Hebreërs 10:11-18

Hebreërs 10:11-18 AFR20

Elke priester staan wel dag vir dag en diens doen, en bring oor en oor dieselfde offers, wat nooit in staat is om sondes weg te neem nie; maar toe Christus vir altyd een offer ter wille van sondes gebring het, het Hy aan die regterhand van God gaan sit. Sedertdien wag Hy totdat sy vyande 'n voetbank vir sy voete gemaak word. Want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak. Ook die Heilige Gees getuig teenoor ons; want nadat Hy gesê het, “Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met hulle sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle harte gee, en dit op hulle verstand neerskryf,” sê Hy ook: “Aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade sal Ek glad nie meer dink nie.” Waar daar vergifnis hiervoor is, word 'n offer vir sondes nie meer gebring nie.