GENESIS 31:17-35

GENESIS 31:17-35 NLV

Jakob het toe sy vroue en kinders op kamele gelaai. Hy het al die lewende hawe en ander besittings wat hy in Paddan-Aram bekom het, bymekaargemaak om na sy pa in die land Kanaän terug te gaan. Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Ragel steel toe haar pa se afgodsbeeldjies en neem dit saam met haar. Hulle het in die geheim vertrek en nie vir Laban gesê dat hulle sou gaan nie. Jakob het al sy besittings saam met hom geneem en die Eufraatrivier oorgesteek op pad na die heuwels van Gilead. Laban het eers drie dae later gehoor dat Jakob gevlug het. Hy het ’n klomp manne van sy familie bymekaargeroep en Jakob agternagesit. Sewe dae later het hy Jakob-hulle tussen die heuwels van Gilead ingehaal. Gedurende die nag het God egter in ’n droom aan Laban die Arameër verskyn en vir hom gesê: “Pas op wat jy vir Jakob sê!” Laban het Jakob ingehaal waar hy tussen die heuwels van Gilead kamp opgeslaan het. Nie te ver daarvan af nie het Laban ook kamp opgeslaan. “Wat het jy aangevang?” vra Laban. “Jy het my bedrieg en my dogters soos oorlogsbuit weggevoer. Hoekom het jy in die geheim gevlug? Ek sou ’n afskeidsfees gereël het met vreugdevolle tamboeryne en liere. Hoekom het jy nie toegelaat dat ek my dogters en kleinkinders groet nie? Jy het baie dwaas opgetree! Ek kon jou doodgemaak het, maar die God van jou voorouers het aan my verskyn en vir my gesê: ‘Pas op wat jy vir Jakob sê!’ Ek kan nog verstaan as jy gegaan het omdat jy baie na jou ouerhuis verlang. Maar hoekom het jy dan my huisgode gesteel?” “Ek is haastig daar weg omdat ek bang was,” antwoord Jakob. “Ek het vir myself gesê: ‘Hy sal my doodmaak en sy dogters met geweld van my wegneem.’ Maar wat die huisgode betref, dié persoon by wie u dit kry, moet sterf! Ek sê voor ons familie: As julle enigiets kry wat aan Pa behoort, sal ek dit sonder teëpraat teruggee.” Maar Jakob het nie geweet dat Ragel die huisgode gevat het nie. Laban het eers na Jakob se tent toe gegaan om daar te soek. Toe is hy na Lea s’n, en daarna het hy die tente van die twee slavinvroue deursoek, maar niks gekry nie. Toe gaan hy na Ragel se tent. Sy het intussen die beeldjies onder die kameelsaal weggesteek en daarop gaan sit. Laban het ook haar tent deeglik deursoek, maar niks gekry nie. “Verskoon my dat ek nie opstaan nie, Pa,” verduidelik sy. “Ek is siek van my maandstonde.” Laban het verder gesoek, maar kon nie die beeldjies kry nie.

Video for GENESIS 31:17-35