PREDIKER 2:1-11

PREDIKER 2:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek het vir myself gesê: “Kom ek beproef plesier, en geniet die lewe!” Maar ook dit was sinloos! Ek het gesê: “Om te lag, is dwaasheid, en watter vreugde bring dit?” Ek het gewonder wat sal gebeur as ek my liggaam met wyn verkwik, terwyl my verstand my met wysheid begelei, as ek dwaasheid vir ’n tyd omarm tot ek vasgestel het wat die beste is waarmee ’n mens hom sy lewe lank onder die hemel besig kan hou. Ek het toe ook groot projekte aangepak. Ek het huise vir myself gebou en groot wingerde vir myself aangelê. Ek het vir myself tuine en parke uitgelê en verskillende vrugtebome daarin geplant. Ek het damme vir myself gebou om die tuine vol jong bome nat te lei. Ek het slawe en slavinne aangekoop. Ander is as slawe in my huis gebore. Ek het groot troppe beeste en kleinvee besit, meer as enigeen wat voor my in Jerusalem geleef het. Ek het baie silwer en goud vir myself bymekaargemaak, asook ’n skat van konings en provinsies. Ek het sangers en sangeresse aangestel, en die dinge bekom waarmee mense die lewe geniet, naamlik een meisie na die ander. Ek het ver uitgestyg bo almal voor my in Jerusalem, en my wysheid het my baie gehelp. Alles wat my oë begeer het, het ek my nie ontsê nie. Ek het my nie teruggehou van enige plesier nie. Ek het genot gevind in my harde werk. Dit was my beloning vir al my inspanning. Ek het daarna egter nagedink oor alles wat ek bereik het, oor al die moeite wat ek gedoen het. Ek het besef hoe sinloos dit alles is. Dis niks anders as ’n gejaag na wind nie. Daar is geen voordeel onder die son nie.

PREDIKER 2:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Ek het toe gedink: Ek sal myself toets. Ek sal vrolik wees en die lewe geniet. Ek het dit gedoen, maar toe was dit ook nie soos dit moet wees nie. Ek het gedink dit is dom om altyd te lag. Wat help dit om vrolik te wees? Niks. Toe het ek gedink dat ek moet kyk wat gebeur wanneer ek baie wyn drink en probeer om 'n dwaas te wees. Ek wou probeer om 'n dwaas te wees, maar ek wou nie my wysheid verloor nie. Ek wou uitvind wat goed is vir mense en wat hulle moet doen terwyl hulle lewe in hierdie wêreld. Ek het groot dinge gedoen. Ek het vir my huise gebou en wingerde geplant, ek het tuine en parke gemaak en ek het al die soorte vrugtebome daarin geplant, ek het damme gemaak om water te gee vir die baie jong bome, ek het slawe en slavinne gekoop, en my slawe het kinders gekry, ek het meer skape en bokke gehad as almal wat voor my in Jerusalem regeer het. Ek het silwer en goud bymekaargemaak en ook die goed wat ander konings en die distrikshoofde vir my gegee het. Ek het mans en vroue gekry wat vir my sing, ek het alles gekry wat 'n mens kan geniet, ook byvroue. Ek het belangriker geword as almal wat voor my oor Jerusalem regeer het, en ek het ook nie my wysheid verloor nie. Ek het alles gekry wat ek wou hê, ek het alles geniet wat ek wou geniet, want alles wat ek gedoen het, was vir my lekker. Ek kon alles geniet wat ek gedoen het, dít was die beloning wat ek gekry het vir al my werk. Maar toe dink ek oor alles wat ek gedoen het, ek het gedink oor al my harde werk, en wat het ek toe uitgevind? Ek het uitgevind dat niks is wat dit moet wees nie, ek het wind gejaag. Jy kan nie wen in hierdie wêreld nie.

PREDIKER 2:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EK het in my hart gesê: Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit was tevergeefs. Van die lag het ek gesê: Dit is onsinnig! en van die vreugde: Wat verskaf dit? Ek het in my hart daaroor nagedink om my liggaam met wyn te verkwik — terwyl my hart my met wysheid sou lei — en om aan die dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir die mensekinders, wat hulle moet doen onder die hemel gedurende die getal van hulle lewensdae. Ek het groot werke onderneem: ek het vir my huise gebou, ek het vir my wingerde geplant. Ek het vir my tuine en parke aangelê en daar allerhande vrugtebome in geplant. Ek het vir my damme gemaak om daaruit 'n bos met jong bome te besproei. Ek het slawe en slavinne gekoop en ook dié verkry wat in my huis gebore is; ek het ook 'n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor my in Jerusalem gewees het. Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en 'n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte. En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem gewees het; ook het my wysheid by my gebly. En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid. Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het — en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.

PREDIKER 2:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek het by myself gedink: laat ek my oorgee aan plesier, laat ek die lewe geniet! Maar ook dit het niks opgelewer nie. Van lag moes ek sê: dis sinloos, en van plesier: wat bring dit? Ek het gewonder wat sal gebeur as ek my aan wyn oorgee maar tog nog op soek bly na wysheid, as ek soos 'n dwaas leef totdat ek vasgestel het wat die beste is waarmee 'n mens hom sy lewe lank in hierdie wêreld besig kan hou. Ek het groot ondernemings aangepak: ek het vir my huise gebou en wingerde geplant. Ek het vir my tuine en parke aangelê en allerhande soorte vrugtebome daarin geplant. Ek het vir my damme gemaak om die lappe jong bome nat te lei. Ek het slawe en slavinne aangeskaf, en hulle het kinders gekry wat ook my slawe was. Ek het baie beeste en kleinvee gehad, meer as almal voor my in Jerusalem. Ek het vir my silwer en goud opgegaar wat ek gekry het van konings en provinsies. Ek het vir my sangers en sangeresse gewerf, talle mooi meisies met wie ek die lewe kon geniet. Ek was magtiger en ryker as almal voor my in Jerusalem. My wysheid het my goed te pas gekom. Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het my geen plesier ontsê nie. Alles waarmee ek my besig gehou het, het my plesier verskaf. Dit was my beloning vir al my inspanning. Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, 'n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie.

PREDIKER 2:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ek het in my hart gesê: Kom, ek laat jou plesier uittoets. Geniet wat goed is! Maar kyk, ook dit was sinloos. Om te lag, het ek gesê, is onsinnig, en oor plesier, wat lewer dit op? Ek het dit ernstig oorweeg om my liggaam met wyn op te beur, terwyl my hart my met wysheid lei, en om aan dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir mense, wat hulle onder die hemel moet doen gedurende hulle min lewensdae. Ek het groot ondernemings aangepak: Ek het vir my huise gebou; ek het vir my wingerde geplant. Ek het vir my tuine en parke aangelê, en allerhande soorte vrugtebome daarin geplant. Ek het vir my damme gemaak om 'n bos jong bome daaruit nat te lei. Ek het slawe en slavinne gekoop, en slawekinders wat in my huis gebore is, was ook deel van my besittings. Ek het meer beeste en kleinvee gehad as almal wat voor my in Jerusalem was. Ek het ook vir my silwer en goud, die privaatbesit van konings, en provinsies, bymekaargemaak. Ek het vir my sangers en sangeresse aangeskaf, en die genot van mensekinders: baie byvroue! So het ek baie belangriker geword as enigiemand wat voor my in Jerusalem was; boonop het ek my wysheid steeds behou. Wat my oë ook al begeer het, het ek hulle nie ontsê nie. Ek het my hart nie weerhou van enige plesier nie. Ja, my hart het vreugde geput uit al my inspanning. Dit was my beloning vir al my inspanning. Maar ek het nagedink oor al die werk wat my hande verrig het, en die inspanning waarmee ek my afgesloof het om dit tot stand te bring. En kyk, alles was sinloos en 'n gejaag na wind. Dit het geen voordeel ingehou onder die son nie.

PREDIKER 2:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek het in my hart gesê: Gaan nou, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet daarom plesier; en kyk, dit is ook nietigheid. Van die lag het ek gesê: Dit is mal, en van vrolikheid: Wat doen dit? Ek het in my hart gesoek om myself aan wyn te gee, maar ek het my hart met wysheid vergewis; en om die dwaasheid aan te gryp totdat ek sou sien wat daardie goed was vir die mensekinders wat hulle onder die hemel sou doen al die dae van hulle lewe. Ek het vir my groot werke gemaak; Ek het vir my huise gebou; Ek het vir my wingerde geplant: Ek het vir my tuine en boorde gemaak, en ek het bome van allerhande vrugte daarin geplant. Ek het vir my waterpoele gemaak om die hout wat bome voortbring, daarmee nat te maak. Ek het vir my diensknegte en diensmeisies gekry, en diensknegte het in my huis gebore; Ek het ook groot besittings gehad van groot en klein vee bo alles wat voor my in Jerusalem was. Ek het vir my ook silwer en goud bymekaargemaak, en die besondere skat van konings en van die provinsies: ek het vir my sangers en sangeresse en die genot van die mensekinders, as musiekinstrumente en allerhande soorte. So was ek groot en het ek meer geword as almal wat voor my in Jerusalem was; ook het my wysheid by my gebly. En wat my oë ook al begeer het, het ek van hulle nie gehou nie, ek het my hart van geen blydskap teruggehou nie; want my hart was bly oor al my arbeid, en dit was my deel van al my arbeid. Toe het ek gekyk na al die werke wat my hande verrig het en na die arbeid waarmee ek gewerk het