Eksodus 30

30
Altaar vir die reukwerk
1“ Jy moet 'n altaar maak vir die brand van reukwerk; van doringhout moet jy dit maak. 2Dit moet 'n el lank en 'n el breed wees. Dit moet vierkantig en twee el hoog wees. Die horings moet deel daarvan wees. 3Jy moet dit met suiwer goud oortrek – die bokant, die kante reg rondom en die horings daarvan. Jy moet daarvoor 'n goue rand maak, reg rondom. 4Twee goue ringe moet jy daarvoor maak, aan die twee sykante onder die rand. Jy moet dit aan weerskante maak, sodat dit kan dien as houers vir die draaghoute waarmee dit gedra word. 5Jy moet die draaghoute van doringhout maak en dit met goud oortrek. 6 Jy moet die altaar neersit voor die voorhangsel wat by die ark met die Getuienis is, voor die versoendeksel wat oor die Getuienis is, waar Ek jou sal ontmoet.
7“ Aäron moet die geurige reukwerk op die altaar laat brand. Elke oggend wanneer hy die lampe versorg, moet hy dit laat brand. 8As Aäron laatmiddag die lampe opsteek, moet hy dit as reukwerk voortdurend voor die Here laat brand. Dit geld ook vir julle nageslagte.
9“Julle mag nie vreemde reukwerk laat brand, 'n •brandoffer of 'n •graanoffer daarop bring nie. 'n •Drankoffer mag julle ook nie daarop uitgiet nie.
10“Aäron moet een keer per jaar op die horings daarvan versoening doen. Met die bloed van die •reinigingsoffer vir die versoening moet hy een keer per jaar daarop versoening doen. Dit geld ook vir julle nageslagte. Die altaar is besonder heilig vir die Here.
Losgeld by die tel van weerbare manne
11Die Here het met Moses gepraat en vir hom gesê: 12“Wanneer jy 'n hoofdelike telling hou van die Israeliete, van dié wat ingeskryf is, moet elkeen van hulle vir die Here losgeld vir sy lewe gee wanneer hulle getel word, sodat wanneer hulle getel word, daar geen plaag onder hulle sal uitbreek nie. 13Dit is wat elkeen moet gee wanneer hy getel is: 'n halwe sikkel volgens die standaardgewig van die heiligdom, – twintig gera is 'n sikkel. Die halwe sikkel is 'n •wydingsgeskenk aan die Here. 14Elkeen wat getel is, van twintig jaar en ouer, moet die Here se wydingsgeskenk gee. 15Rykes moet nie meer gee nie, en armes nie minder nie as die halwe sikkel wat gegee moet word as die Here se wydingsgeskenk om versoening te doen vir julle lewens. 16Jy moet die silwer vir die versoening van die Israeliete in ontvangs neem, en dit gebruik vir die dienswerk in die Tent van Ontmoeting. Dit sal vir die Israeliete dien as herinnering voor die Here om versoening te doen vir julle lewens.”
Bronswaskom
17Die Here het met Moses gepraat en vir hom gesê: 18“Jy moet 'n bronswaskom met sy bronsvoetstuk maak om uit af te spoel. Jy moet dit tussen die Tent van Ontmoeting en die altaar plaas. Jy moet water daarin gooi, 19 sodat Aäron en sy seuns hulle hande en hulle voete daaruit kan afspoel. 20Wanneer hulle in die Tent van Ontmoeting ingaan, moet hulle hulleself met water afspoel, sodat hulle nie sterf nie. Of wanneer hulle naby die altaar kom om dienswerk te doen, om 'n offergawe vir die Here te verbrand, 21moet hulle hulle hande en voete afspoel, sodat hulle nie sterf nie. Dit is 'n vaste reël wat altyd geld vir Aäron en sy nageslag, vir al hulle nageslagte.”
Salfolie
22Die Here het met Moses gepraat en vir hom gesê: 23“Neem jy self keurgraad speserye: 500 sikkel verpoeierde mirre, die helfte soveel geurige kaneel – dit is 250 sikkel – en 250 sikkel geurige riet, 24asook 500 sikkel kassia, volgens die standaardgewig in die heiligdom, met 'n hin olyfolie. 25 Jy moet daarvan heilige salfolie maak, met die kundigheid van 'n salfmenger – 'n besondere mengsel. Dit moet heilige salfolie wees. 26Jy moet daarmee die Tent van Ontmoeting en die ark met die Getuienis salf, 27asook die tafel en al sy toebehore, die menora en sy toebehore, die altaar vir die reukwerk, 28die brandofferaltaar met al sy toebehore en die waskom met sy voetstuk. 29 Jy moet dit heilig, dan sal dit besonder heilig wees; elkeen wat daaraan raak, sal heilig word.
30“ Ook Aäron en sy seuns moet jy salf en hulle heilig, sodat hulle vir My as priesters kan optree.
31“Met die Israeliete moet jy praat en vir hulle sê, ‘Dit moet my gewyde salfolie wees vir al julle nageslagte. 32Op die liggaam van 'n gewone mens mag dit nie uitgegiet word nie, en met dieselfde bestanddele mag julle nie iets soortgelyks maak nie. Dit is heilig, en dit moet vir julle heilig wees. 33 Iemand wat iets soortgelyks voorberei, of wat daarvan op 'n buitestander laat kom, sal van sy volk afgesny word. ’ ”
Reukwerk
34Die Here het vir Moses gesê: “Neem vir jou geurige stowwe: harpuis, skellak, vinkel, hierdie geurige stowwe, en suiwer wierook. Dit moet gelyke hoeveelhede wees. 35 Jy moet reukwerk daarvan maak, met sout by, suiwer en heilig – 'n mengsel gemaak met die kundigheid van 'n salfmenger. 36Jy moet daarvan fynstamp tot 'n poeier en daarvan voor die Getuienis in die Tent van Ontmoeting plaas, waar Ek jou sal ontmoet. Dit moet vir julle besonder heilig wees.
37“Die reukwerk wat jy moet maak, mag julle nie vir julleself maak van dieselfde bestanddele nie. Dit moet vir jou heilig aan die Here wees. 38Iemand wat iets soortgelyks maak om die geur te geniet, moet van sy volk afgesny word.”

Tans Gekies:

Eksodus 30: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid