Esegiël 36:16-38

Esegiël 36:16-38 ABA

Ek het gehoor die Here sê vir my: “Mens, die volk Israel het voorheen in hulle land gewoon. Hulle het toe verkeerd gelewe en die land het onrein geword. Ek het gesien die dinge wat hulle doen, is so onrein soos 'n vrou wat menstrueer. Ek het kwaad geword en Ek het hulle gestraf omdat hulle mense vermoor het in die land en omdat hulle die land onrein gemaak het met afgode. Ek het hulle na al die kante toe gejaag tussen die volke in en Ek het hulle oral in ander lande laat woon. Ek het hulle gestraf oor die dinge wat hulle gedoen het. Toe hulle daar by die ander volke kom, het hulle so gelewe dat die mense sleg gepraat het oor My. Die mense het gesê: ‘Dit is die Here se volk, maar hulle moes weggaan uit sy land.’ Die volk Israel het my Naam ontwy tussen die volke waar hulle gekom het, en Ek was hartseer daaroor. Daarom moet jy vir die volk Israel sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Israel, Ek sal iets doen, maar Ek sal dit nie doen om júlle te help nie, Ek sal dit doen vir mý heilige Naam. Julle het my Naam ontwy tussen die volke waar julle gekom het. Ek sal my groot Naam weer heilig laat wees, my Naam wat julle ontwy het tussen die volke. Die volke sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek iets doen met julle en wanneer Ek vir hulle wys dat Ek die heilige God is.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. “Ek sal julle wegneem tussen die volke, Ek sal julle uit al die lande bymekaarmaak en Ek sal julle na julle eie land bring. Ek sal water op julle spat, die water sal julle rein maak. Ek sal alles wegneem wat julle onrein maak en ook al julle afgode. Ek sal vir julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee. Ek sal die harde klip-hart uithaal uit julle liggame en Ek sal vir julle 'n sagte hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal julle laat lewe soos Ek wil hê, Ek sal julle laat doen wat Ek sê. Julle sal woon in die land wat Ek vir julle voorvaders gegee het. Julle sal my volk wees, en Ek sal julle God wees. Ek sal julle red van alles wat julle onrein gemaak het. Ek sal praat met die koring en Ek sal die koring baie laat word. Julle sal nie weer honger wees nie. Ek sal vir die bome sê om baie vrugte te dra, en daar sal baie koring op die lande wees. Dan sal julle nie weer honger wees en julle sal nie weer hoor hoe die ander volke julle spot nie. Julle sal onthou hoe sleg julle gelewe het en julle sal onthou wat julle verkeerd gedoen het. Julle sal naar word oor julle sondes en oor die dinge wat julle gedoen het, dinge wat Ek haat. Dit is nie vir júlle wat Ek dit sal doen nie, dit moet julle weet. Israel, julle moet skaam wees en jammer voel oor wat julle gedoen het.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal julle reinig en Ek sal julle sonde vergewe. Daardie dag sal Ek weer mense in die stede laat woon. Hulle sal die stede weer bou, die stede wat nou net hope klippe is. Hulle sal weer werk in die land waar nou nie mense kan woon nie. Mense wat verbykom, sal nie weer sien dat die land leeg is nie. Hulle sal sê: ‘Niemand kon voorheen in hierdie land woon nie, maar dit het nou geword soos die tuin van Eden. Mense het die stede se sterk mure weer gebou en hulle het daar gaan woon, in die stede wat verwoes was en waar niemand kon woon nie.’ Die volke wat oorgebly het rondom julle, sal weet dat Ek die Here is wat die stede weer bou wat verwoes was en wat bome plant in die grond waar niemand kon woon nie. Ek, die Here, het dit gesê en Ek sal dit doen.” Die Here, Hy wat Here is, sê: “Wanneer die volk Israel bid en dit vir My vra, dan sal Ek hulle baie laat word, so baie soos die mense se skape en bokke. Hulle sal word soos die skape en bokke van die mense wat aan My behoort, soos die skape en bokke in Jerusalem wanneer dit feestyd is. Die stede wat nou net hope klippe is, sal vol skape en bokke wees. Die mense sal weet dat Ek die Here is.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Esegiël 36:16-38

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid