondes en hulle oortredings nooit weer dink nie.” Inderdaad, waar sondevergifnis ’n werklikheid is, is geen verdere offer vir die sonde nodig nie.