Genesis 31:17-35

Genesis 31:17-35 AFR20

Jakob het toe gereedgemaak, sy kinders en sy vroue op kamele getel en al sy vee aangejaag – al sy besittings wat hy bekom het, sy eie veestapel wat hy bekom het in Paddan-Aram – om na Isak, sy vader, na die land Kanaän te gaan. Toe Laban gegaan het om sy kleinvee te skeer, het Ragel die huisgode gesteel wat aan haar vader behoort. Jakob het Laban, die Arameër, se vertroue geskend deurdat hy hom nie ingelig het dat hy gaan vlug nie. Hy het gevlug met alles wat aan hom behoort. Hy het gereedgemaak, die Rivier oorgesteek en koers ingeslaan in die rigting van die bergland van Gilead. Op die derde dag is daar aan Laban berig gebring dat Jakob gevlug het. Hy het toe sy familielede saam met hom geneem en Jakob agternagesit, sewe dagreise lank. Toe was hy op sy hakke in die bergland van Gilead. God het egter in 'n droom in die nag na Laban, die Arameër, gekom en vir hom gesê: “Pasop dat jy nie in enige woordewisseling met Jakob betrokke raak nie. ” Laban het Jakob ingehaal. Jakob het sy kamp opgeslaan in die bergland, en Laban met sy familielede het hulle kamp opgeslaan in die bergland van Gilead. Laban sê toe vir Jakob: “Wat het jy gedoen? Jy het my vertroue geskend en my dogters soos krygsgevangenes weggevoer. Waarom het jy in die geheim gevlug en my vertroue geskend? Jy het my nie ingelig nie. Ek sou jou weggesien het met vreugde en liedere, met tamboeryne en liere. Maar jy het my nie die geleentheid gegee om my kleinseuns en my dogters te soen nie. Jy het nou 'n dwase ding gedoen. Dit is binne my mag om julle kwaad aan te doen; maar die God van julle vader het verlede nag vir my gesê, ‘Pasop dat jy nie in enige woordewisseling met Jakob betrokke raak nie.’ Maar nou is jy vasbeslote op pad omdat jy so erg verlang na jou ouerhuis. Waarom het jy dan my gode gesteel?” Jakob het hom verweer en vir Laban gesê: “Ek het weggegaan omdat ek bang was! Want ek het gedink anders sal jy jou dogters met geweld van my afneem. By wie ook al jy jou gode vind – hy mag nie bly leef nie. Voor ons familielede sê ek, ‘Wys uit wat van jou by my is, en neem dit vir jou!’ ” Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie. Laban het in Jakob se tent ingegaan, ook in Lea se tent en dié van die twee slavinne, maar niks gekry nie. Toe hy uit Lea se tent kom, het hy in Ragel se tent ingegaan. Ragel het egter die huisgode geneem, dit in die saalsak van 'n kameel gesteek en daarop gaan sit. Laban het alles in die tent deursoek, maar niks gekry nie. Ragel sê toe vir haar vader: “Moet my nie kwaad aankyk nie, my heer, omdat ek nie vir u kan opstaan nie, want dit is met my soos dit soms met vroue is.” Hy het deeglik gesoek, maar kon nie die huisgode kry nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid