Prediker 2
2
Jy kan nie wen in hierdie wêreld nie
1Ek het toe gedink: Ek sal myself toets. Ek sal vrolik wees en die lewe geniet. Ek het dit gedoen, maar toe was dit ook nie soos dit moet wees nie. 2Ek het gedink dit is dom om altyd te lag. Wat help dit om vrolik te wees? Niks. 3Toe het ek gedink dat ek moet kyk wat gebeur wanneer ek baie wyn drink en probeer om 'n dwaas te wees. Ek wou probeer om 'n dwaas te wees, maar ek wou nie my wysheid verloor nie. Ek wou uitvind wat goed is vir mense en wat hulle moet doen terwyl hulle lewe in hierdie wêreld. 4Ek het groot dinge gedoen. Ek het vir my huise gebou en wingerde geplant, 5ek het tuine en parke gemaak en ek het al die soorte vrugtebome daarin geplant, 6ek het damme gemaak om water te gee vir die baie jong bome, 7ek het slawe en slavinne gekoop, en my slawe het kinders gekry, ek het meer skape en bokke gehad as almal wat voor my in Jerusalem regeer het. 8Ek het silwer en goud bymekaargemaak en ook die goed wat ander konings en die distrikshoofde vir my gegee het. Ek het mans en vroue gekry wat vir my sing, ek het alles gekry wat 'n mens kan geniet, ook byvroue. 9Ek het belangriker geword as almal wat voor my oor Jerusalem regeer het, en ek het ook nie my wysheid verloor nie. 10Ek het alles gekry wat ek wou hê, ek het alles geniet wat ek wou geniet, want alles wat ek gedoen het, was vir my lekker. Ek kon alles geniet wat ek gedoen het, dít was die beloning wat ek gekry het vir al my werk. 11Maar toe dink ek oor alles wat ek gedoen het, ek het gedink oor al my harde werk, en wat het ek toe uitgevind? Ek het uitgevind dat niks is wat dit moet wees nie, ek het wind gejaag. Jy kan nie wen in hierdie wêreld nie.
'n Wyse mens sterf ook soos 'n dwaas
12Ek het gedink ek wil uitvind hoe dit is om wysheid te hê en hoe dit is om 'n dwaas te wees. Ek wou weet of die persoon wat ná my koning sal word, iets sal kan doen wat ek nie gedoen het nie. 13Ek het uitgevind dat dit beter is om wysheid te hê as om 'n dwaas te wees, dit is dieselfde soos lig wat beter is as donker. 14As iemand wysheid het, dan sien hy wat rondom hom gebeur. 'n Dwaas is soos iemand wat in die donker lewe. Maar ek het hierdie les geleer: Die dinge wat met een mens gebeur, gebeur met almal. 15Ek het vir myself gesê: Die dinge wat met 'n dwaas gebeur, sal ook met my gebeur. Het al my wysheid vir my gehelp? Nee. En ek het gedink dit is ook nie soos dit moet wees nie, 16want die mense sal nie 'n dwaas lank onthou nie, maar hulle sal ook nie 'n wyse mens lank onthou nie. Hulle vergeet hom gou in die tyd wat later kom. Dwase mense sterf, en wyse mense sterf ook. 17Daarom het ek begin om die lewe te haat. Die dinge wat mense in hierdie wêreld doen, het vir my verkeerd gelyk, want niks is soos dit moet wees nie. Mense jaag wind.
Niemand kan eet en geniet as God dit nie laat gebeur nie
18Ek het ook begin om al my harde werk in hierdie wêreld te haat, want iemand wat ná my lewe, sal alles kry waarvoor ek hard gewerk het. 19En niemand weet of daardie persoon 'n wyse mens of 'n dwaas sal wees nie. Maar hy sal kan doen wat hy wil met alles waarvoor ek met wysheid hard gewerk het in hierdie wêreld. Ook dít is nie soos dit moet wees nie. 20Ek het moedeloos geword toe ek dink aan al die harde werk wat ek in hierdie wêreld gedoen het. 21Want iemand werk hard en hy gebruik sy wysheid, hy weet wat hy doen en hy doen dit goed, maar dan moet hy sy goed los vir 'n persoon wat nie hard gewerk het nie. Ook dít is nie soos dit moet wees nie, dit is baie verkeerd. 22Wat kry 'n mens vir al sy harde werk in hierdie wêreld? Wat kry hy vir alles wat hy wou doen? 23So 'n mens het elke dag pyn, hy geniet niks wat hy doen nie, hy rus ook nie in die nag nie. Ook dít is nie soos dit moet wees nie. 24Die beste wat 'n mens kan doen, is dat hy kan eet en drink en dinge kan geniet waarvoor hy hard gewerk het. Ek het gesien dat dit iets is wat God vir 'n mens gee. 25Niemand kan eet en geniet as God dit nie laat gebeur nie. 26God gee wysheid vir die mense van wie Hy hou. Hy leer vir hulle wat om te doen en Hy laat hulle die lewe geniet. Maar God gee vir die sondaars die werk om goed bymekaar te maak, en dan gee God daardie goed vir die mense van wie Hy hou. Ook dít is nie soos dit moet wees nie. Mense jaag wind.
Tans Gekies:
Prediker 2: ABA
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.