EKSODUS 2:23-25
EKSODUS 2:23-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Baie jare het verbygegaan. Daardie koning van Egipte is later dood. Die Israeliete het egter nog steeds gebuk gegaan onder slawewerk. Hulle het om hulp geroep. Hulle gesoebat om bevry te word van die harde werk het na God toe opgestyg. God het gehoor hoe hulle roep. Hy het onthou dat Hy ’n verbond met Abraham, Isak en Jakob gesluit het en gesien wat met die Israeliete gebeur. Hy was bekommerd oor hulle.
EKSODUS 2:23-25 Bybel vir almal (ABA)
Later het die koning van Egipte gesterf. Die Israeliete het nog altyd baie swaar gekry en hulle het soos slawe gewerk. Hulle het gebid en vir God gevra om hulle te help. God het gehoor die Israeliete kla en Hy het gedink aan die verbond wat Hy met Abraham, Isak en Jakob gemaak het. God was jammer vir die Israeliete.
EKSODUS 2:23-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken.
EKSODUS 2:23-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.
EKSODUS 2:23-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Gedurende hierdie lang tyd het die koning van Egipte gesterf. Die Israeliete het gesug onder die slawewerk en om hulp geroep. Hulle hulpgeroep oor die slawewerk het opgestyg na God. God het hulle gekreun gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. God het die Israeliete raakgesien, ja, God het kennis geneem.
EKSODUS 2:23-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die verloop van tyd het die koning van Egipte gesterwe, en die kinders van Israel het gesug vanweë die slawerny, en hulle het geween, en hulle geroep het tot God opgekom oor die slawerny. En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. En God het die kinders van Israel aangekyk, en God het hulle aanskou.
EKSODUS 2:23-25 Die Boodskap (DB)
Na ’n hele tyd is daardie koning van Egipte dood. Die Israeliete het nog al die tyd bly sug en kreun omdat hulle sulke harde werk moes doen. Hulle het so hard gekla dat die Here dit selfs in die hemel gehoor het. God het onthou dat Hy met Abraham, Isak en Jakob ’n ooreenkoms gehad het. Hy het gesien wat met die Israeliete gebeur. Hy het geweet hoe swaar hulle kry.