EFESIËRS 5:23-33
EFESIËRS 5:23-33 Bybel vir almal (ABA)
want die man is die hoof van sy vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Die kerk is Christus se liggaam en Hy het die kerk gered. Maar die kerk dien vir Christus, en so moet die vroue ook altyd hulle mans dien. Mans, julle moet lief wees vir julle vroue, soos Christus lief is vir die kerk. Christus het gesterf sodat die kerk kan lewe. Hy het gesterf sodat die kerk, die gelowiges, aan God kan behoort. Nou is hulle rein, want hulle is gedoop en Christus het gesê hulle behoort aan Hom. Christus het gesterf sodat die kerk sy bruid kan wees, 'n bruid wat baie mooi is. Christus wou hê die gelowiges moet niks sonde doen nie en hulle moet heeltemal reg lewe. Die mans moet so lief wees vir hulle vroue, so lief soos Christus vir die kerk is. Ja, die mans moet lief wees vir hulle vroue, so lief soos hulle vir hulleself is. As mans lief is vir hulle vroue, dan is hulle ook lief vir hulleself. Mense is altyd lief vir hulleself en hulle sorg goed vir hulle eie liggame. Christus sorg ook so vir sy liggaam, die kerk, en ons behoort almal aan die kerk, sy liggaam. In die Ou Testament is geskryf: Daarom sal 'n man weggaan van sy pa en sy ma en hy sal saam met sy vrou lewe. Hulle twee sal soos een mens wees. Dit is baie moeilik om te verstaan hoe 'n man en 'n vrou een kan wees. Ek sê dit is net so moeilik om te verstaan hoe Christus en die kerk een is. Ek sê weer, elke man moet lief wees vir sy vrou, so lief soos hy vir homself is. En elke vrou moet haar man respekteer.
EFESIËRS 5:23-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene. Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word. Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente. In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.
EFESIËRS 5:23-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees. Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief, want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is. Daar staan in die Skrif: “Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees.” Hierin lê daar 'n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk. Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en 'n vrou moet aan haar man eerbied betoon.
EFESIËRS 5:23-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
omdat die man die hoof is van die vrou, soos Christus ook hoof is van die •kerk; Hy is Verlosser van die liggaam. Maar soos die kerk onderdanig is aan Christus, so ook moet die vroue in alle opsigte aan hulle mans onderdanig wees. Mans, julle moet julle vroue liefhê, soos ook Christus die kerk liefgehad het en Homself ter wille van haar oorgegee het, sodat Hy haar kon heilig, deurdat Hy haar gereinig het deur die was met water en die woord. Dit het Hy gedoen, sodat Hy vir Homself die kerk in heerlikheid daar kan stel, sonder vlek of rimpel of enigiets dergeliks, heilig en sonder smet. Net so is die mans verplig om hulle eie vroue soos hulle eie liggame lief te hê. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief. Niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie; inteendeel, hy voed en koester dit, soos Christus sy •kerk. Ons is immers lede van sy liggaam. “Om hierdie rede sal 'n man sy vader en moeder verlaat, en hom aan sy vrou verbind – en hulle twee sal een vlees wees.” Hierdie geheimenis is groot; ek sê dit met verwysing na Christus en die kerk. Maar dit geld ook vir een en almal van julle: Laat elkeen sy eie vrou liefhê soos hy homself liefhet; en laat die vrou haar man eerbiedig.
EFESIËRS 5:23-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want die man is die hoof van die vrou, net soos Christus die Hoof van die gemeente is, en Hy is die Verlosser van die liggaam. Daarom, soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue in alles aan hulle eie mans wees. Mans, julle moet julle vrouens liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor gegee het; sodat Hy dit kan heilig en reinig met die waterbad deur die woord, sodat hy dit vir homself 'n heerlike gemeente kan stel, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek moet wees. So behoort mans hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggame. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief. Want niemand het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy gebeente. Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en by sy vrou aansluit, en hulle twee sal een vlees wees. Dit is 'n groot verborgenheid, maar ek spreek oor Christus en die gemeente. Maar laat elkeen van julle sy vrou so liefhê net soos homself; en die vrou sien dat sy haar man eerbiedig.
EFESIËRS 5:23-33 Die Boodskap (DB)
Die man moet die leiding oor sy vrou neem soos Christus die leiding in sy kerk neem. Hy het mos sy kerk uit die kloue van die sonde gered. Soos die kerk dus die leiding van Christus aanvaar, so moet die vrou ook haar man se leiding in alles aanvaar. Vir die man wil ek die volgende sê: Jy moet jou vrou liefhê; wees lojaal teenoor haar en kom jou verpligtings teenoor haar na soos Christus dit teenoor sy kerk doen. Hy het selfs sy lewe ter wille van die kerk gegee toe dit nodig was. Dit het Hy gedoen sodat die kerk net God s’n kan wees en daar niks in die kerk moet wees wat nie by God pas nie. Dit het gebeur deur die doop en die Woord. So sal die kerk in ongekende heerlikheid by Hom wees. Daar sal niks met die kerk verkeerd wees nie en niemand sal enige fout met die kerk kan vind nie. Die kerk sal net God s’n wees en net vir Hom daar wees. Die man behoort net so lief te wees vir sy vrou as wat hy vir homself is. Buitendien, die man wat sy vrou liefhet, het eintlik homself lief, want hulle is mos een in die huwelik. Ek het nog nie van iemand gehoor wat homself vurig haat nie. Nee, hy kyk liewer na homself en versorg homself mooi. Dit is wat Jesus met die kerk doen, want die kerk is vir Hom sy eie liggaam. Die Skrif sê mos: “’n Man moet sy pa en ma verlaat en met sy vrou gaan saamleef. Die twee sal soos een mens wees.” Mense kan hierdie dinge nie altyd mooi verstaan of verklaar nie. Ek noem dit omdat dit vir ons iets leer oor die sterk band wat daar tussen Christus en sy kerk is. Dit geld ook van julle: elke man moet sy vrou net so liefhê as wat hy homself het, en die vrou moet haar man respekteer.
EFESIËRS 5:23-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op dieselfde manier wat Christus hoof is van die kerk, is ’n man hoof van sy vrou. Christus het sulke hoofskap uitgeoefen toe Hy die kerk verlos het. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet julle, vroue, in alles elkeen aan julle eie man onderdanig wees. Mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het om só die kerk aan God toe te wy nadat Hy die kerk met die water en deur die woord gereinig het en sodat Hy die kerk in al sy skoonheid voor Hom kan stel, nie met enige vlek of plooi of enige ander onsierlikheid nie, maar aan God toegewy en onberispelik. Op dieselfde manier moet mans hulle eie vroue liefhê. Hulle moet hulle liefhê asof hulle hulle eie liggame is. ’n Man wat sy eie vrou liefhet, het dus eintlik homself lief. ’n Mens haat mos nie jou liggaam nie, maar voed en versorg dit. Christus maak net so met ons, die kerk, omdat ons ledemate van sy liggaam is. Daar staan mos: “’n Man sal weggaan van sy pa en ma en een word met sy vrou, en hulle twee sal een wees.” Dit is eintlik ’n diep geheim, en ek noem dit om die verhouding tussen Christus en die kerk te beskryf. Dit geld egter ook vir julle: Elkeen van julle moet sy eie vrou liefhê soos hy homself liefhet, en die vrou moet haar man respekteer.