ESEGIËL 36:16-38

ESEGIËL 36:16-38 Die Boodskap (DB)

Toe het die Here verder vir my gesê: “Mens, toe die volk Israel in hulle land gebly het, het hulle die land onbewoonbaar gemaak met al die slegte dinge wat hulle gedoen het. Hulle slegte dade was soos ’n vuil lap in my hand. Ek kon niks daarmee doen nie. Hulle het die land vuil gemaak deur onskuldige mense dood te maak en voor afgode neer te buig. Daarom het Ek my woede oor hulle uitgestort. Ek het hulle onder baie nasies verstrooi. Omdat hulle slegte dade bly doen het, het die nasies hulle as gevangenes weggeneem om in ver lande te gaan bly. En weet jy wat doen hulle toe in die vreemde lande waarheen Ek hulle weggejaag het? Hulle het doodgewoon net aangehou met hulle slegte dade. Die nasies het gesê: ‘Die Here, die God van Israel, kon nie sy volk beskerm nie. Hulle was sy volk, maar Hy was nie in staat om hulle teen die Babiloniërs te beskerm nie.’ Toe Ek dit hoor, het Ek besef dat die ander nasies My nie erken vir wie Ek is nie. Ek moes iets daaraan doen.” Daarom, sê vir Israel die Here, Esegiël se God, belowe: “Ek bring julle terug na julle eie land toe. Maar dit is nie omdat julle dit verdien nie. Ek doen dit sodat die nasies My sal raaksien vir wie Ek is. Julle het niks gedoen om vir die nasies tussen wie julle as gevangenes gebly het, te wys wie Ek is nie. Ek sal vir julle wys wie Ek regtig is. Julle sal die Een sien wat julle nie wou aanbid terwyl julle gevangenes in die vreemde land was nie. Wanneer Ek Myself vir julle wys soos Ek is, sal die ander nasies erken dat Ek die Here is. Want hulle sal My ook sien.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Ek sal julle wys wie Ek is daardie dag as Ek julle bymekaarmaak waar julle tussen die nasies as gevangenes bly. Ek sal julle na julle eie land toe bring. Daardie dag sal Ek julle skoonmaak. Dan sal julle regtig skoon wees, vir die eerste keer. Ek sal al die slegte dade van julle afwas, en julle sal nie meer voor die afgode buig en offers aan hulle bring nie. Want Ek sal julle harte nuut maak. Dan sal julle heeltemal anders dink. Ek maak julle van voor af nuut. Ek haal julle ou harte uit wat kliphard geword het van al die slegte dinge wat julle doen. En Ek maak julle heeltemal gehoorsaam aan My. Ek sal daardie dag my Gees in julle laat bly. Hy sal julle leer om gehoorsaam te wees aan wat Ek julle beveel. Dan sal julle doen wat Ek sê. “Dan sal julle weer in die land Israel leef. Dit is die land wat Ek lank terug vir Abraham en Isak en Jakob gegee het. Julle sal my volk wees. En Ek sal julle God wees. Ek sal julle silwerskoon maak sodat julle nie meer slegte dinge sal doen nie. Ek sal aan julle goeie oeste op julle lande gee. Niemand sal meer honger wees in julle land nie. As julle vrugtebome plant, sal hulle elke jaar meer vrugte dra as wat julle kan eet. En julle sal rekordoeste hê van koring en mielies. Die nasies rondom julle sal nooit weer met julle kan spot omdat julle swaarkry en honger is nie. Daardie dag sal julle onthou watter slegte dinge julle aangevang het. En dan sal julle bloedrooi van skaamte word. Julle sal julleself haat oor al julle sondes. “Maar onthou,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek doen nie hierdie goeie dinge vir julle omdat julle dit verdien nie. Nee, my volk Israel. Die teenoorgestelde is waar. Julle behoort julle morsdood te skaam oor al die lelike goed wat julle aangevang het!” So sê die Here, die God van Esegiël: “Wanneer Ek julle skoonmaak van al die slegte dinge wat julle gedoen het, sal Ek weer mense in julle stede laat bly. Die bouvalle waar julle stede eers was, sal weer opgebou word. Die veld wat nou verlate lê, sal weer deur die boere in landerye omskep word. Die mense wat nou by julle plase verbyloop, is geskok oor hoe verlate alles is. Maar wanneer Ek julle terugbring, sal die mense sê: ‘Kan jy dit glo? Hierdie godverlate land het nou die Here se tuin geword!’ Die stede wat bouvalle is, sal dan weer veilig wees vir al die mense wat daarin woon. Dan sal al die nasies wat nog om julle bly, weet en erken dat Ek, die Here, die bouvalle weer opgebou het. Hulle sal weet dat dit Ek is wat landerye in die woestyn gemaak het. Want Ek, die Here, het belowe dat Ek dit sal doen. En Ek gaan dit doen!” So sê die Here, Esegiël se God: “Ek staan reg om na Israel se gebede te luister as hulle My vra dat Ek al hierdie dinge vir hulle doen. Ja, Ek wil graag doen wat hulle vir My vra. Ek sal die mense in hierdie land so baie laat word soos die skape en beeste in Jerusalem as daar ’n groot fees aan die gang is. Die stede wat nou net bouvalle is, sal vol mense wees soos voorheen. En almal sal erken dat Ek die Here is.”

ESEGIËL 36:16-38 Bybel vir almal (ABA)

Ek het gehoor die Here sê vir my: “Mens, die volk Israel het voorheen in hulle land gewoon. Hulle het toe verkeerd gelewe en die land het onrein geword. Ek het gesien die dinge wat hulle doen, is so onrein soos 'n vrou wat menstrueer. Ek het kwaad geword en Ek het hulle gestraf omdat hulle mense vermoor het in die land en omdat hulle die land onrein gemaak het met afgode. Ek het hulle na al die kante toe gejaag tussen die volke in en Ek het hulle oral in ander lande laat woon. Ek het hulle gestraf oor die dinge wat hulle gedoen het. Toe hulle daar by die ander volke kom, het hulle so gelewe dat die mense sleg gepraat het oor My. Die mense het gesê: ‘Dit is die Here se volk, maar hulle moes weggaan uit sy land.’ Die volk Israel het my Naam ontwy tussen die volke waar hulle gekom het, en Ek was hartseer daaroor. Daarom moet jy vir die volk Israel sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Israel, Ek sal iets doen, maar Ek sal dit nie doen om júlle te help nie, Ek sal dit doen vir mý heilige Naam. Julle het my Naam ontwy tussen die volke waar julle gekom het. Ek sal my groot Naam weer heilig laat wees, my Naam wat julle ontwy het tussen die volke. Die volke sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek iets doen met julle en wanneer Ek vir hulle wys dat Ek die heilige God is.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. “Ek sal julle wegneem tussen die volke, Ek sal julle uit al die lande bymekaarmaak en Ek sal julle na julle eie land bring. Ek sal water op julle spat, die water sal julle rein maak. Ek sal alles wegneem wat julle onrein maak en ook al julle afgode. Ek sal vir julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee. Ek sal die harde klip-hart uithaal uit julle liggame en Ek sal vir julle 'n sagte hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal julle laat lewe soos Ek wil hê, Ek sal julle laat doen wat Ek sê. Julle sal woon in die land wat Ek vir julle voorvaders gegee het. Julle sal my volk wees, en Ek sal julle God wees. Ek sal julle red van alles wat julle onrein gemaak het. Ek sal praat met die koring en Ek sal die koring baie laat word. Julle sal nie weer honger wees nie. Ek sal vir die bome sê om baie vrugte te dra, en daar sal baie koring op die lande wees. Dan sal julle nie weer honger wees en julle sal nie weer hoor hoe die ander volke julle spot nie. Julle sal onthou hoe sleg julle gelewe het en julle sal onthou wat julle verkeerd gedoen het. Julle sal naar word oor julle sondes en oor die dinge wat julle gedoen het, dinge wat Ek haat. Dit is nie vir júlle wat Ek dit sal doen nie, dit moet julle weet. Israel, julle moet skaam wees en jammer voel oor wat julle gedoen het.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal julle reinig en Ek sal julle sonde vergewe. Daardie dag sal Ek weer mense in die stede laat woon. Hulle sal die stede weer bou, die stede wat nou net hope klippe is. Hulle sal weer werk in die land waar nou nie mense kan woon nie. Mense wat verbykom, sal nie weer sien dat die land leeg is nie. Hulle sal sê: ‘Niemand kon voorheen in hierdie land woon nie, maar dit het nou geword soos die tuin van Eden. Mense het die stede se sterk mure weer gebou en hulle het daar gaan woon, in die stede wat verwoes was en waar niemand kon woon nie.’ Die volke wat oorgebly het rondom julle, sal weet dat Ek die Here is wat die stede weer bou wat verwoes was en wat bome plant in die grond waar niemand kon woon nie. Ek, die Here, het dit gesê en Ek sal dit doen.” Die Here, Hy wat Here is, sê: “Wanneer die volk Israel bid en dit vir My vra, dan sal Ek hulle baie laat word, so baie soos die mense se skape en bokke. Hulle sal word soos die skape en bokke van die mense wat aan My behoort, soos die skape en bokke in Jerusalem wanneer dit feestyd is. Die stede wat nou net hope klippe is, sal vol skape en bokke wees. Die mense sal weet dat Ek die Here is.”

ESEGIËL 36:16-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, toe die huis van Israel in hulle land gewoon het, het hulle dit verontreinig met hul wandel en met hul handelinge; hulle wandel was voor my aangesig soos die besoedeling van die maandelikse onreinheid. Daarom het Ek my grimmigheid oor hulle uitgegiet, vanweë die bloed wat hulle in die land vergiet het, terwyl hulle dit met hul drekgode verontreinig het. En Ek het hulle verstrooi onder die nasies en hulle is versprei in die lande; Ek het hulle geoordeel volgens hul wandel en hul handelinge. En toe hulle by die nasies kom waarheen hulle getrek het, het hulle my heilige Naam ontheilig deurdat van hulle gesê is: Hierdie mense is die volk van die HERE, en hulle moes uit sy land uittrek. Toe het dit My ter harte gegaan om my heilige Naam ontwil wat die huis van Israel ontheilig het onder die nasies waar hulle gekom het. Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het. En Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, spreek die Here HERE, as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken. En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My 'n volk en Ek sal vir julle 'n God wees. En Ek sal julle verlos van al jul onreinhede; en Ek sal roep na die koring en dit vermenigvuldig, en Ek sal geen hongersnood op julle lê nie. En Ek sal die vrugte van die bome en die opbrings van die veld vermenigvuldig, sodat julle die smaad van hongersnood nie meer hoef te verdra onder die nasies nie. Dan sal julle dink aan jul verkeerde weë en aan jul handelinge wat nie goed was nie; en julle sal vir julleself walglik wees oor jul ongeregtighede en oor jul gruwels. Ek doen dit nie om julle ontwil nie, spreek die Here HERE; laat dit julle bekend wees! Skaam julle en bloos oor jul weë, o huis van Israel. So sê die Here HERE: In die dag as Ek julle reinig van al jul ongeregtighede, sal Ek die stede laat bewoon, en die puinhope sal opgebou word. En die verwoeste land sal bewerk word, in plaas dat dit 'n wildernis is voor die oë van almal wat verbygaan. En hulle sal sê: Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van Eden; en die stede wat in puin gelê het en verwoes en afgebreek was, is versterk en bewoon. Dan sal die nasies weet wat rondom julle oorgebly het, dat Ek, die HERE, opgebou het wat afgebreek was, beplant het wat verwoes was; Ek, die HERE, het dit gespreek en sal dit doen. So sê die Here HERE: Ook dit sal Ek My laat vra deur die huis van Israel om dit vir hulle te doen: Ek sal hulle mense vermenigvuldig soos skape. Soos die geheiligde skape, soos die skape van Jerusalem op sy feestye, so sal die stede wat in puin lê, vol wees van kuddes van mense; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.

ESEGIËL 36:16-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, toe Israel nog in hulle land gewoon het, het hulle die land verontreinig met hulle optrede en hulle gedrag. Hulle optrede was in my oë net so onrein as 'n vrou wat menstrueer. Ek het my toorn oor hulle laat losbreek oor die bloed wat hulle vergiet het en oor die afgode waarmee hulle die land verontreinig het. Ek het hulle verstrooi onder die ander nasies en hulle na ander lande toe uitmekaargejaag. Ek het hulle gestraf oor hulle optrede en hulle gedrag. En toe hulle daar by die ander nasies kom, het hulle my heilige Naam oneer aangedoen toe die mense van hulle sê: ‘Maar dit is mos die volk van die Here hierdie, hulle kom uit sy land.’ Ek is begaan oor my heilige Naam wat oneer aangedoen word deur Israel onder die nasies waar hulle gekom het. Daarom, sê vir Israel: So sê die Here my God: Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie, Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat deur julle oneer aangedoen is onder die nasies waar julle gekom het. Ek sal die heiligheid van my groot Naam laat blyk wat onder die nasies in oneer gekom het. Julle het my Naam oneer aangedoen onder die nasies. Wanneer Ek my heiligheid laat blyk in wat Ek met julle doen voor die oë van die nasies, sal hulle besef dat Ek die Here is,” sê die Here my God. “Ek sal julle tussen die nasies uit wegvat, julle uit al die lande bymekaarmaak en julle na julle land toe bring. Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom. Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees. Ek sal julle bevry van alles waarmee julle julle verontreinig het, Ek sal die graan aanspreek en sorg dat dit baie is; Ek sal nie weer hongersnood oor julle bring nie. Ek sal sorg dat daar baie vrugte aan die bome is en groot oeste op die lande sodat julle nie weer die vernedering onder die nasies beleef dat julle hongersnood het nie. Dan sal julle terugdink aan julle bose optrede en julle gedrag wat nie goed was nie, en julle sal 'n afsku hê van julleself oor julle sonde en julle afskuwelike dade. Julle moet weet, sê die Here my God, dat Ek dié dinge nie ter wille van julle doen nie. Al wat julle pas, Israel, is skaamte en skande oor julle optrede.” So sê die Here my God: “Die dag as Ek julle van julle sonde reinig, sal Ek sorg dat julle stede weer bewoon word en sal julle puinhope herbou word. Die kaalgestroopte land sal bewerk word in plaas daarvan dat dit kaal lê voor die oë van almal wat daar verbygaan. Hulle sal sê: ‘Dié land was verlate en nou is hy soos die tuin van Eden; die stede het in puin gelê, hulle was verlate en verwoes, en nou is hulle vestingstede met inwoners.’ Die nasies wat nog rondom julle oor is, sal besef dat dit Ek, die Here, is wat die verwoeste stede herbou het en die kaalgestroopte land weer beplant het. Ek, die Here, sê dit en Ek sal dit doen.” So sê die Here my God: “Ek sal ook nog dít vir Israel doen in antwoord op hulle gebede: Ek sal hulle soos kleinvee laat vermeerder. Die stede wat nou in puin lê, sal net so vol mense wees as wat Jerusalem vol kleinvee is in die feestye, kleinvee vir die offers. Dan sal Israel besef dat Ek die Here is.”

ESEGIËL 36:16-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die woord van die HERE het tot my gekom: “ Mensekind, terwyl die huis van Israel op hulle grond gewoon het, het hulle dit verontreinig met hulle optrede en hulle dade. Soos onreinheid tydens menstruasie, was hulle optrede voor My. Ek het my woede oor hulle uitgestort oor die bloed wat hulle in die land gestort het en oor die afgodsbeelde waarmee hulle dit besoedel het. Ek het hulle onder die nasies versprei, hulle in die lande verstrooi. In ooreenstemming met hulle optrede en hulle dade het Ek hulle geoordeel. Toe hulle aankom by die nasies waarheen hulle gegaan het, het hulle my heilige Naam ontheilig, deurdat daar van hulle gesê is, ‘Dit is die HERE se volk hierdie, maar uit sy land moes hulle padgee.’ Ek was begaan oor my heilige Naam, wat die huis van Israel so ontheilig het onder die nasies waarheen hulle gegaan het. “Daarom, sê vir die huis van Israel, ‘So sê my Heer, die HERE: “Nie ter wille van julle doen Ek dit nie, huis van Israel, maar slegs ter wille van my heilige Naam, wat julle ontheilig het onder die nasies waarheen julle gegaan het. Ek sal my groot Naam heilig, wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het. Die nasies sal besef dat Ek die HERE is,” is die uitspraak van my Heer, die HERE, “wanneer Ek Myself deur julle as die Heilige betoon voor hulle oë. Ek sal julle uit die nasies neem, en julle bymekaarmaak uit al die lande. Ek sal julle na julle grond bring. Ek sal rein water oor julle sprinkel, en julle sal rein wees. Van al julle onreinhede en van al julle afgodsbeelde sal Ek julle reinig. Ek sal vir julle 'n nuwe hart gee, 'n nuwe gees sal Ek in julle binneste gee; Ek sal die hart van klip uit julle liggame verwyder en vir julle 'n hart van vlees gee. My Gees sal Ek in julle binneste gee. Ek sal daarvoor sorg dat julle my vaste voorskrifte volg en dat julle my bepalings nakom en uitvoer. Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorouers gegee het. Julle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir julle 'n God wees. Ek sal julle verlos van al julle onreinheid. Ek sal na die koring roep en dit oorvloedig maak; Ek sal nie weer hongersnood oor julle bring nie. Ek sal die vrugte van die bome en die opbrengs van die landerye oorvloedig maak, sodat julle nie meer die bespotting oor hongersnood deur die nasies hoef te verduur nie. Julle sal terugdink aan julle bose optrede, aan julle dade wat nie goed was nie. Dan sal julle walg van julleself oor julle sondeskuld, oor julle afstootlike dade. Nie ter wille van julle doen Ek dit nie,” is die uitspraak van my Heer, die HERE. “Dit moet vir julle duidelik wees! Wees verleë en skaam julle oor julle optrede, huis van Israel!” “ ‘So sê my Heer, die HERE: “Die dag wanneer Ek julle reinig van al julle sondeskuld, sal Ek die stede weer laat bewoon; die puinhope sal opgebou word. Die land wat verlate was, sal bewerk word, in plaas daarvan dat dit 'n woesteny is ten aanskoue van elke verbyganger. Hulle sal sê, ‘Hierdie land wat verlate gelê het, het soos die tuin van Eden geword. Die stede wat puinhope was, verlate en platgeslaan, is versterk en word bewoon.’ Die nasies wat rondom julle oorgebly het, sal besef dat dit Ek, die HERE, is wat die platgeslane stede opgebou, die verlate land beplant het. Ek, die HERE, het gepraat, en Ek sal dit doen.” “ ‘So sê my Heer, die HERE: “Ook nog dit sal Ek die huis van Israel toelaat om van My te vra dat Ek dit vir hulle doen: Ek sal hulle vermeerder; soos kleinvee sal die mense wees. Soos gewyde kleinvee, soos die kleinvee by Jerusalem in feestye, so sal die stede wees wat in puin lê – vol kuddes van mense. Dan sal hulle besef dat Ek die HERE is.” ’ ”

ESEGIËL 36:16-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, toe die huis van Israel in hulle land gewoon het, het hulle dit verontreinig volgens hulle eie weë en deur hulle handelinge; Daarom het Ek my grimmigheid oor hulle uitgegiet oor die bloed wat hulle oor die land vergiet het en oor hulle drekgode waarmee hulle dit verontreinig het. En Ek het hulle onder die nasies verstrooi, en hulle is verstrooi deur die lande; volgens hulle weg en volgens hulle handelinge het Ek hulle geoordeel. En toe hulle by die nasies ingegaan het waarheen hulle gegaan het, het hulle my heilige Naam ontheilig deur vir hulle te sê: Dit is die volk van die HERE, en hulle het uit sy land uitgetrek. Maar ek het my ontferm oor my heilige Naam wat die huis van Israel ontheilig het onder die nasies waarheen hulle gegaan het. Daarom, sê aan die huis van Israel: So spreek die HERE; Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gegaan het. En Ek sal my groot Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle in hulle midde ontheilig het; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, spreek die HERE, wanneer Ek voor hulle oë in julle geheilig word. Want Ek sal julle onder die nasies uit haal en julle uit al die lande versamel en julle in julle land bring. Dan sal Ek skoon water op julle sprinkel, en julle sal rein word; van al julle vuilheid en van al julle drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in julle binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel, en julle moet my verordeninge onderhou en dit doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan julle vaders gegee het; en julle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir julle 'n God wees. En Ek sal julle red van al julle onreinhede, en Ek sal die graan roep en dit vermeerder en geen hongersnood oor julle lê nie. En Ek sal die vrugte van die boom vermeerder en die opbrings van die veld, sodat julle geen smaad van hongersnood meer onder die nasies sal ontvang nie. Dan sal julle dink aan julle eie verkeerde weë en aan julle handelinge wat nie goed was nie, en julle sal julleself verafsku voor julle eie oë oor julle ongeregtighede en oor julle gruwels. Nie om julle ontwil doen Ek dit nie, spreek die HERE, laat dit aan julle bekend wees; skaam en beskaamd julle oor julle weë, o huis van Israel. So sê die HERE: Op die dag dat Ek jou van al jou ongeregtighede gereinig het, sal Ek jou ook in die stede laat woon, en die puinhope sal gebou word. En die verwoeste land sal bewerk word, terwyl dit woes gelê het voor die oë van almal wat verbygegaan het. En hulle sal sê: Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van Eden; en die puinhope en verwoeste en verwoeste stede het omhein en bewoon geword. Dan sal die nasies wat rondom julle oorgebly het, weet dat Ek, die HERE, die verwoeste plekke bou en wat verwoes was, plant; Ek, die HERE, het dit gespreek, en Ek sal dit doen. So sê die HERE: Ek sal nog daaroor navraag doen deur die huis van Israel, om dit vir hulle te doen; Ek sal hulle vermeerder met mense soos 'n kudde. Soos die heilige kudde, soos die kudde van Jerusalem op haar feestye; so sal die verwoeste stede vol word met troppe mense, en hulle sal weet dat Ek die HERE is.

