Esegiël 36:16-38

Esegiël 36:16-38 AFR20

Die woord van die HERE het tot my gekom: “ Mensekind, terwyl die huis van Israel op hulle grond gewoon het, het hulle dit verontreinig met hulle optrede en hulle dade. Soos onreinheid tydens menstruasie, was hulle optrede voor My. Ek het my woede oor hulle uitgestort oor die bloed wat hulle in die land gestort het en oor die afgodsbeelde waarmee hulle dit besoedel het. Ek het hulle onder die nasies versprei, hulle in die lande verstrooi. In ooreenstemming met hulle optrede en hulle dade het Ek hulle geoordeel. Toe hulle aankom by die nasies waarheen hulle gegaan het, het hulle my heilige Naam ontheilig, deurdat daar van hulle gesê is, ‘Dit is die HERE se volk hierdie, maar uit sy land moes hulle padgee.’ Ek was begaan oor my heilige Naam, wat die huis van Israel so ontheilig het onder die nasies waarheen hulle gegaan het. “Daarom, sê vir die huis van Israel, ‘So sê my Heer, die HERE: “Nie ter wille van julle doen Ek dit nie, huis van Israel, maar slegs ter wille van my heilige Naam, wat julle ontheilig het onder die nasies waarheen julle gegaan het. Ek sal my groot Naam heilig, wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het. Die nasies sal besef dat Ek die HERE is,” is die uitspraak van my Heer, die HERE, “wanneer Ek Myself deur julle as die Heilige betoon voor hulle oë. Ek sal julle uit die nasies neem, en julle bymekaarmaak uit al die lande. Ek sal julle na julle grond bring. Ek sal rein water oor julle sprinkel, en julle sal rein wees. Van al julle onreinhede en van al julle afgodsbeelde sal Ek julle reinig. Ek sal vir julle 'n nuwe hart gee, 'n nuwe gees sal Ek in julle binneste gee; Ek sal die hart van klip uit julle liggame verwyder en vir julle 'n hart van vlees gee. My Gees sal Ek in julle binneste gee. Ek sal daarvoor sorg dat julle my vaste voorskrifte volg en dat julle my bepalings nakom en uitvoer. Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorouers gegee het. Julle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir julle 'n God wees. Ek sal julle verlos van al julle onreinheid. Ek sal na die koring roep en dit oorvloedig maak; Ek sal nie weer hongersnood oor julle bring nie. Ek sal die vrugte van die bome en die opbrengs van die landerye oorvloedig maak, sodat julle nie meer die bespotting oor hongersnood deur die nasies hoef te verduur nie. Julle sal terugdink aan julle bose optrede, aan julle dade wat nie goed was nie. Dan sal julle walg van julleself oor julle sondeskuld, oor julle afstootlike dade. Nie ter wille van julle doen Ek dit nie,” is die uitspraak van my Heer, die HERE. “Dit moet vir julle duidelik wees! Wees verleë en skaam julle oor julle optrede, huis van Israel!” “ ‘So sê my Heer, die HERE: “Die dag wanneer Ek julle reinig van al julle sondeskuld, sal Ek die stede weer laat bewoon; die puinhope sal opgebou word. Die land wat verlate was, sal bewerk word, in plaas daarvan dat dit 'n woesteny is ten aanskoue van elke verbyganger. Hulle sal sê, ‘Hierdie land wat verlate gelê het, het soos die tuin van Eden geword. Die stede wat puinhope was, verlate en platgeslaan, is versterk en word bewoon.’ Die nasies wat rondom julle oorgebly het, sal besef dat dit Ek, die HERE, is wat die platgeslane stede opgebou, die verlate land beplant het. Ek, die HERE, het gepraat, en Ek sal dit doen.” “ ‘So sê my Heer, die HERE: “Ook nog dit sal Ek die huis van Israel toelaat om van My te vra dat Ek dit vir hulle doen: Ek sal hulle vermeerder; soos kleinvee sal die mense wees. Soos gewyde kleinvee, soos die kleinvee by Jerusalem in feestye, so sal die stede wees wat in puin lê – vol kuddes van mense. Dan sal hulle besef dat Ek die HERE is.” ’ ”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Esegiël 36:16-38

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid