GENESIS 31:17-35

GENESIS 31:17-35 Bybel vir almal (ABA)

Jakob het toe gegaan. Hy het sy kinders en sy vroue op kamele laat klim en hy het al sy diere saamgeneem, ook al sy goed wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het. Hy het na Kanaän gegaan, na sy pa Isak toe. Laban het sy skape en bokke gaan skeer, en toe het Ragel die beeldjies van haar pa se afgode gesteel. Jakob het vir Laban bedrieg, want hy het nie vir Laban vertel dat hy wil vlug nie. Jakob het al sy goed geneem en gevlug. Hy het deur die Eufraat-rivier getrek en na die Gilead-berg gegaan. Drie dae later het Laban uitgevind dat Jakob gevlug het. Laban het die mans in sy familie saamgeneem en hulle het vir Jakob gevolg en gejaag. Ná sewe dae het hulle hom by die Gilead-berg gekry. Daardie nag het Laban gedroom dat God na hom toe kom en vir hom sê: “Jy moet pasop wat jy vir Jakob sê, dit maak nie saak of dit goed of sleg is nie.” Toe Laban by Jakob kom, het Jakob klaar sy tent by die Gilead-berg opgeslaan. Laban en sy manne het hulle tente ook daar opgeslaan. Laban sê toe vir Jakob: “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg en jy het my dogters soos gevangenes weggevat. Hoekom het jy soos 'n skelm gevlug en my bedrieg en niks gesê nie? Ek sou jou laat gaan het en ons sou vrolik gewees het. “Ons sou gesing het en musiek gemaak het met tamboeryne en liere. “Jy het weggegaan, en ek kon nie my kleinseuns en my dogters groet nie. Jy het verkeerd gedoen. Ek kan jou straf as ek wil, maar die God van julle pa het gisteraand met my gepraat en gesê: ‘Jy moet pasop wat jy vir Jakob sê, dit maak nie saak of dit goed of sleg is nie.’ Dit is goed as jy weggaan omdat jy so baie verlang na jou pa se familie, maar hoekom het jy my beeldjies gesteel?” Jakob het vir Laban gesê: “Ek het gevlug, want ek was bang en ek het gedink jy sal miskien jou dogters wegvat van my. As jy jou beeldjies hier by iemand kry, dan mag daardie persoon nie lewe nie. Jy mag self soek voor al jou mense wat hier is en jy mag die beeldjies terugvat.” Jakob het nie geweet dat Ragel die beeldjies gesteel het nie. Laban het toe gesoek in Jakob se tent en in Lea se tent en in die twee slavinne se tente, maar hy het niks gekry nie. Hy gaan toe uit Lea se tent na Ragel se tent. Ragel het die beeldjies in 'n sak weggesteek en sy het bo-op die sak gaan sit. Laban het oral in al die tente gesoek, maar hy het niks gekry nie. Ragel het vir haar pa gesê: “Pa moenie kwaad word vir my as ek nie vir Pa opstaan nie. Ek menstrueer.” Laban het verder gesoek, maar hy het niks gekry nie.

