Hebreërs 10:11-18

Hebreërs 10:11-18 ABA

En elke priester doen elke dag sy werk en hy bring elke maal dieselfde offers. Daardie offers kan nooit die sondes wegneem nie. Maar nadat Jesus Christus net één offer vir die sondes gebring het, het Hy vir altyd gaan sit op die belangrikste plek langs God, en in die tyd wat oorbly, wag Christus daar totdat God die vyande van Christus voor Hom sal laat buig en Christus sy voete op hulle sal sit. Want omdat Hy één offer gebring het vir almal, het Hy die mense wat aan God gewy is, heeltemal gereinig. Die Heilige Gees sê ook vir ons dat dit waar is: Die verbond wat Ek later met die Israeliete sal maak, sal só wees, sê die Here: Ek sal my wette op hulle harte skryf en Ek sal dit binne-in hulle gee. Nadat die Heilige Gees hierdie dinge gesê het, het Hy ook gesê: Want Ek sal nie meer dink aan hulle sondes en aan die dinge wat hulle verkeerd gedoen het nie. Wanneer God mense se sondes vergewe, dan moet priesters nie meer sonde-offers bring nie, dit is dan nie nodig nie.