EXODUS 30:11-38

EXODUS 30:11-38 AFR53

VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: As jy die volle getal van die kinders van Israel opneem volgens hulle geteldes, moet hulle, elkeen vir sy lewe, losgeld aan die HERE gee as hulle getel word, sodat geen plaag onder hulle mag wees as hulle getel word nie. Dit moet hulle gee, elkeen wat na die geteldes oorgaan: 'n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom — die sikkel is twintig gera — 'n halfsikkel as offergawe aan die HERE. Elkeen wat oorgaan na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, moet die offergawe van die HERE gee. Die ryke moet nie meer en die arme moet nie minder as 'n halfsikkel bring nie, as hulle die offergawe van die HERE gee om vir julle siele versoening te doen. Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in gedagtenis kan bring voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen. EN die HERE het met Moses gespreek en gesê: Jy moet ook 'n koperwaskom maak met sy kopervoetstuk, om in te was; en sit dit tussen die tent van samekoms en die altaar, en gooi water daarin, dat Aäron en sy seuns hulle hande en hulle voete daaruit kan was. As hulle in die tent van samekoms gaan, moet hulle hul met water was, sodat hulle nie sterwe nie; of as hulle naby die altaar kom om te dien deur 'n vuuroffer aan die HERE aan die brand te steek. Hulle moet dan hul hande en hulle voete was, sodat hulle nie sterwe nie. En dit moet vir hulle 'n ewige insetting wees, vir hom en sy nageslag in hulle geslagte. VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: En jý, neem vir jou van die beste speserye: vyfhonderd sikkels fyn mirre en die helfte soveel geurige kaneel, tweehonderd-en-vyftig sikkels, en tweehonderd-en-vyftig sikkels geurige kalmoes en vyfhonderd sikkels kassie, volgens die sikkel van die heiligdom, en 'n hin olyfolie; en maak daarvan heilige salfolie, 'n salfmengsel soos 'n salfmenger dit maak; heilige salfolie moet dit wees. Daarmee moet jy dan die tent van samekoms salf en die ark van die Getuienis en die tafel met al sy gereedskap en die kandelaar met sy gereedskap en die reukaltaar en die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die waskom met sy voetstuk. So moet jy hulle dan heilig, dat hulle hoogheilig kan wees. Elkeen wat aan hulle raak, word heilig. Jy moet ook Aäron en sy seuns salf en hulle heilig om vir My die priesteramp te bedien. En jy moet met die kinders van Israel spreek en sê: Dit moet vir My 'n heilige salfolie wees in julle geslagte. Op geen mens se liggaam mag dit uitgegiet word nie; julle mag ook, na dieselfde voorskrif, so iets nie maak nie: heilig is dit; heilig moet dit vir julle wees. Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan 'n onbevoegde laat kom, moet uit sy volksgenote uitgeroei word. Verder het die HERE vir Moses gesê: Neem vir jou speserye: storaksgom en naeltjies en gálbanum — speserye en ook suiwer wierook; alles in gelyke hoeveelhede, en maak daar reukwerk van, 'n mengsel soos die salfmenger dit maak, met sout gemeng, suiwer, heilig. En vrywe 'n gedeelte daarvan heeltemal fyn, en sit 'n deel daarvan neer voor die Getuienis in die tent van samekoms, waar Ek met jou sal saamkom; hoogheilig moet dit vir julle wees. En die reukwerk wat jy moet maak — na dieselfde voorskrif mag julle vir julle nie maak nie; as iets heiligs aan die HERE moet dit vir jou wees. Elkeen wat so iets maak om daaraan te ruik, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.

Video vir EXODUS 30:11-38