GENESIS 31:17-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe maak Jakob hom klaar en laai sy kinders en sy vroue op die kamele, en hy voer al sy vee weg en al sy goed wat hy versamel het, die vee wat syne was, wat hy in Paddan-Aram versamel het, om te gaan na sy vader Isak in die land Kanaän. Onderwyl Laban gaan om sy kleinvee te skeer, het Ragel die huisgode van haar vader gesteel. En Jakob het Laban, die Arameër, mislei deur hom nie te vertel dat hy wou vlug nie. So het hy dan gevlug met alles wat hy gehad het: hy het hom klaargemaak en deur die Eufraat gegaan en sy aangesig gerig na die gebergte van Gílead. En op die derde dag kry Laban die tyding dat Jakob gevlug het. Daarop het hy sy broers saam met hom geneem en hom agternagejaag, 'n afstand van sewe dae, en hom ingehaal in die gebergte van Gílead. Maar God het na Laban, die Arameër, in die nag gekom in 'n droom en vir hom gesê: Pas nou op dat jy met Jakob geen goed of kwaad spreek nie. En Laban het Jakob ingehaal; Jakob het sy tent al opgeslaan gehad in die gebergte, en Laban met sy broers het dit opgeslaan in die gebergte van Gílead. Toe vra Laban vir Jakob: Wat het jy gedoen dat jy my mislei en my dogters soos krygsgevangenes weggevoer het? Waarom het jy stilletjies gevlug en my mislei en my dit nie vertel nie, dat ek jou met vrolikheid en liedere, met tamboeryn en siter kon weggebring het? Ook het jy my nie toegelaat om my seuns en dogters te soen nie. Nou het jy dwaas gehandel. Dit is in my mag om julle skade aan te doen, maar die God van julle vader het verlede nag met my gespreek en gesê: Pas nou op om met Jakob geen goed of kwaad te spreek nie. Nou is jy dan eenmaal aan trek, omdat jy so erg verlang het na die huis van jou vader — maar waarom het jy my gode gesteel? Toe antwoord Jakob en sê vir Laban: Omdat ek bevrees was, want ek het gedink u sal miskien u dogters met geweld van my wegneem. Die een by wie u u gode vind — hy mag nie lewe nie! Ondersoek wat by my is, in teenwoordigheid van ons broers, en neem dit vir u. Maar Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie. Toe gaan Laban in die tent van Jakob en in die tent van Lea en in die tent van die twee slavinne, maar hy het niks gekry nie; en toe hy uit die tent van Lea uitgaan, kom hy in die tent van Ragel. Maar Ragel het die huisgode geneem en dit in die kameelsaal weggepak en daarop gaan sit. En Laban het die hele tent deurgevoel, maar niks gekry nie. Daarop sê sy vir haar vader: My heer moet nie baie kwaai kyk nie, omdat ek nie vir u kan opstaan nie; want dit gaan met my volgens die reël van die vroue. En hy het gesoek maar die huisgode nie gekry nie.

GENESIS 31:17-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jakob het toe klaargemaak en sy vrouens en kinders op kamele laat klim, en hy het al sy vee saamgevat en ook al sy besittings wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het, en na sy pa, na Isak toe vertrek in Kanaän. Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Toe steel Ragel haar pa se afgodsbeeldjies. Jakob het ook vir Laban die Arameër bedrieg deur hom nie te vertel van sy vlug nie. Jakob het gevlug met alles by hom. Hy het deur die Eufraatrivier getrek en koers gekies Gileadberg toe. Drie dae later is aan Laban vertel dat Jakob gevlug het. Laban het die mans in sy familie saamgevat en vir Jakob agternagesit. Na sewe dae het Laban hom ingehaal by Gileadberg. Dié nag het God in 'n droom na Laban die Arameër toe gekom en vir hom gesê: “Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê!” Toe Laban by Jakob kom, was sy kamp opgeslaan by Gileadberg, en Laban-hulle het ook daar kamp opgeslaan. Hy het vir Jakob gesê: “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg en my dogters weggevat asof hulle krygsgevangenes is. Waarom het jy in die geheim gevlug? Jy het my bedrieg en my niks vertel nie. Ek sou jou laat vertrek het met 'n fees en met liedere, met tamboeryne en met liere. Jy het my nie eens toegelaat om my kleinkinders en my dogters te groet nie. Jy het 'n ongehoorde ding gedoen. Ek het die mag om julle kwaad aan te doen, maar die God van jou voorvaders het verlede nag vir my gesê: ‘Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê.’ Maar nou, as jy weggetrek het net omdat jy so baie verlang na jou familie, waarom het jy dan my gode gesteel?” Toe sê Jakob vir Laban: “Ek het gevlug, want ek was bang, ek het gedink u sal u dogters van my af wegvat. Maar die een by wie u u gode kry, moet sterf. Kyk hier waar ons familie bystaan wat daar van u by my is en vat dit saam terug.” Jakob het nie geweet dat Ragel die gode gesteel het nie. Laban het niks in Jakob se tent gekry nie, ook nie in dié van Lea en in dié van die twee persoonlike slavinne nie. Laban is toe uit Lea se tent uit na Ragel s'n toe. Ragel het die afgodsbeeldjies gevat en onder die kameelsaal gesit en daarop gaan sit. Laban het haar hele tent behoorlik gefynkam maar niks gekry nie. Toe sê Ragel vir hom: “Pa moet tog nie vir my kwaad word nie, want ek kan nie vir Pa opstaan nie: ek is siek, soos dit maar elke maand met 'n vrou gaan.” Laban het toe verder rondgesoek, maar nie die afgodsbeeldjies gekry nie.