ESEGIËL 36:16-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het verder vir my gesê: “Mensekind, toe die volk Israel in hulle eie land gelewe het, het hulle dit besoedel met hulle optrede. Wat hulle gedoen het, was vir My soos wanneer ’n vrou menstrueer. Hulle het die land besoedel deur moord te pleeg en afgode te aanbid. Daarom het Ek my wraak oor hulle uitgestort. Ek het hulle na baie lande toe verstrooi om hulle te straf vir die bose manier waarop hulle gelewe het. Waar hulle tussen die nasies verstrooi was, het hulle my heilige Naam oneer aangedoen. Want die nasies het gesê: ‘Hierdie is die HERE se mense, en tog moes hulle weggaan uit sy land!’ Ek is bekommerd daaroor dat mense respek vir my Naam verloor. Dit is veroorsaak deur die mense van Israel wat tussen die nasies gaan woon het. “Daarom, sê vir die mense van Israel die oppermagtige HERE sê: Ek bring julle terug, maar nie omdat julle dit verdien nie. Ek doen dit ter wille van my Naam wat julle oneer aangedoen het onder die nasies waar julle gebly het. Ek gaan julle wys hoe heilig Ek is, Ek vir wie die nasies respek verloor het deur julle optrede. En as Ek my heiligheid deur julle voor hulle oë openbaar, sê die oppermagtige HERE, sal die nasies besef dat Ek die HERE is. Want Ek maak julle bymekaar uit al die nasies en bring julle huis toe na julle eie land toe. “Dan was Ek julle met skoon water, en julle sal skoon wees. Ek maak julle skoon van julle vuilheid en julle afgode. Ek gee julle ’n nuwe hart met die regte begeertes en ’n nuwe gees. Ek vat die ou hart van sonde weg en gee julle ’n nuwe, gehoorsame hart. En Ek gee my Gees in julle sodat julle my voorskrifte sal gehoorsaam en doen wat Ek beveel. “Julle sal in die land bly wat Ek aan julle voorouers gegee het. Julle sal my volk wees, en Ek sal julle God wees. Ek maak julle skoon van alles wat julle lewe besoedel het. Ek gee julle goeie oeste. Julle sal hongersnood nie ken nie. Ek gee vir julle vrugte aan die bome en goeie oeste op die landerye. Nooit sal julle buurlande weer met julle land kan spot oor sy hongersnood nie. Dan sal julle onthou hoe julle vroeër gesondig het, en julleself haat vir al die bose dinge wat julle gedoen het. Maar onthou, sê die oppermagtige HERE, Ek doen dit nie omdat julle dit verdien nie. Wees skaam en laat hang julle koppe oor julle gedrag, mense van Israel! “So sê die oppermagtige HERE: Wanneer Ek julle skoonmaak van julle sondes, bring Ek mense om in julle stede te leef. Die puinhope sal herbou word. In plaas daarvan dat dit kaalgestroop lê voor almal wat daar verbygaan, sal die verlate velde weer bewerk word. Wanneer Ek julle terugbring, sal mense sê: ‘Hierdie land wat godverlate was, is nou soos die Tuin van Eden! Die stede wat verlate in puin gelê het, is nou versterk en vol mense!’ Dan sal al die buurnasies wat oor is, besef dat Ek, die HERE, die puinhope herbou het en die verlate landerye weer beplant het. Want Ek, die HERE, het dit belowe en Ek sal dit doen! “So sê die oppermagtige HERE: Ek staan gereed om in antwoord op Israel se gebede ook dit te doen: Ek maak die volk so baie soos skape. Hulle sal so baie word soos die offerskape wat gedurende feestye Jerusalem se strate vol loop. Die stede wat puinhope was, sal vol mense wees. Dan sal hulle besef dat Ek die HERE is.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid