EKSODUS 30:11-38
EKSODUS 30:11-38 Die Boodskap (DB)
Die Here het ook verder vir Moses gesê: “Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wat klaar getel is, belasting betaal. As hy dit nie doen nie, kan ’n ramp hom miskien tref. Sodra hy getel is, moet hy ses gram silwer by die tent kom inbetaal. Hy moet dit afweeg op die skaal wat by die tent gebruik word. Sy belasting is ’n offer wat hy vir die Here bring. Elkeen wat twintig jaar en ouer is, moet getel word en die belasting betaal. Die bedrag geld is vir almal dieselfde, of hy nou ryk is of arm. Die geld wat jy op hierdie manier van die Israeliete kry, moet jy gebruik om te betaal vir alles wat daar by my tent gedoen moet word. Ek sal onthou dat die Israeliete betaal het en dat daar nie rampe oor hulle moet kom wanneer die volk getel word nie.” Die Here het nog verder vir Moses gesê: “Maak ’n bak uit koper met ’n voetstuk uit koper om by te gaan was. Sit dit tussen die tent en die altaar en gooi dit vol water. Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daar was met water uit die bak. Hulle moet dit elke keer doen wanneer hulle in die tent gaan werk of wanneer hulle by die altaar offers gaan verbrand. Dit is ’n vaste reël vir Aäron en almal wat hom opvolg. Hulle moet voor die tyd eers hulle hande en hulle voete was voor hulle hulle werk by die tent gaan doen. As hulle dit nie doen nie, kan dit hulle lewe kos.” Die Here het ook nog vir Moses gesê: “Kry die volgende bymekaar vir ’n mengsel van salf en olie: 500 dele mirre, die helfte soveel kaneel, 250 dele kalmoes, 500 dele kassie, en vier liter olyfolie. Meng dit alles soos ’n apteker en maak ’n mengsel van salfolie vir die tent. Gooi daarvan uit op die tent, op die ark met die bewys van ons ooreenkoms, oor die tafel waarop die brode gesit word saam met alles wat daarby staan, oor die ligstaander en alles wat daarby hoort, oor die altaartjie waarop die wierook gebrand word, oor die altaar buite waarop die offers verbrand word saam met sy gereedskap en oor die koperbak op sy voetstuk waar die werkers hulle was. Dra dit alles aan die Here op met die salfolie sodat dit alles aan die Here alleen gewy is. Elkeen wat aan hierdie voorwerpe raak, moet self aan die Here gewy wees. Jy moet ook Aäron en sy seuns daarmee salf sodat hulle aan My gewy kan wees om my priesters te wees. “Sê vir die Israeliete dat hierdie mengsel van olie vir hulle en vir alle geslagte wat kom, iets is wat uitsluitlik bedoel is om mense en dinge aan God te wy. Dit mag nie sommer vir ’n mens gebruik word nie. Julle mag ook nie die voorskrif gebruik om vir julleself salfolie te meng nie. Die salfolie is uitsluitlik bedoel om dinge vir die Here af te sonder. Julle moet respek hê daarvoor en dit vir niks anders gebruik nie. Enigeen wat die resep vir iets anders gebruik, of die mengsel op iets of iemand gebruik wat nie aan die Here en sy tent behoort nie, moet uit die volk weggejaag word.” Die Here het ook vir Moses gesê: “Meet gelyke hoeveelhede van die volgende speserye af: hars, naeltjies, galbanum en suiwer wierook. Meng dit soos ’n apteker ’n wierookmengsel maak. Meng dit met sout dat dit suiwer kan wees en aan My gewy kan word. Maal dit tot ’n fyn poeier. Strooi daarvan voor die ark met die bewyse van ons ooreenkoms in daardie tent waar Ek en jy mekaar ontmoet. Julle moet dit respekteer as iets wat baie spesiaal is en net vir my tent bedoel is. Julle mag nie hierdie resep gebruik om ook vir julleself dieselfde mengsel van wierook te maak nie. Dit is uitsluitlik vir die Here en sy werk by die tent bedoel. Die man wat so iets vir homself maak omdat dit so lekker ruik, moet van julle af weggejaag word.”
EKSODUS 30:11-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het ook vir Moses gesê: “Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wat getel is ’n afkoopsom vir homself aan die HERE betaal. Geen ramp sal hulle dan tref wanneer jy hulle tel nie. “Elkeen wat getel word, moet ses gram silwer vir die HERE betaal. Dit is volgens die eenheid wat by die heiligdom gebruik word. Elkeen bo twintig jaar oud moet hierdie afkoopsom vir die HERE betaal. Wanneer hulle hierdie afkoopsom vir hulleself betaal, moet dié wat ryk is nie meer gee en dié wat arm is nie minder betaal nie. Gebruik hierdie geld vir die diens by die tabernakel. Dit sal die Israeliete daaraan herinner dat die HERE hulle lewens losgekoop het.” Die HERE het vir Moses gesê: “Maak ’n koperhouer op ’n kopervoetstuk om in te was. Sit dit tussen die tabernakel en die altaar en gooi dit vol water. Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was wanneer hulle in die tabernakel ingaan om voor die HERE te verskyn of om ’n offer te bring. Hulle moet hulle was voordat hulle diens verrig, anders sal hulle sterf. Dis ’n vaste reël vir Aäron en sy opvolgers en moet deur elke geslag nagekom word.” Die HERE het verder vir Moses gesê: “Kry die volgende bymekaar: 500 dele mirre, die helfte soveel kaneel, 250 dele kalmoes, 500 dele kassie en vier liter olyfolie. Meng dit met mekaar en maak daarvan heilige salfolie. Gebruik dit om die tabernakel en die ark van die verbond te salf. Salf daarmee ook die tafel en al sy toebehore, die kandelaar en al sy toebehore, die wierookaltaar, die brandofferaltaar met sy toebehore en die waskom met sy voetstuk. Dra hulle almal aan die HERE op. Enigeen wat daarna daaraan raak, sal vir die HERE geheilig wees. “Jy moet ook Aäron en sy seuns met die olie salf en hulle aan My wy om my priesters te wees. “Sê ook vir die Israeliete: ‘Hierdie olie sal altyd my heilige olie wees. Dit mag nooit vir enige ander mens gebruik word nie. Julle mag ook nie daarvan vir julleself gebruik nie. Dit is heilig en moet altyd as heilig beskou word. “‘Enigeen wat net so ’n mengsel maak of daarvan aan iemand sit wat nie ’n priester is nie, sal uit die gemeenskap verwyder word.’” Die HERE het verder vir Moses gesê: “Meet gelyke hoeveelhede speserye af van hars, naeltjies, galbanum en suiwer wierook. Meng dit soos ’n apteker en maak daarvan suiwer en heilige wierook. Maal dit tot ’n fyn poeier en strooi daarvan voor die ark van die verbond waar Ek jou ontmoet in die tent van ontmoeting. Dit is besonder heilige wierook. Jy mag nooit hierdie wierook vir jouself maak nie. Dit is uitsluitlik vir die HERE. Dit is vir die HERE alleen. Die een wat so ’n mengsel maak, sal uit die gemeenskap verwyder word.”
EKSODUS 30:11-38 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer julle die Israeliete tel, dan moet elkeen 'n offer vir die Here gee. Dan sal Ek hulle nie siek maak en hulle laat sterf wanneer julle hulle tel nie. Elkeen vir wie julle tel, moet 'n halwe tempel-sikkel silwer gee. Dit is 'n present vir My. Julle moet almal tel wat 20 jaar oud en ouer is, en hulle elkeen moet vir My 'n present gee. Die ryk mense moenie meer as 'n halwe tempel-sikkel silwer gee nie, en die arm mense moenie minder gee nie. Dan sal Ek hulle sonde vergewe. Julle moet hierdie geld neem wat die Israeliete gegee het omdat Ek hulle sonde vergewe het, en julle moet dit vir die priesters gee. Die priesters moet dit gebruik vir die werk in die tent waar Ek aan julle verskyn. Dan sal Ek aan julle dink en julle sonde vergewe.” Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet 'n was-skottel maak om in te was en 'n voetstuk van brons. Sit dit neer tussen die tent waar Ek aan julle verskyn en die altaar. Gooi water daarin sodat Aäron en sy seuns hulle hande en voete kan was. Wanneer hulle kom na die tent waar Ek aan julle verskyn, dan moet hulle eers met hierdie water was. Dan sal hulle nie sterf nie. Hulle moet ook was wanneer hulle na die altaar gaan om te werk of om 'n vuur-offer vir My te brand. Hulle moet hulle hande en voete was. Dan sal hulle nie sterf nie. Hulle moet dit altyd doen, hulle en hulle nageslag.” Die Here het vir Moses gesê: “Neem van die beste speserye: 500 tempel-sikkels mirre, 250 tempel-sikkels kaneel, 250 tempel-sikkels kalmoes, 500 tempel-sikkels kassie en 'n hin olyf-olie. Meng dit en maak gewyde salf-olie daarvan. Jy moet dit maak soos 'n ambagsman salf maak. Ek hou daarvan. Julle moet die tent salf waar Ek aan julle verskyn, en julle moet die kis salf waarin die tien gebooie moet kom. Julle moet ook die tafel salf en alles wat by die tafel moet wees, die lampstaander en alles wat by die lampstaander moet wees. Julle moet die wierook-altaar ook salf. Salf ook die brandoffer-altaar en alles wat by die brandoffer-altaar moet wees, ook die was-skottel en sy voetstuk. So moet julle dit alles wy sodat dit hoog-gewy sal wees. Alles wat aan die gewyde goed raak, sal ook gewy wees. Julle moet vir Aäron en sy seuns salf en hulle wy om priesters te wees vir My. Sê vir die Israeliete hierdie olyf-olie moet gewyde salf-olie wees vir hulle nageslag. Hulle mag dit nie op 'n mens se liggaam uitgooi nie, en julle mag nie ander olyf-olie maak wat soos hierdie olyf-olie is nie. Hierdie is gewyde olyf-olie en dit moet altyd gewy wees. As iemand olyf-olie soos hierdie aanmaak of hy gee daarvan vir iemand wat nie 'n priester is nie, dan moet julle hom afsny van sy volk.” Die Here het vir Moses gesê: “Neem ewe veel van die volgende speserye: terpentynboom-gom, naeltjies, vinkelboom-gom, en skoon wierook. Maak daarvan goeie wierook, Ek hou daarvan. Maak die wierook soos 'n ambagsman salf maak. Gooi sout daarop en wy dit aan My. Maak 'n poeier daarvan en sit dit voor die kis waarin die tien gebooie moet kom, in die tent waar Ek aan julle verskyn. Dit moet hoog-gewy wees aan My. Julle mag nie wierook soos hierdie vir julleself maak nie. Hierdie wierook moet gewy wees aan My. As iemand vir homself wierook soos hierdie maak om te ruik, dan moet julle hom van sy volk afsny.”
EKSODUS 30:11-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: As jy die volle getal van die kinders van Israel opneem volgens hulle geteldes, moet hulle, elkeen vir sy lewe, losgeld aan die HERE gee as hulle getel word, sodat geen plaag onder hulle mag wees as hulle getel word nie. Dit moet hulle gee, elkeen wat na die geteldes oorgaan: 'n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom — die sikkel is twintig gera — 'n halfsikkel as offergawe aan die HERE. Elkeen wat oorgaan na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, moet die offergawe van die HERE gee. Die ryke moet nie meer en die arme moet nie minder as 'n halfsikkel bring nie, as hulle die offergawe van die HERE gee om vir julle siele versoening te doen. Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in gedagtenis kan bring voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen. EN die HERE het met Moses gespreek en gesê: Jy moet ook 'n koperwaskom maak met sy kopervoetstuk, om in te was; en sit dit tussen die tent van samekoms en die altaar, en gooi water daarin, dat Aäron en sy seuns hulle hande en hulle voete daaruit kan was. As hulle in die tent van samekoms gaan, moet hulle hul met water was, sodat hulle nie sterwe nie; of as hulle naby die altaar kom om te dien deur 'n vuuroffer aan die HERE aan die brand te steek. Hulle moet dan hul hande en hulle voete was, sodat hulle nie sterwe nie. En dit moet vir hulle 'n ewige insetting wees, vir hom en sy nageslag in hulle geslagte. VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: En jý, neem vir jou van die beste speserye: vyfhonderd sikkels fyn mirre en die helfte soveel geurige kaneel, tweehonderd-en-vyftig sikkels, en tweehonderd-en-vyftig sikkels geurige kalmoes en vyfhonderd sikkels kassie, volgens die sikkel van die heiligdom, en 'n hin olyfolie; en maak daarvan heilige salfolie, 'n salfmengsel soos 'n salfmenger dit maak; heilige salfolie moet dit wees. Daarmee moet jy dan die tent van samekoms salf en die ark van die Getuienis en die tafel met al sy gereedskap en die kandelaar met sy gereedskap en die reukaltaar en die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die waskom met sy voetstuk. So moet jy hulle dan heilig, dat hulle hoogheilig kan wees. Elkeen wat aan hulle raak, word heilig. Jy moet ook Aäron en sy seuns salf en hulle heilig om vir My die priesteramp te bedien. En jy moet met die kinders van Israel spreek en sê: Dit moet vir My 'n heilige salfolie wees in julle geslagte. Op geen mens se liggaam mag dit uitgegiet word nie; julle mag ook, na dieselfde voorskrif, so iets nie maak nie: heilig is dit; heilig moet dit vir julle wees. Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan 'n onbevoegde laat kom, moet uit sy volksgenote uitgeroei word. Verder het die HERE vir Moses gesê: Neem vir jou speserye: storaksgom en naeltjies en gálbanum — speserye en ook suiwer wierook; alles in gelyke hoeveelhede, en maak daar reukwerk van, 'n mengsel soos die salfmenger dit maak, met sout gemeng, suiwer, heilig. En vrywe 'n gedeelte daarvan heeltemal fyn, en sit 'n deel daarvan neer voor die Getuienis in die tent van samekoms, waar Ek met jou sal saamkom; hoogheilig moet dit vir julle wees. En die reukwerk wat jy moet maak — na dieselfde voorskrif mag julle vir julle nie maak nie; as iets heiligs aan die HERE moet dit vir jou wees. Elkeen wat so iets maak om daaraan te ruik, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
EKSODUS 30:11-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het verder vir Moses gesê: “Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wanneer hy getel word, 'n versoeningsoffer vir sy lewe aan My, die Here, offer. Dan sal hy nie deur 'n ramp getref word wanneer hy getel word nie. “Elkeen wat kom om getel te word, moet met silwer betaal, ses gram volgens die standaardgewig van die heiligdom. Die ses gram is 'n offergawe vir My, die Here. Elkeen van twintig jaar en ouer wat kom om getel te word, moet die offergawe vir My bring. “Die ryke moet nie meer en die arme nie minder as die offergawe van ses gram silwer vir My bring as versoeningsoffer vir sy lewe nie. Jy moet die versoeningsgeld by die Israeliete insamel en dit aan die priesters gee vir die diens in die tent van ontmoeting. Die versoeningsgeld sal My, die Here, laat dink aan die Israeliete en sal hulle lewens loskoop.” Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet 'n bronswaskom met 'n bronsvoetstuk maak om in te was. Sit dit tussen die tent van ontmoeting en die altaar neer en gooi water daarin. Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was. Voordat hulle in die tent van ontmoeting ingaan, moet hulle hulle met die water was sodat hulle nie sterf nie. Voordat hulle na die altaar toe kom vir hulle diens om 'n vuuroffer vir My, die Here, aan die brand te steek, moet hulle hulle hande en hulle voete was sodat hulle nie sterf nie. Dit is 'n blywende voorskrif vir hulle en vir hulle nageslagte.” Die Here het vir Moses gesê: “Gebruik die standaardmaat van die heiligdom en meet die volgende speserye af: vyf honderd dele vloeibare mirre, die helfte soveel geurige kaneel, twee honderd en vyftig dele geurige kalmoes, vyf honderd dele kassie, en vier liter olyfolie. Maak daarvan gewyde salfolie, goed gemeng soos wanneer 'n vakman parfuum maak. Dit is die gewyde salfolie. “Jy moet die tent van ontmoeting en die ark waarin die getuienis is, daarmee salf, en verder ook nog die tafel met al sy toebehore, die kandelaar met al sy toebehore, die wierookaltaar, die brandofferaltaar met al sy toebehore, en ook die waskom met sy voetstuk. Jy moet dit wy en dan sal dit besonder gewyd wees. Alles wat daaraan raak, sal ook gewyd wees. “Jy moet ook vir Aäron en sy seuns salf en hulle so wy om as priesters vir My diens te doen. Sê vir die Israeliete: Dit is die gewyde salfolie wat deur al julle geslagte heen aan My sal behoort. Dit mag nie sommer op enige mens uitgegiet word nie. Hierdie mengsel mag julle vir geen ander doel gebruik nie. Dit is gewy en dit moet vir julle gewyd wees. Iemand wat so 'n mengsel maak en aan 'n onbevoegde persoon gee, moet van sy volk afgesny word.” Die Here het verder vir Moses gesê: “Vat die volgende geurige speserye in gelyke hoeveelhede: hars, naeltjies, galbanum en suiwer wierook. Berei dit as wierookoffer. Meng dit soos 'n vakman dit doen. Dit moet gesout wees, rein en gewyd. Vryf dit fyn tot 'n poeier en sit daarvan neer voor die getuienis in die tent van ontmoeting waar Ek jou sal ontmoet. Die wierookoffer moet vir julle besonder gewyd wees. Wat die wierook betref wat jy voorberei, niemand van julle mag dit volgens dieselfde voorskrif vir homself voorberei nie. Dit moet gewyd wees vir julle, aan My, die Here, gewy. Enigiemand wat so 'n mengsel voorberei om aan te ruik, moet van sy volk afgesny word.”
EKSODUS 30:11-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het met Moses gepraat en vir hom gesê: “Wanneer jy 'n hoofdelike telling hou van die Israeliete, van dié wat ingeskryf is, moet elkeen van hulle vir die HERE losgeld vir sy lewe gee wanneer hulle getel word, sodat wanneer hulle getel word, daar geen plaag onder hulle sal uitbreek nie. Dit is wat elkeen moet gee wanneer hy getel is: 'n halwe sikkel volgens die standaardgewig van die heiligdom, – twintig gera is 'n sikkel. Die halwe sikkel is 'n •wydingsgeskenk aan die HERE. Elkeen wat getel is, van twintig jaar en ouer, moet die HERE se wydingsgeskenk gee. Rykes moet nie meer gee nie, en armes nie minder nie as die halwe sikkel wat gegee moet word as die HERE se wydingsgeskenk om versoening te doen vir julle lewens. Jy moet die silwer vir die versoening van die Israeliete in ontvangs neem, en dit gebruik vir die dienswerk in die Tent van Ontmoeting. Dit sal vir die Israeliete dien as herinnering voor die HERE om versoening te doen vir julle lewens.” Die HERE het met Moses gepraat en vir hom gesê: “Jy moet 'n bronswaskom met sy bronsvoetstuk maak om uit af te spoel. Jy moet dit tussen die Tent van Ontmoeting en die altaar plaas. Jy moet water daarin gooi, sodat Aäron en sy seuns hulle hande en hulle voete daaruit kan afspoel. Wanneer hulle in die Tent van Ontmoeting ingaan, moet hulle hulleself met water afspoel, sodat hulle nie sterf nie. Of wanneer hulle naby die altaar kom om dienswerk te doen, om 'n offergawe vir die HERE te verbrand, moet hulle hulle hande en voete afspoel, sodat hulle nie sterf nie. Dit is 'n vaste reël wat altyd geld vir Aäron en sy nageslag, vir al hulle nageslagte.” Die HERE het met Moses gepraat en vir hom gesê: “Neem jy self keurgraad speserye: 500 sikkel verpoeierde mirre, die helfte soveel geurige kaneel – dit is 250 sikkel – en 250 sikkel geurige riet, asook 500 sikkel kassia, volgens die standaardgewig in die heiligdom, met 'n hin olyfolie. Jy moet daarvan heilige salfolie maak, met die kundigheid van 'n salfmenger – 'n besondere mengsel. Dit moet heilige salfolie wees. Jy moet daarmee die Tent van Ontmoeting en die ark met die Getuienis salf, asook die tafel en al sy toebehore, die menora en sy toebehore, die altaar vir die reukwerk, die brandofferaltaar met al sy toebehore en die waskom met sy voetstuk. Jy moet dit heilig, dan sal dit besonder heilig wees; elkeen wat daaraan raak, sal heilig word. “ Ook Aäron en sy seuns moet jy salf en hulle heilig, sodat hulle vir My as priesters kan optree. “Met die Israeliete moet jy praat en vir hulle sê, ‘Dit moet my gewyde salfolie wees vir al julle nageslagte. Op die liggaam van 'n gewone mens mag dit nie uitgegiet word nie, en met dieselfde bestanddele mag julle nie iets soortgelyks maak nie. Dit is heilig, en dit moet vir julle heilig wees. Iemand wat iets soortgelyks voorberei, of wat daarvan op 'n buitestander laat kom, sal van sy volk afgesny word. ’ ” Die HERE het vir Moses gesê: “Neem vir jou geurige stowwe: harpuis, skellak, vinkel, hierdie geurige stowwe, en suiwer wierook. Dit moet gelyke hoeveelhede wees. Jy moet reukwerk daarvan maak, met sout by, suiwer en heilig – 'n mengsel gemaak met die kundigheid van 'n salfmenger. Jy moet daarvan fynstamp tot 'n poeier en daarvan voor die Getuienis in die Tent van Ontmoeting plaas, waar Ek jou sal ontmoet. Dit moet vir julle besonder heilig wees. “Die reukwerk wat jy moet maak, mag julle nie vir julleself maak van dieselfde bestanddele nie. Dit moet vir jou heilig aan die HERE wees. Iemand wat iets soortgelyks maak om die geur te geniet, moet van sy volk afgesny word.”
EKSODUS 30:11-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Wanneer jy die som van die kinders van Israel volgens hulle getal neem, dan moet hulle elkeen 'n losprys vir sy siel aan die HERE gee as jy hulle tel; dat daar geen plaag onder hulle sal wees as U hulle tel nie. Dit moet hulle gee, elkeen wat tussen die geteldes deurgaan, 'n halwe sikkel volgens die sikkel van die heiligdom: 'n sikkel is twintig gera; 'n halwe sikkel moet die offer van die HERE wees. Elkeen wat tussen die geteldes deurgaan, van twintig jaar oud en ouer, moet 'n offer aan die HERE gee. Die rykes mag nie meer gee nie, en die armes mag nie minder as 'n halwe sikkel gee as hulle 'n offer aan die HERE gee om vir julle siele versoening te doen nie. En jy moet die versoeningsgeld van die kinders van Israel neem en dit bestem vir die diens van die tent van samekoms; dat dit vir die kinders van Israel 'n gedagtenis kan wees voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Jy moet ook 'n koperkom maak en sy voet ook van koper om mee te was; en jy moet dit tussen die tent van samekoms en die altaar sit, en jy moet water daarin gooi. Want Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was. Wanneer hulle in die tent van samekoms ingaan, moet hulle hulle met water was, sodat hulle nie sterwe nie; of as hulle naby die altaar kom om te dien, om aan die HERE brandoffer te bring; En hulle moet hul hande en hul voete was, dat hulle nie sterwe nie; en dit sal vir hulle 'n ewige insetting wees, vir hom en sy nageslag in hulle geslagte. Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Neem ook vir jou die belangrikste speserye, van suiwer mirre vyfhonderd sikkels, en soet kaneel die helfte van soveel, tweehonderd-en-vyftig sikkels, en soet kalamus tweehonderd-en-vyftig sikkels, en van kassia vyf honderd sikkels volgens die sikkel van die heiligdom, en olyf-olie 'n hin; En jy moet dit 'n heilige salf-olie maak, 'n salfmengsel volgens die kuns van 'n apteker; dit moet 'n heilige salfolie wees. En jy moet die tent van samekoms daarmee salf en die ark van die Getuienis, en die tafel en al sy gereedskap en die kandelaar en sy gereedskap en die reukaltaar, en die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die waskom en sy voet. En jy moet hulle heilig, dat hulle hoogheilig kan wees; alles wat aan hulle raak, sal heilig wees. En jy moet Aäron en sy seuns salf en hulle heilig, sodat hulle vir My die priesteramp kan bedien. En jy moet met die kinders van Israel spreek en sê: Dit sal vir My 'n heilige salfolie wees in julle geslagte. Op die vlees van 'n mens mag dit nie uitgegiet word nie, en julle mag so iets nie maak volgens die samestelling daarvan nie: heilig is dit, en heilig moet dit vir julle wees. Elkeen wat so iets saamvoeg, of elkeen wat iets daarvan op 'n vreemdeling plaas, moet uit sy volk uitgeroei word. Toe sê die HERE vir Moses: Neem vir jou soet speserye, stacte en onycha en galbanum; hierdie speserye met suiwer wierook: van elkeen moet dieselfde gewig wees. En jy moet dit 'n reukmiddel maak, 'n lekkerny volgens die kuns van 'n apteker, saam gehard, rein en heilig. En jy moet daarvan baie klein slaan en daarvan voor die Getuienis in die tent van samekoms neersit waar Ek jou sal ontmoet; hoogheilig moet dit vir jou wees. En die reukmiddel wat jy maak, mag julle vir julle nie maak volgens die samestelling daarvan nie; dit moet vir julle heilig wees aan die HERE. Elkeen wat so iets maak om daaraan te ruik, moet uit sy volk uitgeroei word.