GENESIS 31:17-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jakob het toe gereedgemaak, sy kinders en sy vroue op kamele getel en al sy vee aangejaag – al sy besittings wat hy bekom het, sy eie veestapel wat hy bekom het in Paddan-Aram – om na Isak, sy vader, na die land Kanaän te gaan. Toe Laban gegaan het om sy kleinvee te skeer, het Ragel die huisgode gesteel wat aan haar vader behoort. Jakob het Laban, die Arameër, se vertroue geskend deurdat hy hom nie ingelig het dat hy gaan vlug nie. Hy het gevlug met alles wat aan hom behoort. Hy het gereedgemaak, die Rivier oorgesteek en koers ingeslaan in die rigting van die bergland van Gilead. Op die derde dag is daar aan Laban berig gebring dat Jakob gevlug het. Hy het toe sy familielede saam met hom geneem en Jakob agternagesit, sewe dagreise lank. Toe was hy op sy hakke in die bergland van Gilead. God het egter in 'n droom in die nag na Laban, die Arameër, gekom en vir hom gesê: “Pasop dat jy nie in enige woordewisseling met Jakob betrokke raak nie. ” Laban het Jakob ingehaal. Jakob het sy kamp opgeslaan in die bergland, en Laban met sy familielede het hulle kamp opgeslaan in die bergland van Gilead. Laban sê toe vir Jakob: “Wat het jy gedoen? Jy het my vertroue geskend en my dogters soos krygsgevangenes weggevoer. Waarom het jy in die geheim gevlug en my vertroue geskend? Jy het my nie ingelig nie. Ek sou jou weggesien het met vreugde en liedere, met tamboeryne en liere. Maar jy het my nie die geleentheid gegee om my kleinseuns en my dogters te soen nie. Jy het nou 'n dwase ding gedoen. Dit is binne my mag om julle kwaad aan te doen; maar die God van julle vader het verlede nag vir my gesê, ‘Pasop dat jy nie in enige woordewisseling met Jakob betrokke raak nie.’ Maar nou is jy vasbeslote op pad omdat jy so erg verlang na jou ouerhuis. Waarom het jy dan my gode gesteel?” Jakob het hom verweer en vir Laban gesê: “Ek het weggegaan omdat ek bang was! Want ek het gedink anders sal jy jou dogters met geweld van my afneem. By wie ook al jy jou gode vind – hy mag nie bly leef nie. Voor ons familielede sê ek, ‘Wys uit wat van jou by my is, en neem dit vir jou!’ ” Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie. Laban het in Jakob se tent ingegaan, ook in Lea se tent en dié van die twee slavinne, maar niks gekry nie. Toe hy uit Lea se tent kom, het hy in Ragel se tent ingegaan. Ragel het egter die huisgode geneem, dit in die saalsak van 'n kameel gesteek en daarop gaan sit. Laban het alles in die tent deursoek, maar niks gekry nie. Ragel sê toe vir haar vader: “Moet my nie kwaad aankyk nie, my heer, omdat ek nie vir u kan opstaan nie, want dit is met my soos dit soms met vroue is.” Hy het deeglik gesoek, maar kon nie die huisgode kry nie.

GENESIS 31:17-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het Jakob opgestaan en sy seuns en sy vroue op kamele laat sit; En hy het al sy vee en al sy besittings wat hy gekry het, die vee van sy verkryging wat hy in Paddan-Aram gekry het, weggevoer om na sy vader Isak te gaan in die land Kanaän. Laban het gegaan om sy skape te skeer, en Ragel het die beelde gesteel wat haar vader s'n was. Jakob het onverhoeds vir Laban, die Arameër, weggesteek, deurdat hy hom nie vertel het dat hy vlug nie. En hy het gevlug met alles wat hy het; en hy het opgestaan en oor die rivier gegaan en sy aangesig na die gebergte Gílead gerig. En op die derde dag is aan Laban meegedeel dat Jakob gevlug het. En hy het sy broers saam met hom geneem en hom sewe dagreise agtervolg; en hulle het hom ingehaal op die gebergte van Gílead. En God het in die nag na Laban, die Arameër, in 'n droom gekom en vir hom gesê: Pas op dat jy nie goed of sleg met Jakob spreek nie. Toe het Laban Jakob ingehaal. En Jakob het sy tent op die berg opgeslaan, en Laban met sy broers het op die berg Gílead opgeslaan. Toe sê Laban vir Jakob: Wat het jy gedoen dat jy vir my onverhoeds gesteel en my dogters weggevoer het as gevangenes wat deur die swaard weggevoer is? Waarom het jy in die geheim weggevlug en van my gesteel; en het my nie gesê dat ek jou kon weggestuur het met vrolikheid en met liedere, met tameletjie en met siter nie? En het jy my nie toegelaat om my seuns en my dogters te soen nie? jy het nou iets dwaas gedoen. Dit is in die mag van my hand om jou kwaad aan te doen; maar die God van jou vader het gisteraand met my gespreek en gesê: Pas op dat jy nie goed of sleg met Jakob spreek nie. En nou, al sou jy weg wou wees, omdat jy baie na jou vader se huis verlang het, waarom het jy tog my gode gesteel? Toe antwoord Jakob en sê vir Laban: Omdat ek bang was, want ek het gesê: Miskien sal jy jou dogters met geweld van my wegneem. By wie jy ook al jou gode vind, laat hom nie lewe nie. Want Jakob het nie geweet dat Ragel hulle gesteel het nie. En Laban het in die tent van Jakob gegaan en in die tent van Lea en in die tente van die twee slavinne; maar hy het hulle nie gevind nie. Toe het hy uit Lea se tent uitgegaan en in Ragel se tent ingegaan. En Ragel het die beelde geneem en dit in die kameel se meubels gesit en daarop gaan sit. En Laban het die hele tent deursoek, maar dit nie gevind nie. Toe sê sy vir haar vader: Laat my heer nie kwaad wees dat ek nie voor U kan opstaan nie; want die gewoonte van vroue is op my. En hy het gesoek, maar die beelde nie gevind nie.

GENESIS 31:17-35 Die Boodskap (DB)

Jakob het al sy vee bymekaargemaak en die troppe begin aanjaag. Sy vroue en kinders het hy op kamele gesit en hulle saam met die vee gestuur. Alles wat Jakob oor die jare in Paddan-Aram versamel het, het hy weggestuur. En so was Jakob weer op pad, die keer na Kanaän, waar sy pa, Isak, gewoon het. Hulle het ongemerk weggekom, want Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Voor hulle weg is, het Ragel egter stilletjies haar pa se huisgode gaan steel. Jakob het Laban, die Arameër, so om die bos gelei dat hy niks vermoed het nie. Jakob kon dus maklik met al sy besittings wegkom. Hulle was gou oor die Eufraatrivier en het in die rigting van Gilead se berge getrek. Laban het eers drie dae later van Jakob-hulle se vlug gehoor. Hy was woedend. Hy het toe ’n klomp van sy familie bymekaargekry en Jakob se spoor gevat. Sewe dae lank het hulle Jakob in die berge van Gilead agtervolg. Hulle was naderhand kort op die hakke van Jakob en sy mense. Hulle moes net inbeweeg. God het egter ingegryp en in ’n droom vir Laban, die Arameër, gesê: “Jy moet nou nie dinge te ver dryf nie. Dink mooi wat jy vir Jakob gaan sê.” Laban het Jakob ingehaal. Jakob het sy tent in die bergwêreld opgeslaan en amper by hom het Laban-hulle se kamp gestaan. Laban het na Jakob toe oorgestap en vir hom gesê: “Wat het jy aangevang? Jy het my bedrieg en my dogters weggeneem asof hulle krygsgevangenes is. Hoekom het jy alles so in die geheim gedoen? Hoekom het jy my om die bos gelei? Hoekom het jy my niks gesê nie? As ek vooraf geweet het, kon ek julle ten minste met feesmusiek, met tamboeryne en liere, laat weggaan het. Waarom het jy my nie toegelaat om my kleinkinders te groet nie? En my eie dogters totsiens te soen nie? Nee, werklik, Jakob, jy het dom opgetree. Kyk, ek kan julle natuurlik almal vernietig, maar die God van jou pa het my gekeer. ‘Jy moet nou nie dinge te ver dryf nie,’ het Hy gesê. ‘Dink nou mooi wat jy vir Jakob gaan sê.’ Goed, gaan dan maar. Jy verlang mos nou huis toe, so, gaan maar.” Laban het hom egter nog ’n laaste vraag gevra: “Vir wat het jy my huisgodjies gesteel?” Jakob het Laban geantwoord: “Waarvan praat jy? Kyk, ek was bang dat jy jou dogters met mag van my sou wegvat; daarom het ek gevlug. Maar van jou huisgodjies weet ek werklik niks nie. Deursoek ons goed voor almal hier en as jy dit by iemand kry, sal die persoon doodgemaak word. As jy ook enigiets anders kry wat joune is, kan jy dit terugvat.” Jakob het egter nie geweet dat Ragel die huisgodjies geneem het nie. Laban het by Jakob se tent begin en daarna in Lea se tent gaan soek. Hy het ook die tente van Bilha en Silpa deursoek, maar niks gekry nie. Daarna het hy na Ragel se tent toe gestap. Sy het intussen die huisgodjies in die kameel se saalsak weggesteek en daar bo-op gaan sit. Laban het die hele tent gefynkam, maar niks gekry nie. Ragel het vir Laban gesê: “Pa moet tog nie vir my kwaad wees omdat ek bly sit nie. Dit is weer daardie tyd van die maand en ek kan nie opstaan nie.” Laban het verder gesoek, maar niks gekry nie.

GENESIS 31:17-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jakob het toe sy vroue en kinders op kamele gelaai. Hy het al die lewende hawe en ander besittings wat hy in Paddan-Aram bekom het, bymekaargemaak om na sy pa in die land Kanaän terug te gaan. Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Ragel steel toe haar pa se afgodsbeeldjies en neem dit saam met haar. Hulle het in die geheim vertrek en nie vir Laban gesê dat hulle sou gaan nie. Jakob het al sy besittings saam met hom geneem en die Eufraatrivier oorgesteek op pad na die heuwels van Gilead. Laban het eers drie dae later gehoor dat Jakob gevlug het. Hy het ’n klomp manne van sy familie bymekaargeroep en Jakob agternagesit. Sewe dae later het hy Jakob-hulle tussen die heuwels van Gilead ingehaal. Gedurende die nag het God egter in ’n droom aan Laban die Arameër verskyn en vir hom gesê: “Pas op wat jy vir Jakob sê!” Laban het Jakob ingehaal waar hy tussen die heuwels van Gilead kamp opgeslaan het. Nie te ver daarvan af nie het Laban ook kamp opgeslaan. “Wat het jy aangevang?” vra Laban. “Jy het my bedrieg en my dogters soos oorlogsbuit weggevoer. Hoekom het jy in die geheim gevlug? Ek sou ’n afskeidsfees gereël het met vreugdevolle tamboeryne en liere. Hoekom het jy nie toegelaat dat ek my dogters en kleinkinders groet nie? Jy het baie dwaas opgetree! Ek kon jou doodgemaak het, maar die God van jou voorouers het aan my verskyn en vir my gesê: ‘Pas op wat jy vir Jakob sê!’ Ek kan nog verstaan as jy gegaan het omdat jy baie na jou ouerhuis verlang. Maar hoekom het jy dan my huisgode gesteel?” “Ek is haastig daar weg omdat ek bang was,” antwoord Jakob. “Ek het vir myself gesê: ‘Hy sal my doodmaak en sy dogters met geweld van my wegneem.’ Maar wat die huisgode betref, dié persoon by wie u dit kry, moet sterf! Ek sê voor ons familie: As julle enigiets kry wat aan Pa behoort, sal ek dit sonder teëpraat teruggee.” Maar Jakob het nie geweet dat Ragel die huisgode gevat het nie. Laban het eers na Jakob se tent toe gegaan om daar te soek. Toe is hy na Lea s’n, en daarna het hy die tente van die twee slavinvroue deursoek, maar niks gekry nie. Toe gaan hy na Ragel se tent. Sy het intussen die beeldjies onder die kameelsaal weggesteek en daarop gaan sit. Laban het ook haar tent deeglik deursoek, maar niks gekry nie. “Verskoon my dat ek nie opstaan nie, Pa,” verduidelik sy. “Ek is siek van my maandstonde.” Laban het verder gesoek, maar kon nie die beeldjies kry nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid