PREDIKER 2:1-11

PREDIKER 2:1-11 AFR53

EK het in my hart gesê: Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit was tevergeefs. Van die lag het ek gesê: Dit is onsinnig! en van die vreugde: Wat verskaf dit? Ek het in my hart daaroor nagedink om my liggaam met wyn te verkwik — terwyl my hart my met wysheid sou lei — en om aan die dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir die mensekinders, wat hulle moet doen onder die hemel gedurende die getal van hulle lewensdae. Ek het groot werke onderneem: ek het vir my huise gebou, ek het vir my wingerde geplant. Ek het vir my tuine en parke aangelê en daar allerhande vrugtebome in geplant. Ek het vir my damme gemaak om daaruit 'n bos met jong bome te besproei. Ek het slawe en slavinne gekoop en ook dié verkry wat in my huis gebore is; ek het ook 'n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor my in Jerusalem gewees het. Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en 'n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte. En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem gewees het; ook het my wysheid by my gebly. En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid. Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het — en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor PREDIKER 2:1-11