ESÉGIËL 36:16-38

ESÉGIËL 36:16-38 AFR53

Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, toe die huis van Israel in hulle land gewoon het, het hulle dit verontreinig met hul wandel en met hul handelinge; hulle wandel was voor my aangesig soos die besoedeling van die maandelikse onreinheid. Daarom het Ek my grimmigheid oor hulle uitgegiet, vanweë die bloed wat hulle in die land vergiet het, terwyl hulle dit met hul drekgode verontreinig het. En Ek het hulle verstrooi onder die nasies en hulle is versprei in die lande; Ek het hulle geoordeel volgens hul wandel en hul handelinge. En toe hulle by die nasies kom waarheen hulle getrek het, het hulle my heilige Naam ontheilig deurdat van hulle gesê is: Hierdie mense is die volk van die HERE, en hulle moes uit sy land uittrek. Toe het dit My ter harte gegaan om my heilige Naam ontwil wat die huis van Israel ontheilig het onder die nasies waar hulle gekom het. Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het. En Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, spreek die Here HERE, as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken. En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My 'n volk en Ek sal vir julle 'n God wees. En Ek sal julle verlos van al jul onreinhede; en Ek sal roep na die koring en dit vermenigvuldig, en Ek sal geen hongersnood op julle lê nie. En Ek sal die vrugte van die bome en die opbrings van die veld vermenigvuldig, sodat julle die smaad van hongersnood nie meer hoef te verdra onder die nasies nie. Dan sal julle dink aan jul verkeerde weë en aan jul handelinge wat nie goed was nie; en julle sal vir julleself walglik wees oor jul ongeregtighede en oor jul gruwels. Ek doen dit nie om julle ontwil nie, spreek die Here HERE; laat dit julle bekend wees! Skaam julle en bloos oor jul weë, o huis van Israel. So sê die Here HERE: In die dag as Ek julle reinig van al jul ongeregtighede, sal Ek die stede laat bewoon, en die puinhope sal opgebou word. En die verwoeste land sal bewerk word, in plaas dat dit 'n wildernis is voor die oë van almal wat verbygaan. En hulle sal sê: Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van Eden; en die stede wat in puin gelê het en verwoes en afgebreek was, is versterk en bewoon. Dan sal die nasies weet wat rondom julle oorgebly het, dat Ek, die HERE, opgebou het wat afgebreek was, beplant het wat verwoes was; Ek, die HERE, het dit gespreek en sal dit doen. So sê die Here HERE: Ook dit sal Ek My laat vra deur die huis van Israel om dit vir hulle te doen: Ek sal hulle mense vermenigvuldig soos skape. Soos die geheiligde skape, soos die skape van Jerusalem op sy feestye, so sal die stede wat in puin lê, vol wees van kuddes van mense; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.

Gratis leesplanne en oordenkings oor ESÉGIËL 36:16-38