AMOS 4:4-13

AMOS 4:4-13 Bybel vir almal (ABA)

“Mense van Israel, julle moet na die stad Bet-El kom as julle sonde wil doen, julle moet na die stad Gilgal kom as julle nog meer sonde wil doen! Bring elke oggend julle offers, bring julle tiendes elke derde dag. Brand dank-offers, brand brood met suurdeeg in. Vertel vir almal van julle vrywillige offers. Julle Israeliete hou daarvan om te spog.” Dit sê die Here. “Ek het julle honger laat bly oral waar julle woon. Maar julle het nie teruggekom na My toe nie.” Dit sê die Here. “Ek het die reën weggehou toe die koring nog nie ryp was nie. Ek het dit op een stad laat reën, en op 'n ander stad het Ek dit nie laat reën nie. Dit het gereën op een stuk land, en 'n ander stuk land het nie reën gekry nie, dit het droog geword. Die mense van twee of drie stede het na 'n ander stad gekruip om water te soek, maar hulle het nie genoeg water gekry nie. Maar julle het nie teruggekom na My toe nie.” Dit sê die Here. “Ek het julle koring-are laat verdroog, en die plantluise het dit opgevreet. Die sprinkane het baie maal al die blare in julle tuine en wingerde opgevreet, ook al die blare van julle vyebome en olyfbome. Maar julle het nie teruggekom na My toe nie,” sê die Here. “Ek het julle siek gemaak, en julle het doodgegaan soos die Egiptenaars. Ek het julle jongmanne in die oorlog laat sterf, en die vyande het julle perde gevat. Julle het geruik dat die dooie liggame stink in julle kamp. Maar julle het nie teruggekom na My toe nie,” sê die Here. “Ek het julle doodgemaak soos Ek die mense van Sodom en Gomorra doodgemaak het. Julle was soos 'n stuk vuurmaak-hout wat Ek uit die vuur gehaal het. Maar julle het nie teruggekom na My toe nie,” sê die Here. “Daarom, mense van Israel, sal Ek nou weer so met julle maak. En omdat Ek dit met julle sal doen, maak nou gereed om julle God te ontmoet.” Dit is Hy wat die berge en die wind gemaak het, Hy wat vir mense sê wat Hy wil doen, Hy wat dit donker maak wanneer dit al lig moet word, Hy wat oor die hoogste berg van die aarde loop. Sy Naam is die Here, God wat oor alles regeer.

AMOS 4:4-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Kom na Bet-el, en sondig! Na Gilgal, sondig nog meer! En bring julle slagoffers in die môre en julle tiendes al om die derde dag. En laat van wat gesuurd is, 'n lofoffer rook, en roep vrywillige offers uit, laat dit hoor! Want so is dit na julle sin, kinders van Israel, spreek die Here HERE. Alhoewel Ék julle reinheid van tande gegee het in al julle stede en broodsgebrek in al julle woonplekke — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE. Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het; en twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE. Ek het julle met brandkoring en met heuningdou swaar getref, baie van julle tuine en julle wingerde en julle vyebome en julle olyfbome het die sprinkaan verslind — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE. Ek het die pes onder julle gestuur, op die manier van Egipte; Ek het julle jongmanne met die swaard gedood saam met die wegvoering van julle perde; en Ek het die stank van julle laer laat opstyg, ja, tot in julle neus — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE. Ek het julle omgekeer soos God Sodom en Gomorra omgekeer het, sodat julle soos 'n stuk brandhout was wat uit die vuur geruk is — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE. Daarom sal Ek só met jou handel, o Israel; omdat Ek só met jou sal handel — maak jou klaar om jou God te ontmoet, o Israel! Want kyk, Hy wat die berge formeer en die wind skep en aan die mens sy gedagte bekend maak, wat die dageraad duisternis maak, wat op die hoogtes van die aarde wandel, HERE, God van die leërskare, is sy Naam!

AMOS 4:4-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Kom na Bet-El toe as julle wil sonde doen, na Gilgal toe as julle nog meer sonde wil doen. Bring julle offers vroegmôre, julle tiendes op die derde dag. Verbrand die ongesuurde brood as dankoffer, kondig julle vrywillige offers aan, laat die mense dit hoor. So hou julle mos daarvan, Israeliete, sê die Here my God. Ek het hongersnood in al julle stede laat kom, broodsgebrek in al julle dorpe, maar julle het julle nie tot My bekeer nie, sê die Here. Ek het die reën drie maande voor oestyd van julle af weggehou; Ek het laat reën oor een stad en oor 'n ander die reën laat wegbly; die een stuk grond het goed reën gekry en die ander waar dit nie gereën het nie, het uitgedroog. Twee, selfs drie stede se mense het hulle na 'n stad toe aangesleep om water te kry, sonder om hulle dors te les, en tog het julle julle nie tot My bekeer nie, sê die Here. Ek het julle gestraf met brandkoring en met heuningdou, Ek het julle tuine en wingerde laat verdroog, sprinkane het julle vyebome en julle olyfbome kaalgevreet, en tog het julle julle nie tot My bekeer nie, sê die Here. Ek het plae soos dié van Egipte na julle toe gestuur; Ek het julle jongmans en hulle spogperde met die swaard doodgemaak; Ek het die stank van julle laer in julle neuse laat opwalm, en tog het julle julle nie tot My bekeer nie, sê die Here. Ek het julle stede verwoes soos Ek Sodom en Gomorra geheel en al verwoes het, julle het soos 'n stuk hout geword wat uit die vuur uit geruk is, en tog het julle julle nie tot My bekeer nie, sê die Here. Daarom sal Ek dit alles weer aan jou doen, Israel! En omdat Ek jou dít sal aandoen, Israel, maak jou klaar om voor jou God te kom verskyn! Jy moet besef: Hy wat berge vorm en die wind skep, Hy wat sy gedagtes aan die mens bekend maak, Hy wat die dagbreek donker maak, Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan, sy Naam is Here, almagtige God!

AMOS 4:4-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ Kom na Bet-El en oortree, na Gilgal en oortree nog meer. Bring julle offers soggens, en elke derde dag julle tiendes. Offer 'n •dankoffer van dit wat met suurdeeg gebak is. Kondig julle vrywillige offers aan, maak dit bekend; want so hou julle daarvan, Israeliete.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE. “Selfs toe Ek julle met leë monde gelaat het in al julle stede, met broodgebrek in al julle woonplekke, het julle nie na My teruggekeer nie,” is die uitspraak van die HERE. “ Selfs toe Ek die reën van julle weggehou het, reeds drie maande voor die oestyd, en Ek oor een dorp laat reën het en oor 'n ander dorp nie laat reën het nie, toe een stuk grond reën gekry het, en die ander stuk grond waarop Ek nie laat reën het nie, verdroog het; toe twee, drie dorpe na een dorp geslinger het om water te drink, maar hulle dors nie kon les nie; het julle nie na My teruggekeer nie,” is die uitspraak van die HERE. “Ek het julle met skroeisiekte en witroes getref. Baie van julle tuine en wingerde, julle vyebome en olyfbome, het die ruspes kaal gevreet, maar julle het nie na My teruggekeer nie,” is die uitspraak van die HERE. “Ek het pessiektes onder julle losgelaat soos in Egipte; Ek het julle jong manne met die swaard omgebring, saam met julle buitgemaakte perde. Ek het die stank van julle leërmag in julle neusgate laat opslaan, maar julle het nie na My teruggekeer nie,” is die uitspraak van die HERE. “Ek het by julle verwoesting aangerig soos God se verwoesting van Sodom en Gomorra. Julle het geword soos 'n stuk hout wat uit vlamme gepluk is; maar julle het nie na My teruggekeer nie,” is die uitspraak van die HERE. “Daarom gaan Ek die volgende aan jou doen, Israel; en omdat Ek dit aan jou gaan doen – wees gereed om jou God te ontmoet, Israel!” Ja, kyk, Hy wat die berge vorm en die wind skep, wat aan 'n mens sy beplanning bekend maak, wat die dagbreek duisternis maak, wat trap op die hoogtes van die aarde, die HERE, die God wat Heerser is oor alle magte, is sy Naam!

AMOS 4:4-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Kom na Bet-el en oortree; by Gilgal vermeerder die oortreding; en bring elke môre julle slagoffers en julle tiendes na drie jaar. En offer 'n dankoffer met suurdeeg, en verkondig en verkondig die vrye-offers; want so is julle, o kinders van Israel, spreek die HERE HERE. En Ek het ook vir julle reinheid van tande gegee in al julle stede en gebrek aan brood in al julle plekke; tog het julle julle tot My nie bekeer nie, spreek die HERE. En Ek het ook die reën van julle teruggehou toe daar nog drie maande tot die oes was, en Ek het dit op een stad laat reën en nie op 'n ander stad laat reën nie: een stuk het gereën en die stuk waarop dit het gereën nie verdor nie. So het twee of drie stede na een stad gedwaal om water te drink; maar hulle was nie versadig nie; tog het julle julle tot My nie bekeer nie, spreek die HERE. Ek het julle geslaan met brandkoring en muf; toe julle tuine en julle wingerde en julle vyebome en julle olyfbome vermeerder het, het die palmwurm hulle verteer; tog het julle julle tot My nie bekeer nie, spreek die HERE. Ek het die pes onder julle gestuur volgens die manier van Egipte; en Ek het die stank van julle laers tot by julle neus laat opkom; tog het julle julle tot My nie bekeer nie, spreek die HERE. Ek het sommige van julle omvergewerp soos God Sodom en Gomorra omvergewerp het, en julle was soos 'n brander wat uit die brand geruk is; maar julle het julle tot My nie bekeer nie, spreek die HERE. Daarom sal Ek so met jou doen, o Israel; en omdat Ek dit aan jou sal doen, maak gereed om jou God te ontmoet, o Israel. Want kyk, Hy wat die berge vorm en die wind skep en aan die mens verkondig wat sy gedagte is, wat die môre duister maak en die hoogtes van die aarde betree, die HERE, die God van die leërskare, is Sy Naam.

AMOS 4:4-13 Die Boodskap (DB)

“Kom na die plek van aanbidding by Bet-El dat julle daar ’n bietjie sonde kan doen! Kom na die altaar by Gilgal dat julle nog meer verkeerde dinge kan doen! Kom offer elke môre julle offers! Moenie vergeet om elke derde dag julle tiendes vir God te bring nie! “Kom bring maar verkeerde offers wat suurdeeg in het. Spog maar oor die offers wat julle uit julle eie vir die Here bring. Julle Israeliete is mos lief daarvoor om so met julle godsdiens te spog,” sê die Here. “In al julle dorpe het Ek gemaak dat daar nie kos is om te eet nie. Ek het gesorg dat daar in al julle blyplekke niks brood is om te eet nie. Maar nogtans het julle nie daaraan gedink om terug te kom en by My kos te kom vra nie,” sê die Here. “Drie maande voor die oes het Ek die reën laat wegbly. Ek het dit by die een dorp laat reën en glad nie by die volgende dorp nie. Die een stuk grond het mooi reën gekry. Die ander een het uitgedroog, omdat dit glad nie daar gereën het nie. Twee-twee en drie-drie het mense van dorp tot dorp gekruip om water te kry. Daar was nie water vir hulle dors nie. Hulle het dors gebly. En al het dit alles gebeur, het julle nie daaraan gedink om na My toe terug te kom en by My water te vra nie,” sê die Here. “Ek het ’n verskriklike warm wind oor julle tuine laat waai. Ek het siektes in julle druiwe laat kom. Sprinkane het julle vyebome en olyfbome kaalgevreet. Ten spyte van dit alles het julle nie na My toe gekom en My gevra om julle te help nie,” sê die Here. “Ek het rampe oor julle laat kom soos daar destyds in Egipte rampe gekom het. Ek het julle jong soldate wat op perde veg, in die oorlog laat omkom. Daar in die kamp het die stank van die goed wat dood was, dit vir julle ondraaglik gemaak. Maar julle het nie eens daaraan gedink om na My toe terug te kom nie,” sê die Here. “Ek het julle dorpe verwoes, soos Ek Sodom en Gomorra van die aarde afgevee het. Party kon nog betyds wegkom, soos ’n stuk hout wat jy betyds uit die vuur uitruk voordat dit heeltemal verbrand. “En al het dit alles gebeur, het julle nie ’n oomblik daaraan gedink om My te kom vra om julle te help nie,” sê die Here. “Omdat jy jou nie aan My wou steur nie, Israel, moet jy jou regmaak om te hoor wat God oor jou besluit het. Die Here het die berge en die wind gemaak. Hy kan vir mense sê wat Hy wil hê. Hy kan die vroeë lig van die môre net so in donker verander. Hy kan groot treë gee bo-oor die bergtoppe van die wêreld. Sy Naam is: ‘Die Here, die God wat sterker is as enigiets of enigiemand.’”

AMOS 4:4-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Kom na Bet-El en oortree daar teen God. Gaan na Gilgal en doen nog meer kwaad. Bring julle offers in die môre, gee elke derde dag julle tiendes. Bring maar julle dankoffer van suurdeegbrood. Spog gerus openlik met julle vrywillige offers! Julle Israeliete hou mos daarvan om dit te doen! Dit is wat die oppermagtige HERE sê! “Honger en hongersnood het Ek in elke dorp gebring. Nogtans het julle nie na My toe teruggekeer nie. “Ek het gesorg dat dit nie reën wanneer julle dit die nodigste het nie. Ek het vir een dorp reën gegee, en dit van ’n ander weerhou. Een stuk grond het reën gekry, ’n ander een het uitgedroog. Mense van twee of drie dorpe het na ’n stad toe gesteier om water te drink, maar sonder sukses. Nogtans het julle nie na My teruggekeer nie.” Dit is wat die HERE sê. “Ek het julle tuine verskroei en julle wingerde met roes getref. Julle vyebome en olyfbome het die sprinkane afgevreet. Nogtans,” sê die HERE, “het julle nie na My toe teruggekeer nie. “Ek het plae oor julle laat kom soos destyds oor Egipte. Ek het julle jong mans in die oorlog laat sterf en julle perde afgemaai. Die reuk van dood het oor julle gehang. Nogtans,” sê die HERE, “het julle nie teruggekeer na My toe nie. “Ek het julle dorpe verwoes soos Ek Sodom en Gomorra verwoes het. Dié wat oorleef het, was soos ’n stuk hout wat uit ’n vuur gepluk is. Nogtans wou julle steeds nie na My toe terugkeer nie.” Dit is wat die HERE sê. “Daarom, Israel, sal Ek al hierdie dinge wat Ek gesê het met jou laat gebeur. Staal jou, Israel, om jou God te ontmoet!” Weet dit: Hy is die Een wat die berge vorm, die wind skep, en sy gedagtes aan mense bekendmaak. Hy verander die oggendlig in donkerte. Hy loop op die bergtoppe van die aarde. Sy Naam is: Die HERE God, die Almagtige!